Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           April 2022

 Die Natte het onderwys waardeer, maar die ANC vrees dit

Deur John Kane-Berman

 

Op 20 Maart 2022 skryf John Kane-Berman in Politicsweb dat daar min kans is dat ons regerende party die nodige onderwyshervormings sal implementeer. Ons het met mnr John Kane-Berman se instemming die artikel na Afrikaans laat vertaal en volg dit op die artikel van Prof Hermann Giliomee wat ook in die AB Nuusbrief verskyn. Ons plaas die artikel met erkenning aan Politicsweb.

 

Die historikus Hermann Giliomee het bewerings betwis dat daar groot ooreenkomste is tussen die kaderontplooiingsbeleid van die huidige Suid-Afrikaanse regering en die bevordering van lede van die Afrikaner-Broederbond deur die vorige regering nadat hy die Verenigde Party (VP) in die algemene verkiesing van 1948 verslaan het.

 

Een van sy sleutelpunte was dat staatsamptenare hulself onder die Nasionale Party (NP) steeds deur die geledere moes opwerk, die nodige kundigheid en ervaring moes opdoen om die werk te kon doen, en met mekaar moes meeding om bevorder te word, of hulle nou aan die Broederbond behoort het of nie.

 

Professor Giliomee, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), het ook aangevoer dat die vervanging van VP-gesinde staatsamptenare “geleidelik plaasgevind het, sonder enige skielike verlies aan kundigheid in die staatsdiens”.

 

Daarenteen het die huidige minister van staatsdiens en administrasie, Ayanda Dlodlo, in November verlede jaar aan die Parlement gesê dat 26% van senior bestuurders in die staatsdiens nie die “vereiste kwalifikasies” het vir die poste wat hulle beklee nie - hoewel dit 'n verbetering was op 'n vroeëre syfer van 35%.

 

Op munisipale vlak het die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, vroeër vandeesmaand gesê dat “minstens” ’n derde van die 144 munisipaliteite wat ook waterdiensteowerhede is, disfunksioneel is. “Meer as 50% het geen, of baie min, tegniese personeel.” Die betroubaarheid van dienste het sodanig verswak dat slegs 67.8% van huishoudings toegang het tot 'n "betroubare waterleweringsdiens".

 

Syfers soos hierdie behoort die land te skok, maar dit gebeur lankal nie meer nie, om die eenvoudige rede dat ons almal daaraan gewoond geraak het dat dit maar net die manier is waarop dinge onder bewind van die African National Congress (ANC) werk. Geen wonder nie dat die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Dondo Mogajane, onlangs opgemerk het, “Die dinge wat 'n falende staat definieer, begin wys in hoedat ons nie omgee vir die armes en om hul lewens te verbeter nie.”

 

In ’n toespraak aan die Kaapstadse Persklub in Oktober 2020 het FW de Klerk gesê dat Afrikanernasionaliste “passievol tot die opheffing van die Afrikanervolk verbind was”. Terwyl mense van regoor die wêreld in 1994 toegekyk het hoe die mag aan die ANC oorhandig is, was daar ongetwyfeld alom 'n verwagting dat hulle beleide sou implementeer om die swart Afrika-nasie op te hef. In plaas daarvan het hulle beleide geïmplementeer wat onrekenbare skade aan hulle eie mense berokken het.

 

Sekere swart mense het baat gevind by verskeie rassevoorkeurbeleide, nie die minste nie openbare amptenare en Cyril Ramaphosa self. Maar Suid-Afrika se skandalig hoë werkloosheidsyfers vertel ons die storie van wat met miljoene ander gebeur het. Dit was mnr. Ramaphosa self wat ná sy oorwinning by die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2017 gesê het dat “korrupsie beveg moet word met dieselfde intensiteit en doelgerigtheid as wat ons armoede, werkloosheid en ongelykheid beveg”. Dit verklap meer as wat hy dalk sou wou hê. 

 

Terug na Prof Giliomee en De Klerk. ’n Sleutelkomponent van die herlewing van die Afrikaners was onderwys. Dit was natuurlik gesegregeerd en ernstig diskriminerend in fiskale terme. Maar dit het gewerk. Die onderwysstelsel het die vaardighede opgelewer wat die staat nodig gehad het. Afrikaners het geweet hoe belangrik dit was. Hulle weet dit nog steeds, en dit is waarom hulle pogings deur die ANC beveg om Afrikaanse skole te vernietig.

 

Ook swart ouers besef vandag nog, soos toe die NP aan bewind was, hoe belangrik onderwys is. Baie van hulle maak steeds groot opofferings.

 

’n Onlangse verslag, saamgestel deur Nic Spaull, ’n medeprofessor aan die Universiteit van Stellenbosch, meld dat 78% van graad 4-leerlinge nie vir betekenis in enige taal kon lees nie. Hierdie syfers het vir 2016 gegeld, en was 'n verbetering op vroeëre syfers, maar die verslag sê dat ons op die huidige trajek eers oor 80 jaar ’n persentasie sal bereik van 95% graad 4's wat vir betekenis kan lees.

 

Die verslag het verder getoon dat hoewel Iran en Suid-Afrika dieselfde BBP per kop gehad het, 65% van graad 4's in Iran kon lees, maar slegs 22% in Suid-Afrika.   

 

Nog 'n verslag, die 2019 Trends in International Maths and Science Study, het getoon dat slegs 37% van graad 5's 'n basiese begrip van wiskunde en 28% 'n basiese begrip van wetenskap het. Onder 58 lande wat beoordeel is, was Suid-Afrika derde laaste.

 

Die skoolverlatingsyfer bly hoog. Van die 1,12 miljoen graad 1-leerlinge in 2010 het slegs 63% in 2021 die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geskryf, en slegs 23% het ’n slaagpunt gekry wat goed genoeg was om hulle in staat te stel om vir ’n graadkursus aan ‘n universiteit in te skryf.

 

Wat universiteitstudie betref – luidens my IRR-kollega Anthea Jeffery was voorgraadse voltooiingsyfers in 2019 soos volg: rekenaar- en inligtingwetenskappe, 12%; wiskunde en statistiek, 13%; fisiese wetenskappe, 17%; en ingenieurswese, 21%. 

 

Hierdie syfers dui daarop dat die ANC, wat nou bykans 28 jaar lank aan bewind is, nie omgee vir onderwys nie, iets waaraan hy sowat 7% van die BBP bestee, wat ‘n hoë bedrag is, gemeet aan internasionale standaarde. Maar, dalk is hulle bekommerd ...

 

’n Opname wat in 2020 vir die Sentrum vir Risiko-analise (SRA) gedoen is, het getoon dat steun vir die ANC gedaal het toe onderwysvlakke gestyg het. Ietwat meer as twee derdes van mense met slegs laerskoolopleiding het die ANC ondersteun, teenoor minder as 'n derde van diegene met 'n universiteitsgraad.

 

Met ander woorde, vanuit 'n verkiesingsperspektief baat die ANC by swak onderwys. Die doel van kaderontplooiing is politieke beheer, nie 'n doeltreffende staatsdiens nie. Dit maak dus nie saak as poste deur ongekwalifiseerde mense gevul word nie. Die najaag van demografiese proporsionaliteit wanneer openbaresektor-aanstellings gemaak word, troef ook alle ander oorwegings. Saam met aanvalle op eiendomsreg, en die herverdeling van rykdom, maak dit ’n sleutelkomponent uit van die nasionale demokratiese revolusie, ’n gunsteling onderwerp van mnr. Ramaphosa wanneer hy uitverkore gehore toespreek. 

 

'n Doeltreffende openbare sektor sou nie net 'n baie beter onderwysstelsel benodig nie, dit sou ook verg dat beide kaderontplooiing en swart nasionalistiese aanstellingsbeleide laat vaar word. Om die skoolstelsel te maak werk, sou nie net verg dat hierdie beleide opgegee word nie. Dit sou ook beteken dat beheer gedesentraliseer en 'n reaksionêre en ingewortelde vakbond gekonfronteer moes word.

 

Die ANC is nie gereed vir enige van hierdie hervormings nie.

 

 * John Kane-Berman is 'n beleidsgenoot by die IRR, 'n dinkskrum wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.

https://www.politicsweb.co.za/opinion/the-nats-valued-education-but-the-anc-fears-it


Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: