Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Maart 2021

Die Groot Trek (terug na Kaapse Onafhanklikheid) 

Verslag oor "Afrikanerbond in dialoog webinaar met dr Corné Mulder"

 

Heel dikwels word inisiatiewe in verskillende dele van die land en ook in gespreksgroepe onder die aandag van die Afrikanerbond gebring. Inisiatiewe kan insluit kwessies rondom selfbestuur maar dan is daar ook kwessies soos sesessie of afstigting wat deur sekere groepe geïnisieer word.

 

Die Nasionale Raad van die Afrikanerbond het dit goedgedink om ons lede blootstelling te gee en ingelig deel te neem. Die Afrikanerbond besprekingsdokument wat in Januarie 2020 gesirkuleer is ontleed op ʼn praktiese wyse die haalbaarheid van sommige inisiatiewe sinvol ontleed en ook heelwat praktiese voorstelle maak in die soeke na oplossings vir die politieke oorlewing van Afrikaner wat in verskillende vorme van outonomie uiting vind. Lees gerus prof Deon Geldenhuys se besondere analise van outonomie. 

 

Met bogenoemde as agtergrond het die Afrikanerbond vir Dr Corné Mulder, lid van die Parlement as Vryheidsfront Plus verteenwoordiger genooi om op Woensdag 24 Februarie 2021 te praat oor die tema: “Moontlike alternatiewe vir Suid-Afrika met spesifieke verwysing na Kaapse onafhanklikheid”  omdat die kwessie in die onlangse verlede gereeld in verskillende media gedebatteer word.

 

Dr Mulder het ter inleiding gesê dat die ‘Republiek van Suid-Afrika se grense getrek is volgens die Uniale grense van 1910 en dit het ʼn werklikheid vir Suid-Afrika geskep met spesifieke grense. Na Uniewording is Suid-Afrika deur verskeie staatkundige prosesse met die 1996 grondwet wat die hedendaagse werklikheid geskep het.”

 

Ter aanvang het dr Mulder verwys na ʼn advertensie van die Grondwetskrywende Vergadering wat in 1995 in die media geplaas is:

"Suid-Afrika: 20 miljoen vroue; 18 miljoen mans; 8 godsdienste; 25 kerkgroepe; 31 kulturele groepe; 14 tale; 9 rassegroepe; 1 land. ”

Dit is ʼn bevestiging van die baie verskillende identiteite in een land wat inderdaad ‘n baie diverse samelewing skep.

 

Vandag se regstaat waarin ʼn grondwet in stand gehou moet word, laat nog steeds toe dat die ANC met vergrype kon kom wat nooit behoorlik aangespreek kon word nie. Alhoewel ons ʼn goeie grondwet het, is dit nie die beste grondwet nie. Die gemiddelde leeftyd van ʼn grondwet is 17 jaar. ʼn Grondwet kom in die moeilikheid as dit nie meer spreek tot die harte en verstand van mense nie. Ons verskille is te groot en te veel van ʼn verskeidenheid om deur ʼn sentralistiese eenheidstaat hanteer te word. Hieroor is verskeie meningsvormers dit eens.

 

Daar is verskillende vorme van selfbeskikking met onafhanklikheid as die hoogste vorm van selfbeskikking. Mense is reeds besig om sekere funksies oor te neem met verwysing na Solidariteit se ankerdorpe waarin gemeenskappe reeds ʼn vorm van selfbeskikking uitoefen. Minderhede kan ook van dieselfde meganismes gebruik maak.

 

Wat Kaapse onafhanklikheid en die gedagtes daaromheen aanbetref het dr Mulder gesê dit is ʼn debat waarin verskeie meningsvormers reeds verskillende standpunte gehuldig het en ʼn groot aantal organisasies betrek wat spesifiek gemoeid is met Kaapse onafhanklikheid. Hiervan is die mees prominent CapeXit wat reeds meer as 730 000 lede het waar dit in 2020 net 7 000 lede gehad het . Ondersteuning vir die gedagte het dus toegeneem.

 

Inperking het ʼn groot rol gespeel maar daar is ook ander redes volgens dr Mulder:

  • Die Wes-Kaap is ideologies merkbaar anders as die res van Suid-Afrika
  • Die ANC kon nooit ʼn volstrekte meerderheid in 27 jaar op nasionale vlak in die provinsie kry nie 
  • Mense in die Wes-Kaap ondersteun partye wat ʼn vryemarkstelsel najaag en verwerp deurlopend die ANC en EFF beleidsrigtings.
  • Die Wes-Kaap produseer 13,9% van die bruto nasionale produk.
  • Die Wes-Kaap kan ekonomies selfstandig wees

 

Wat selfbeskikking aanbetref moet daar gekyk word na internasionale voorbeelde maar selfs ook in Afrika kan ons kyk na Ethiopië waar daar erkenning is van verskillende etniese groepe wat bestaan uit taal en kultuurgroepe. Die grondwet verleen die reg tot sesessie vir etniese groepe en sit ʼn proses uiteen waarvolgens dit kan plaasvind.

 

Daar is wel kritiek op die Kaapse onafhanklikheid gedagte wat soos volg saamgevat kan word.

“Dat dit grondwetlik onwaarskynlik is; dat dit ‘n onmoontlike ideaal is, ‘n  Eenheidstaat is die toekoms, dit is nie haalbaar nie, die mense sal dit nie steun nie; die Wes-Kaap (Kaap) behoort aan almal; dit is eenvoudig net onmoontlik; die ANC moet JA sê en ons is onderworpe aan magspolitiek maw die ANC is in beheer en sal dit nie toelaat nie.”

 

Dr Mulder is van mening dat die bogenoemde kritiek ontmagtigende argumente en kritiek is want hiermee onderwerp ons onself aan die ANC en werk ons nie daaraan om ons eie toekoms te bepaal nie. Daar is metodes en ons moet op ʼn positiewe wyse ons eie werklikheid skep.

 

Die realiteit is dat daar groeiende ontnugtering is wat voortspruit uit ʼn billike geleentheid wat die huidige bedeling gegun is. Na 27 jaar is daar egter enorme ontnugtering. Die verskeidenheid van Suid-Afrika is nie geakkommodeer nie en die regte van gemeenskappe kry geen erkenning nie. Ons ervaring is dat eenheid eerstens nagejaag word en dat mense geassimileer word en die diversiteit misken is. Dienslewering, korrupsie en staatskaping het die ontnugtering vererger. Minderhede kan in ʼn federale stelsel geakkommodeer word, maar hierteenoor vind sentralisering al meer plaas wat vervreemding en ontnugtering vergroot.

 

Daar is verskillende vorme van selfbeskikking of outonomie. In die Kaap is die strewe na totale volkome onafhanklikheid. Dit mg lei tot ʼn konfederale stelsel waarin Natal en ander gemeenskappe dalk ook regte begin opeis. Die Wes-Kaap het die ekonomiese potensiaal om so ʼn bedeling te kan befonds.

 

Die gedagte van Kaapse onafhanklikheid is nie meer net ʼn luukse nie. Ter wille van oorlewing moet daar iewers begin word. Dit gaan nie ten koste van iets of iemand wees nie maar ons moet werk met ʼn stelsel wat ʼn wen/wen situasie vir almal bewerkstellig. Munisipale dienslewering verval in kleiner dorpe regoor die land. Almal spring in en werk tot voordeel van almal in daardie gemeenskap. Dit is reeds ʼn vorm van selfbeskikking. Daarom moet die Kaap nou reeds doen wat hy kan, voor dit te laat is en daar algehele verval is.

 

Ons betaal nou reeds verskeie vorme van belastings direk en indirek. In Europese lande word gemeenskappe toegelaat om eie skole, klinieke, monumente te befonds uit belastings. Dit is wat verstandige lande doen wat verskillende minderhede wil akkommodeer. Onder die huidige Suid-Afrikaanse regering is dit nie eers ʼn moontlikheid nie. Daarom word selfsorgende strukture geskep en dit lei tot dubbele betaling van dienste. Solidariteit skep hulle werklikheid met opleidingskolleges en universiteit.

 

Ons het van 1994 nog nie daarin geslaag om ʼn nasionale identiteit te vestig nie. Die gevolg is dat mense hulle eie identiteit opsoek en bevorder. Ons gemeenskaplikhede word misken en kom die eie identiteit al meer na vore. Daarom slaag politieke partye wat die belange verteenwoordig al meer, want dit spreek mense se behoeftes aan. Die aanvanklike gedagtes rondom nasiebou en ook sterk steun vir die nuwe bedeling het vervaag.

 

Die ervaring in die Wes-Kaap is dat Bruin mense dalk nog meer gemarginaliseerd en nog meer vervreemd voel. Die Bruin gemeenskap vorm die meerderheid in die provinsie. ʼn Oplossing vir die Wes-Kaap kan nie sonder die Bruin gemeenskap bewerkstellig word nie. Die steun wat hulle gee vir onafhanklikheid groei ook deurgaans, juis omdat dit hulle die geleentheid kan gee om hulle eie situasie te bevorder en te verbeter.

 

Vanuit spesifieke vrae wat na die aanbieding gevolg het oor steun vanaf die Wes-Kaap regering en die Demokratiese Alliansie het dr Mulder gesê dat dit uit peilings afgelei kan word dat die meeste ondersteuners van die Demokratiese Alliansie ten gunste is van Kaapse onafhanklikheid. Premier Winde het by geleentheid egter aangedui dat hy nie ʼn referendum hieroor sal toestaan nie. Hulle werklikheid is dat DA ondersteuners wel die DA sal dwing om standpunt hieroor in te neem om dalk nie vervreemd te raak van sy kiesers nie. Wes-Kaap ondersteuning deur die DA vir onafhanklikheid mag ook nie op nasionale vlak goed afgaan by DA kiesers nie want hulle ondersteuners het op die vlak weer ander prioriteite.

 

Op ʼn vraag oor misdaad en wetgewing in ʼn onafhanklike Kaap het dr Mulder gesê misdaad is ʼn enorme realiteit en dit moet op ʼn gefokusde wyse aangespreek word. Ons polisie is deel van die probleem. Stabiliteit en wet en orde bring ekonomiese groei. As jyself beheer het oor die polisie en wet en orde toepas dan volg ekonomiese groei.

 

Met verwysing na die kontroversie rondom die hoofregter se uitsprake het dr Mulder gesê die aanstelling van regters is ‘n verpolitiseerde proses en vind plaas op ʼn rasbasis. Dit is nie ʼn proses wat meriete in ag neem nie. Dit is van die moeilikste en onaangenaamste prosesse wat hy in die tyd in die parlement moes deurmaak. Ons hoofregter het kontroversie veroorsaak oor sy godsdienstige uitsprake. ʼn Regter word gelei deur ʼn gedragskode. Daar is egter ʼn fyn lyn wat gehandhaaf moet word en hy moet waak daarteen dat dit nie sy onafhanklikheid kontamineer in die toekoms nie.

 

Rakende die plaaslike regeringsverkiesing en koalisies. het dr Mulder verwys na die EFF wat druk uitoefen om die verkiesing uit te stel. Dit moet egter volgens die grondwet in die tydperk tussen begin Augustus na begin November plaasvind, alles afhangende van Covid-19. Hierdie plaaslike regeringsverkiesing gaan ʼn belangrike verkiesing wees want die ANC is kwesbaar. Dit gaan egter ook die ruimte skep vir ʼn belangrike moment vir werklike koalisieregerings. Tot nou toe is munisipaliteite regeer deur minderheidsregerings. Dit is nou nodig vir meerderheidskoalisies. Duitsland het die interessante voorbeeld vir koalisie. By ons gaan dit tans rondom die uitdeel van poste. Die Duitse model het ʼn ander benadering. Verskillende partye gaan in ʼn verkiesing in elk met ʼn program van beginsels of manifes. Na ʼn verkiesing word ʼn nuwe program van beginsels saamgestel deur onderhandeling of konsensus deur partye wat daaroor ooreen kan kom en hulle vorm ʼn koalisieregering met die akkoord as basis. Dit skep eindelose moontlikhede vir ons het dr Mulder toegevoeg.

 

Volg die skakel om die geredigeerde weergawe van die webinaar met dr Corné Mulder te kyk by: 

Afrikaners in dialoog - Webinaar met Dr Corné Mulder

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: