Kwelpunte in die Suid-Afrikaanse ekonomie
Deur Jannie Rossouw
Besoekende professor: Wits Besigheidskool
(Uittreksels uit ʼn besprekingsdokument oor koalisiepolitiek wat tydens die Afrikanerbond se September 2022 Bondsraad bekendgestel word.)
Suid-Afrika se ekonomiese toestand is ten nouste verweef met die land se politieke omstandighede. Suid-Afrika se ekonomie het voor die internasionale finansiële krisis van 2007/08 vir ‘n tydperk van vier jaar teen ‘n koers van meer as 4,5 persent per jaar gegroei. Jaarlikse groeiprestasie is in Tabel 1 aangedui.
Tabel 1: Suid-Afrika se groeiprestasie, 2004 tot 2007
Jaar Ekonomiese groeikoers
2004 4,6%
2005 5,3%
2006 5,6%
2007 5,4%
Bron: SA Reserwebank, 2021. Op cit, p S-320.
Na die internasionale finansiële krisis van 2007/08 het die Suid-Afrikaanse ekonomie nie herstel nie. Suid-Afrika se langtermyn potensiële groeikoers het met verloop van tyd gedaal van 'n vlak rondom 3% per jaar, aanvanklik tot 'n vlak rondom 2,5% per jaar, en onlangs tot 'n vlak rondom 1,0% per jaar. Hierdie daling in die potensiële groeikoers word onder meer bevestig deur ‘n opmerking deur die SA Reserwebank in 2019. In die Oktober 2019 monetêre beleidsoorsig verklaar die SA Reserwebank dat “potential growth has slumped to around 1% in the context of supply constraints (especially electricity shortages) and depressed business confidence.”
Hierdie vlakke van groei (1% tot 1,5% reële ekonomiese groei per jaar) stem ooreen met Suid-Afrika se bevolkingsgroeikoers. Die gevolg is dat Suid-Afrika se reële per capita bruto binnelandse produk (BBP) stagneer en in sommige jare selfs daal. Die reële per capita BBP het in 2013 ‘n hoogtepunt van R80 191 bereik, maar toon sedertdien ‘n dalende neiging. Teen 2020 was die reële per capita BBP slegs R71 912. Terselfdertyd sal die huidige vlakke van werkloosheid voortduur of selfs toeneem solank die ekonomiese stagnasie voortduur.
In ‘n poging om die stagnasie van die ekonomie hok te slaan, het die Suid-Afrikaanse regering in 2013 die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) bekend gestel. Die NOP stel hoër ekonomiese groei en laer werkloosheid in die vooruitsig. Dit omskryf die rol wat verskillende sektore van die samelewing moet speel om daardie oogmerk te bereik. Byna 10 jaar later is dit nodig om te erken dat die NOP misluk het. Daar is baie redes vir die mislukking, maar van die belangrikste redes is:
Die verswakking in ekonomiese groei en in die groeitendens na 2008 het saamgeval met die tydperk van staatskaping en korrupsie, wat ‘n kenmerk van die Zuma-administrasie was. Dit bevestig dat Suid-Afrika se ekonomiese prestasie ten nouste verweef is met plaaslike politieke toestande.
Weens die volgehoue dalende neiging in ekonomiese groei, het Suid-Afrika se ekonomiese rol binne die konteks van Afrika verswak. Terwyl Suid-Afrika vir baie jare die grootste ekonomie in Afrika was, is die land tans die derde grootste ekonomie, na Nigerië en Egipte. Suid-Afrika se ekonomiese krisis blyk duidelik uit die feit dat die sakesiklus soos deur die SA Reserwebank bereken word, reeds sedert Desember 2013 in 'n daalfase is. Dit is die langste daalfase sedert WO II. Hierdie daalfase van meer as agt jaar is reeds byna dubbel so lank as die daalfase van vier-en-'n-half jaar (55 maande) wat vanaf Maart 1989 tot Mei 1993 aangeteken is.
Afgesien van die suksesvolle bekamping van inflasie deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, is daar ook ander instellings in Suid-Afrika wat suksesvol funksioneer. Uiteraard is verskeie instellings deur staatskaping en korrupsie vernietig, maar die uitdaging is om die oorblywende instellings te beskerm. Voorbeelde van suksesvolle instellings, ten spyte van staatskaping en korrupsie, sluit in die regsbank, die Nasionale Tesourie, die SA Inkomstediens (SAID), wat onder leiding van mnr Edward Kieswetter herstel word, die Ouditeur-generaal, universiteite, die finansiële dienstesektor en verskeie groot en klein besighede.
Mediavryheid (elektroniese en gedrukte media) en vryheid van spraak wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg word, is ook van groot belang in Suid-Afrika se oorlewing ten spyte van ‘n rowerbende wat onder die vaandel van die ANC aan bewind is en die land regeer. Trouens, die media het verskeie voorbeelde van korrupsie en staatskaping uitgewys, lank voordat dit deur die Zondo-kommissie ondersoek is.
Die regering het geen samehangende beleidsrigtings nie, met beleidsbesluite wat op die oog af geneem word op grond van (i) geleenthede vir korrupsie; of (ii) persoonlike ideologiese of ander voorkeure van individuele kabinetsministers. Albei hierdie aspekte was duidelik tydens die regering se hantering van die Covid-19 pandemie. Ongelukkig het die Covid-19 pandemie ook die deur geopen vir mikrobestuur en besluite wat die ideologiese voorkeure van kabinetsministers weerspieël. Onder die dekmantel noodregulasies, het kabinetslede hul voorkeur vir mikrobeheer en bestuur getoon.
Die uitdaging is om te onthou dat Suid-Afrika voorheen funksionerende ekonomiese en politieke stelsels gehad het. Dit is binne die land se vermoë is om weer hierdie posisie te bereik. Die gemeenskap en die regering sal moet saamwerk om hierdie doel te bereik, maar die gemeenskap sal groter leiding moet neem weens ‘n wanfunksionerende regering.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres