Kompas NC - Die Voortrekkers hou nog koers
In ons reeks oor waardes, geskiedenis, erfenis en drome ‘Rigtingwysers of Kompas NC. (NC = na Christus’ en na Covid-19.) die besondere uittreksels uit ʼn skrywe deur Dr Danie Langner, Hoofleier van die Voortrekkers:
(Die artikel is nie net relevant tot die Voortrekkers nie, maar ook vir ander organisasies wat aanpassings moes maak.)
Geen Voortrekker het in Januarie 2020 vermoed wat ’n vreemde wending die jaar sou neem nie. Om die waarheid te sê, ons het uitgesien na ’n jaar vol opwindende projekte, heerlike kampe en nuwe avonture. Met die jaartema ONS GLO het die Voortrekkers talle projekte beplan om die Bybelgenootskap se 200ste verjaarsdag en die nuwe 2020-Afrikaanse Bybelvertaling te vier. Kaapland het op Wemmershoek hiervoor ’n Geloofsmonument opgerig wat tydens die Maart-kampe onthul sou word. Die monument bestaande uit ’n oop Statebybel met ’n teksvers uit Jesaja 40:7 “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van die Here bly vir ewig staan”, is omring met dennebome, gebou op ’n klein lappie grond in die oopte, by ’n bestaande amfiteater met ’n uitsig oor ’n vallei en die pieke van Simonsberg. In hierdie vallei het die Franse Hugenote hulle gevestig en het Afrikaans wortelgeskiet. Die vereenvoudigde uitbeelding van die fleur de lis, gebou uit die natuurlike klip van Wemmershoek, is die simbool wat die Hugenote saam met hulle gebring het in hul soeke na geloofsvryheid. Die gebroke kettings op die Statebybel dui op vryheid. Vryheid in Christus. Vryheid van geloof. Vryheid van geloofsvervolging. Vryheid om God in eie taal en kultuur te mag aanbid.
Niemand sou ooit kon raai dat Die Voortrekkers die eerste keer in 90 jaar kampe moes afstel nie, dat die grendeltyd so lank sou duur of dat selfone, wat verlede jaar nog in skole verbied was, die nuwe klaskamer sou word nie. Uit die notuleboeke blyk dit dat die enigste vergelykbare jaar met dieselfde impak in die Voortrekkergeskiedenis die Tweede Wêreldoorlog was. Dit is amper asof Die Voortrekker uitgedaag is om te verduidelik wat word bedoel met die 2020-jaartema: ONS GLO.
As gevolg van die Tweede Wêreldoorlog kon die kongres in 1945 nie plaasvind nie en moes dit noodgedwonge na 1946 uitgestel word. Die oorlog het meegebring dat Die Voortrekkers minder in die openbaar kon optree, terwyl die noodregulasies en inperkings verlammend ingewerk het op die hou van kampe en aanbied van aktiwiteite soos kampvuuraande. Die oorlog het ook meegebring dat vervoer geweldig ingekrimp is. Kentekens kon nie gemaak word nie en uniforms kon weens materiaalskaarste nie voorsien word nie. Dit het tot ’n geweldige prysstyging gelei.
Kort na die oorlog skryf Ita Malan: “In die oorlogsjare wat verby is, het ons Voortrekkerbeweging deur die smeltkroes gegaan. In meer as een opsig was ons lot ook die van die besembos. Eers het ander magte ons probeer inpalm en toe probeer verdeel. Nog ander het ons gedeeltelik in die boei geslaan, sodat dit vir ons as leiers en leidsters uiters moeilik was om ons kultuurerfenis nie alleen in woorde, maar in dade te kon uitleef. In hierdie oorlogsjare was dit ’n stryd om te bly behou wat ons eie was.”
Dit was die Vader van Die Voortrekkers, CF Visser wat met sy bekende leuse: “Eenmaal ’n Voortrekker, altyd ’n Voortrekker”, in die moeilike oorlogsjare en daarna aan Die Voortrekkers koers moes gee. In 1944 het Visser met ’n toekomsblik vyf punte geïdentifiseer om nuwe stukrag en groei in moeilike tye te gee:
Soos in die Tweede Wêreldoorlog maak Voortrekkers vandag innoverende planne, gaan spankampe en ja, selfs kampvuurkonserte, op kreatiewe maniere voluit voort. Ons ontgin ten volle die moontlikhede wat die digitale wêreld bied. Ons hou spanbyeenkomste en kommandobyeenkomste met Zoom, Facebook word ons nuwe kampvuurklets en WhatsApp ons nuwe kuiertafel. Daar het nie ’n week verbygegaan waar Voortrekkers nie op sosiale media oor positiewe aksies en projekte berig het nie. Digitale kampe, spanbyeenkomste oor Zoom en Teams en Voortrekkeraktiwiteite soos SuperSnuiterSaterdag is aangebied.
Die Voortrekkers het ’n Covid-19-kenteken saam met oulike werksboekies bekendgestel wat alle lede ontvang. Die doel van die kenteken is om erkenning te gee aan die baie nuwe vaardighede wat Voortrekkers gedurende die grendeltyd ontwikkel het, maar is ook ’n herinnering aan die buitengewone jaar wat ons wêreld verander het.
Baie Voortrekkergesinne het as gevolg van Covid-19 finansiële nood beleef. Daar was gesinne wat oornag sonder inkomste moes oorleef, sente wat twee maal omgedraai moet word en salarisse wat gesnoei is of opgedroog het. Regoor die land het Voortrekkerkommando’s uitgereik, help kos gee en mekaar met omgee ondersteun.
Dit is die vlam van die ONS GLO-embleem. Die lig van ons fakkel wat in donker tye steeds helder skyn. ONS GLO word in hierdie tye meer as ’n jaartema. Dit word ’n dieper belydenis. ’n Vashou. ’n Uithou. Aanhou. Koers Hou
Adres