Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2021

Kanon op Paarlberg-piek 

 

Ons rapporteer deurentyd graag oor aksies van lede en afdelings. Die Patriot Afdeling in die Paarl het die volgende berig deurgestuur oor Louis Louw in hulle afdeling en sy betrokkenheid by Erfenisbewaring. Die berig bevat uittreksels van die Paarl Post van 1 Oktober 2021

 

Erfenisdag is Vrydag (24 September) op Paarlberg gevier met ’n historiese kanon-seremonie waarin ’n 400 jaar oue kanon op sy bergpieke afgevuur is as huldeblyk aan die plaaslike geskiedenis. Dit was die geesteskind van ’n plaaslike boer, Louis Louw, ’n lid van die Paarlberg-natuurreservaat se adviserende raad, wat hierdie spesiale vertoning in samewerking met die VOC, Paarlberg-natuurreservaat en die Drakenstein-munisipaliteit moontlik gemaak het.

 

 “Die 1700’s-kanon is ná ’n langdurige proses van langer as vier jaar weer na ’n veiliger plek sowat 25 m vanwaar dit al die jare op Paarlberg geberg is, verskuif. Die vorige ligging van die kanon was nie veilig vir dagbesoekers aan die reservaat nie, en dit was nie eens sigbaar agter die aangesig van die berg nie. Dit was seker oorspronklik daar gestasioneer vir optimale weerkaatsing van klank met sy oorspronklike doel.”

 

Die proses het ook behels dat die Wes-Kaapse Erfenisstigting die hervestiging goedkeur, en het ook die ligging waar die kanon die beste vertoon word, bepaal. Die kanon is nou perfek geleë op ’n pragtige houtraam wat van 100 jaar oue Old Balau-hout gemaak is, en word langs ’n gedenkplaat met die kanon se geskiedenis vertoon.

Dr. Dan Sleigh het die verrigtinge ondersteun deur die era en gebruik van die kanonne te huldig en het selfs mites oor hul gebruik die nek in geslaan. Hy het gesê ’n algemene misverstand heers onder mense – dat die kanonne gevuur is om die mense in kennis te stel wanneer vragskepe die Kaapse hawe bereik het. “Dit is uiteraard gebruik om die Kaap te verdedig teen onder andere die Engelse magte,” het Sleigh verduidelik.

Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (oorspronklik Verenigde Oostindische Compagnie, VOC) het van 1734 af kanonne gebruik om Kaapse burgers op te roep om die land te verdedig. Wanneer burgers die sein hoor, moes hulle gewapen en te perd Kaapstad toe jaag en by hul vaandels aanmeld. Die kanonne is in vier reekse op die heuwels en berge geplaas. Dié alarm is onderskeidelik na die Swartland/Sandveld, in die rigting van Olifantsrivier/Witsenberg, Karoo en Overberg/Suid-Kaap uitgedra.

Daar was 35 seinposte waarvan die kanonniers plaaseienaars en hul knegte was. Hierdie kanon weeg 850 kg en is omstreeks 1700 in Finspång, Swede, gegiet. Dit is 2,23 meter lank, met ’n deursnit van 39 cm agter die sundgat. In die VOC-tyd was die seinpos aan die westekant van Paarlberg.. 

 

Erfenisdag is nie net op die Paarlberg “gevuur” nie, maar was ook die hervestiging van ’n geskiedkundige baken. Louis Louw, ’n plaaslike boer en lid van die Paarlberg-natuurreservaat se adviserende raad, het die tweede kanonskoot afgevuur ter herdenking van Erfenisdag en het ’n belangrike rol gespeel sodat die 1700-kanon op die piek van die berg bewonder kan word.


Lees die oorspronklike berig op Paarl Post (Netwerk24)

https://www.netwerk24.com/ZA/Paarl-Post/Nuus/kanon-gevier-op-paarlberg-piek-20210929-2

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: