Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           April 2022

Prof Pieter stap dapper voor, leeus of nie.

 

Deur Hennie van Deventer  (Vanuit: Koerantkamerade) 

 

n Ongewapende staptog deur gevaarlike leeuwêreld op ‘n klandestiene Broederbond–uitstappie na Namibië is ʼn anekdote in die reeks oor “Koerantkamerade”. Die man in die kollig is prof. Pieter de Lange, oud-rektor van die RAU en oud-voorsitter van die AB. Hy kwalifiseer as Koerantkameraad weens sy lang en bekwame diens aan Naspers as een van sy staatmaker-direkteure in uitdagende tye.

 

In 1989 is ‘n AB-groep van tien onder leiding van De Lange in twee klein vliegtuigies na Suidwes (nou Namibië) gestuur vir ‘n verkenningsbesoek aan die vooraand van onafhanklikheid. Ons het politieke saamtrekke van Swapo (South West Africa People’s Organisation) en Dirk Mudge se DTA (Demokratiese Turnhalle-Allliansie) bygewoon, onder meer in Oshakati en Khomasdal. Ek het nou nog T-hempies van die DTA en Swapo.

 

Ons het besoek gebring aan die laaste wit administrateur-generaal, Louis Pienaar en by die gebiedsmag; ons is toegespreek deur politici soos Mudge self, leraars en kultuurleiers.

Daardie klandestiene besoekie het nooit openbare kennis geword nie. Wat gevolglik ook geheim gebly het, is dat die spannetjie met sy aankoms by die Etosha-wildtuin se Namutonikamp deur die gashere op die lughawe vergeet is. Nood leer bid. Nood bring ook dapperheid na vore. Sonder om twee keer te dink, moes ons agter die winkende hand van ons voorsitter aan voetslaan kamp toe – leeuwêreld ofte nie. Die grootste risiko is om geen risiko te neem nie, het ons leier immers geglo. Gelukkig was die leeus daardie middag elders geokkupeerd, verveeld of aan die slaap, en was dit nie nodig om agterna ‘n verduideliking vir die opwindende Etosha-avontuurtjie vir enigiemand uit te dink nie.

 

Koerantkamerade beslaan 300 bladsye plus ‘n spesiale fotoseksie van 20 bladsye. Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (die uitgewer Naledi se webtuiste). Danksy die subsidie kos die boek net R220. 

 FOTO: Prof. De Lange (naasregs) veilig voor Fort Namutoni saam met drie jong LV’s, Chris Fismer, Piet Steyn en Johan Steenkamp.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: