Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2022

 Koalisieland: Suid-Afrika ná die ANC

 

Deur dr. Leon Schreiber

DA-LP en die skadu-minister vir staatsdiens en administrasie.

 

In 2018 het ek ‘n boek gepubliseer met die titel Coalition Country: South Africa after the ANC. Op daardie stadium was dit die heel eerste boek was voorspel het dat koalisies Suid-Afrika se voorland is, en op ‘n ernstige analitiese wyse gekyk het na die moontlike implikasies van koalisies vir die Suid-Afrikaanse politieke. Bietjie meer as ‘n jaar later is ek as Parlementslid vir die DA verkies, wat beteken dat ek nou vanuit ‘n redelik unieke oogpunt – beide teoreties en prakties – kyk na koalisies.

 

Terugskouend bekyk en gegewe wat ons oor die vier jaar sedert Coalition Country se publikasie geleer het, wat is die tendense wat ek destyds misgekyk het en nou sou wou byvoeg as ek die boek moes oorskryf?

 

Die eerste nuwe insig wat ek destyds onderskat het, is die implikasie van die feit dat Suid-Afrika se kiesstelsel geen minimum drempel het nie. In teenstelling met lande soos Duitsland, waar ‘n party ten minste 5% van die stem nodig het om parlementêre verteenwoordiging te wen, benodig ‘n party in Suid-Afrika so min as 0.25% van die stem om ‘n setel te kry. Die gevolg is dat ons politiek, veral op plaaslike vlak, toenemend deurspek is met klein partytjies wat in sommige gevalle letterlik uit ‘n handjievol mense bestaan en dikwels net een verkose verteenwoordiger het. Maar daardie enkele verteenwoordiger het dan dikwels meer invloed om die samestelling en rigting van ‘n regering te bepaal as die grootste party in ‘n gegewe raad.

 

Daar is ‘n saak te make dat dit strydig mag wees met die gees van demokrasie om aan ‘n “party” met slegs 0.25% van die stem die mag te gee om as sogenaamde koningmaker te bepaal of ‘n regering slaag of misluk.

 

Die fragmentering van ons politieke landskap hou ‘n wesenlike bedreiging in vir die stabiliteit van regerings. Ons het reeds voorbeelde soos Nelson Mandelabaai, waar die DA 42% van die stem gewen het in verlede jaar se verkiesing, maar die samewerking van ‘n verstommende nege ander partye moet wen net om die verdere 8% te kry wat nodig is om die ANC uit die kussings te lig. ‘n Ander onlangse voorbeeld kom uit Johannesburg, waar raadslede van klein partye soos die ACDP, IVP, COPE, ATM en UIM kiesers verraai het deur ten gunste van ‘n ANC mosie te stem om die DA-Speaker te verwyder.

 

Vir my is die les duidelik: ons almal wil uiteraard hê dat die stem wég van die ANC af moet fragmenteer, maar oormatige fragmentering is ook ‘n wesenlike risiko wat nie onderskat moet word nie. Om regerings te probeer saamstel saam met tien klein partytjies is ‘n resep vir onstabiliteit, en ons doel behoort eerder te wees om – soos in lande soos Duitsland of Nederland – sterk partye te hê wat die ankerpunt kan wees vir koalisies. Ervarings in plekke soos Johannesburg bewys ook dat veral klein partytjies sonder sterk interne prosesse maklik omgekoop kan word om kiesers te verraai. Die enigste manier om dit teen te werk is deur die hand van ‘n groot, gedissiplineerde party soos die DA te versterk.

 

‘n Tweede insig wat ek graag by Coalition Country sou wou voeg is die feit dat die ANC waarskynlik selfs harder en verder gaan val as wat ek in 2018 verwag het. ‘n Reeks onlangse meningspeilings het bevind dat steun vir die ANC reeds onder 50% is, en in sekere gevalle selfs onder 40% geval het. Met omtrent 18 maande voor die volgende verkiesing is dit moontlik dat ons politiek ‘n keerpunt kan bereik wat daartoe lei dat ANC-steun só ver tuimel dat die party, neffens die Wes-Kaap, ook provinsies soos Gauteng, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap, sowel as die nasionale regering, verloor.

 

Terselfdertyd bevestig hierdie peilings, sowel as ‘n rits oorwinnings in tussen verkiesings, ook dat DA-steun weer sterk aan die groei is na ‘n paar moeilike jare vir die party. ‘n Peiling in Rapport het die DA op 27%, terwyl Dr Frans Cronjé se Social Research Foundation die party se steun op 25% meet. Trouens: die Rapport peiling wat die DA op 27% gemeet het, het die ANC op slegs 38% – wat beteken dat die gaping tussen hierdie twee partye tot slegs 11% gekrimp het. (Ek sluit ‘n onlangse peiling deur IPSOS uit omdat daardie peiling se metodologie só gebrekkig is dat dit van nul en gener waarde is).

 

Die implikasie van die feit dat die ANC moontlik verder kan val as wat ek in 2018 verwag het, sowel as die feit dat die DA moontlik verder kan groei as wat selfs ‘n paar maande gelede voorsien is, beteken dat die moontlikheid van ‘n DA-geleide nasionale koalisieregering by die dag toeneem en nou ‘n veel sterker waarskynlikheid is as wat Coalition Country gereken het.

 

‘n Derde nuwe neiging is dat die ANC se terugveg poging teen die konsep van koalisieregerings waarskynlik veel feller gaan wees as wat baie mense verwag. Dit is duidelik dat die ANC na afloop van die 2021 plaaslike verkiesings – waar die party sy meerderheid in ses van die land se agt metro’s verloor het – uiteindelik besef het dat dit ‘n wesenlike moontlikheid is dat die party ook op provinsiale en nasionale vlakke mag kan afstaan aan koalisieregerings in 2024. Die ANC het sy beoogde reaksie uitgestippel by die onlangse beleidskonferensie, waar die party verklaar het dat hy alles moontlik gaan doen om koalisieregerings te ondermyn en diskrediteer. Die beleidsdokumente maak dit duidelik dat die ANC besef het dat daar bitter weinig positiewe redes is wat die party kan gebruik om steun terug te wen in 2024 – en daarom gaan hy eerder ‘n negatiewe strategie volg, gebou op bangmaakstories oor koalisies.

 

Die beste teenvoeter hiervoor is natuurlik om seker te maak dat koalisieregerings daarin slaag om eenheid te bou en dienslewering te verbeter. Juis daarom behoort kiesers dit as ‘n ernstige gevaarlig te sien dat verskeie klein partye reeds in plekke soos Johannesburg teen die koalisie begin stem het. Ook die onlangse aanslag teen die DA burgemeester in Tshwane deur ActionSA val in hierdie kategorie, want dit bewys dat hierdie party, eerder as om geskille op ‘n volwasse manier te hanteer, bereid is om die koalisie in die openbaar skade te berokken bloot om goedkoop politieke punte teen die DA aan te teken. In die proses ondermyn sulke optrede vertroue in die hele konsep van die koalisie-alternatief, want dit kan die valse indruk onder kiesers skep dat koalisies inherent onwerkbaar is. Hierdie boodskap speel direk in die ANC se hande.

 

Ter samevatting: daar is tekens dat die ANC inderdaad baie ver kan val in die 2024 verkiesing, met die DA wat aansienlik kan groei. In hierdie konteks is dit belangriker as ooit dat ons nie net aanhou werk om die ANC te verswak nie, maar dat ons ook waak teen die soort oormatige politieke fragmentering wat buitensporige mag gee aan onbetroubare en selfsugtige klein partye. Koalisie vennote moet ook daarteen waak dat die ANC se aanslag teen die koalisie-alternatief nie slaag nie, deur op te hou om die beeld van koalisies te skaad vir goedkoop politieke gewin, en eerder te fokus op die verbetering van dienslewering.

 

Mits ons hierdie drie tendense reg bestuur, is daar ‘n wesenlike kans dat die DA in 2024 die betroubare anker word van nuwe koalisieregerings op provinsiale en nasionale vlak wat ons land weer op koers kry.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: