Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Februarie 2021

Kompas NC - Wat is Genoeg?

 

In opvolg van die reeks wat in 2020 begin is sal ons graag die gedagte wil voortsit. Verlede jaar het ons ʼn skrywe ontvang met die versoek of ons die aan lede die “geleentheid wil bied om te skryf oor ons Afrikaanse waardes en geskiedenis en erfnis en drome nie. Dan kan ons dit vorentoe ook as ʼn bron gebruik om ons pragtige prosa en poësie en kultuurgeskiedenis en taal te begin. Ons noem dit ‘Rigtingwysers of Kompas NC. (NC = na Christus’ en na Covid-19.)”

 

Wat is genoeg?

 

Deur Freek Swanepoel

Somerset-Wes.

 

Die jaar 2021 het toe gekom en daarom is dit nodig om weer ons koers te bepaal en ons kompas in te stel. Dit is mos natuurlik om van tyd tot tyd te kyk of jy nog op pad is na die eindpunt. Dit is vanjaar moeilik om die ou jaar net af te skud want die virus se sleepsel sal nog lank ‘n effek hê. Tog moet ons die nuwe jaar 2021 sy kans gee. Die woord ‘nuut’ beteken immers; ongebruik, met volle krag en sterk.

 

As ek vir ons as kultuurmense die kompas wil stel, sal ek dit doen  met die woord SOBERHEID, want die woord het effens in onbruik geraak. Gelukkig het ons reeds afgeskaal, minder rondgery en seker probeer om goedkoper te lewe. In drie jaar het ek op maklike maniere geleer om water te bespaar, kragverbruik te verminder en om my en ander se gesondheid te beskerm’ en minder te kla.

 

Dit is insiggewend hoe ons stigters dit in hulle doelwitte vervat het. In Doelwit No.5 sê hulle dit so :

“Die veredeling van die samelewing op grondslag van die skoon ou sedes en              karaktertrekke van ons volk.”

Die woord ‘sober’ se oorsprong is uit Latyn en dit beteken om nie deur iets negatief bedwelm en beheer te word nie sodat jy nugter oor sake kan dink en besluit. Dit wil ook die klem lê op dit wat opreg en in eenvoud gedoen word. Deur die jare het die woord veral op die gebruik van sterk drank en kleredrag en modes gefokus en dit het die ware en mooi betekenis van die woord verskraal.

 

Ons leefwyse het natuurlik ook verander toe die woord ‘standaard’ in ons lewens gekom het. Skielik was daar ‘n styl waaraan alles gemeet is. Dit is seker ‘n normale effek as daar na vooruitgang en ontwikkeling gestrewe word. In 1994 is daar oor baie dinge gemaan : “solank ons net nie die standaarde verlaag nie!” Ons stigters praat so pragtig van die veredeling van die skoon ou sedes van die volk. Dit is die jare toe ons almal arm was. Ek onthou hoe daar gewaarsku is “bewaar jou tog van overdaad”. Daar is ook maklik verwys na mense wat nou dink hulle is ‘upstairs”. Die mooiste was seker dat eenvoud aanvaar is; solank dinge net skoon en netjies was.

 

Ten diepste gaan dit seker daaroor dat ons probeer vasstel wat genoeg is en om daarmee tevrede te wees. Vir ouer mense wat na ‘n aftreeoord verhuis is dit nogal ‘n uitdaging om te bepaal: Wat is genoeg? Daar is mos te min plek vir die man se boekery en die vrou se vetplantversameling; om nie te praat van die potplantversameling nie. Daarom moet almal leer om met minder oor die weg te kom en ons rieme bietjie smaller te sny. Die feit van minder werk en geld daag al ons instellings uit om dinge goedkoper te maak.

 

In die mikpunt na soberheid is ek ook gerig deur twee woorde uit die pandemie nl. immuniteit en ongelykheid. Die effek van ons leefstyl en gebrek aan oefening speel in immuniteit ‘n groot rol; so minder ryk kosse is om sober te lewe. Dit is ook waar dat die ekonomiese ongelykheid en armoede vergroot het. Dit is nie ons skuld nie,  maar soberheid kan meebring dat ons kan help waar daar nood is, soos ons dit in 2020 gedoen het en soos ons met die entstof vir die virus, mense kan help wat dit nie kan bekostig nie. Kom ons mik om hierdie waarde van soberheid opnuut te ontdek en na te streef.

 

Die dominee kom in die konsistorie met ‘n hele paar wonde en wattetjies op sy wange. Hy maak verskoning en verduidelik dat hy net sy snor met sy skêr wou regsny vir die preek. Toe sê die ouderling: “Ds, volgende keer los jy die snor en knip die preek”.

 

Kom ons maak dinge minder en goedkoper en meer eenvoudig. Leef sober en dink nugter. Dis ‘n skoon ou sede van die Afrikaner.

 

Lede en afdelings word genooi om die waardes wat vir hulle belangrik is te beskryf en dit met ons te deel. Dit is die waardes wat vir ons rigting gee, ons rig en wat vir ons hoop gee vir die toekoms.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: