Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Mei 2021

Kommentaar :          Die US Konseptaalbeleid van 2021

 ’n Perspektief op die regs- en taalpolitieke aspekte van die Universiteit Stellenbosch taaldebat

 

1         Agtergrond

Die Universiteit Stellenbosch se konseptaalbeleid van 2021 word hersien onder donker wolke. Sedert Februarie is die persblaaie vol kommerwekkende berigte oor hoe studenteleiers hulself aangematig het om eerstejaarstudente te beveel om niks behalwe Engels in selfs informele omgewings te gebruik nie. Die universiteit se aanvanklike reaksie was ’n ongeloofwaardige verklaring dat geen formele klagtes gemaak is nie, en ’n insinuasie dat die taalklaers iets beleef het wat nie werklik gebeur het nie.


Eers na volgehoue druk deur onder andere die Afrikaanse Taalraad, die studenteorganisasie StudentePlein, die DAK Netwerk en die Demokratiese Alliansie, het die universiteit tekens begin toon van ’n erkenning dat daar ’n probleem is wat hul aandag nodig het. Hul traagheid is in skrille kontras met die knieskop-wyse waarmee selfs geringe bewerings van diskriminasie op ander gronde, asook ontgroeningsklagtes, in die verlede hanteer is. StudentePlein het op 19 Maart ’n akkoord met die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) aangegaan, waarvolgens die SSG-direkteur, Pieter Kloppers, onderneem het om ʼn ondersoek met StudentePlein se oorsig van stapel te stuur. Die ondersoek sal met regstellingstappe opgevolg word, en StudentePlein hou ʼn wakende oog oor die proses deur weeklikse terugvoer te vereis. Die 2021 konseptaalbeleid is midde-in hierdie opspraakwekkende gebeure vir openbare kommentaar gepubliseer. Die klem het gou verskuif vanaf woede oor die gebeure in die koshuise, na ʼn oorhoofse bevraagtekening van die US se betroubaarheid jeens meertaligheid en spesifiek teenoor Afrikaans. Terwyl die gebeure in die koshuise tot ʼn mate aan ʼn wantoepassing van die 2016 beleid se beginsels toegeskryf kan word, is die groeiende konsensus dat die wese van die 2016 beleid en ʼn voorsetting daarvan onder die 2021 konsepbeleid, ʼn glybaan na ongebreidelde Engelse oorheersing in alle kampusruimtes geskep het. 


Vrydag 9 April 2021 het die eerste protesoptog teen verengelsing aan die US gesien. Die optog is deur die DAK (Doman Autshumao Krotoa) Netwerk saamgeroep en gelei. DAK is ʼn Bruin Afrikaanse belangegroep wat Afrikaans se volhoubare voortbestaan as ʼn bemagtigingskleinood vir die Bruin Afrikaanse gemeenskap beskou. Die leier Danie van Wyk, gevolg deur prominente Bruin Afrikaanse leiers soos Michael le Cordeur en Ria Olivier, het ʼn simboliese stel griewe soos Martin Luther van ouds teen die US se hoofadministrasie-gebou in Victoriastraat se voordeur vasgedruk.


Die druk op die US kort voor die sluitingsdatum vir kommentaar op die taalbeleid hou aan toeneem. Belanghebbers in Afrikaans as akademiese taal, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) en die Departement van Afrikaans en Nederlands aan die US, het reeds hul vakkundige bedenkinge oor die skadelike impak van ʼn taalbeleid wat Afrikaans nie genoegsaam anker nie uitgespreek. Daar word verwag dat nog baie prominente Afrikaanse stemme tot die debat sal toetree, selfs na die sluitingsdatum vir kommentaar op 12 April 2021.

 

2         Die konseptaalbeleid

Die konsepbeleid kan soos die oorspronklike taalbeleid in twee dele verdeel word. Die eerste deel sit die beweegredes en beginsels van die beleid uiteen in Klousules 1-6. Vanaf Klousule 7 word die operasionele deel van die beleid vervat, waarin besonderhede en toepassingsriglyne vir leer en onderrig, institusionele kommunikasie en konflikbeslegting, onder andere vervat word.

 

2 1      Insette vanuit die Grondwet

Wat onmiddellik opmerklik van die eerste deel is, is die tekort aan verwysing na die grondwetlike bronne van die taalbeleid. Terwyl die inleidingsklousule onder “1 Inleiding” wel praat van die Grondwet wat die 11 amptelike tale as bates ag, diskriminasie verbied en ʼn beperkte reg van toegang tot hoër onderrig bied, word hierdie grondleggende aspek nie in die besonderhede en volledigheid wat dit verdien, uiteengesit nie. Selfs die 2016 beleid het minstens die gelykheidsklousule in artikel 9 en die hoër onderrigklousule in artikel 29 vermeld, al is die uiters belangrike bepalings van artikel 6, rondom amptelike tale en taalbestuur, nie uitdruklik genoem nie. Die konseptaalbeleid vererger dus die 2016 beleid se fundamentele tekortkoming, deurdat die besonderhede van die Grondwet in selfs ʼn mindere mate betrek word. Die nie-insluiting van verwysing na artikel 6 sover dit progressiewe taalgelykwaardigheid aan staatsinstellings vereis,[1] is ʼn bekommerenswaardige tekortkoming, en die res van die 2021 konsepbeleid moet ingevolge hierdie weglating gekontekstualiseer word.

Indien die hele artikel 6 benewens die blote lys van amptelike tale in 6 (1) saam met artikel 9 en 29 gelees word, verander die toepasbare beleidsagtergrond van die taalbeleid. Dit vereis dat die staat, wat in artikel 6 juis ʼn groter betekenisomvang as “regering” het, proaktief optree om taalstatusverhoging en gebruiksbevordering teweeg te bring. Staatsinstellings soos openbare universiteite moet proaktiewe taalbeleid skep, te wete beleid wat taal in die aangesig van oorheersende tale soos Engels (weens geskiedkundige patrone van oorheersing en verowering) lewenskragtig en volhoubaar is.

Die feit dat daar ook nie na die vryheid van taalbeoefening in artikel 30 van die Grondwet verwys word nie, is eweneens problematies.[2] Welke vryheid word inherent beperk soverre dit nie uitgeoefen mag word op ʼn manier wat onbestaanbaar met die Handves van Regte is nie. Indien taalbeoefening ter wille van ʼn oorheersingsdrang of strategiese uitsluiting plaasvind, sal dit uiteraard teen die Handves van Regte indruis, en kan dit veral op ʼn onbillike vorm van diskriminasie in artikel 9 neerkom. As geleenthede en hulpbronne by wyse van taal aan sekere mense ontsê word, word taal nie volgens die artikel 30 voorskrif aangewend nie. Diegene wat redeneer dat die aanwending van Afrikaans tesame met Engels in die konteks van die US uitsluitend is, sal moet bewys dat vrye taalbeoefening telkens teen die Handves indruis en dat daar onbillike diskriminasie ter sprake is. Daar kan nie bloot aangeneem word dat ʼn veeltalige omgewing uitsluitend is tot die mate dat dit op onbillike diskriminasie neerkom nie; uitsluiting sal aan die hand van artikel 9 en volgens artikel 30 gemeet moet word. Boonop kan die Grondwet nie gelees word op ʼn wyse wat ʼn stoere keuse bied tussen proaktiewe, volhoubare veeltaligheid, en toegang tot hoër onderrig en gelykheid nie.  Die Grondwet impliseer ook nêrens ʼn hiërargie van menseregte nie, en derhalwe kan artikels 9 en 29 nie voorkeuruitleg bo ʼn relevante klousule soos artikel 30 kry nie. ʼn Grondliggende bepaling soos artikel 6 reël die fondamente van die staat selfs al ken dit nie ʼn bepaalde mensereg toe nie. Artikel 6 kan beslis ook nie vir beleidsdoeleindes geïgnoreer word sover dit staatsinstellings bind nie.

 

2 2      Spesifieke probleme: Klousules 1 – 6

Die beleidsmikpunte in Klousule 5 maak geen verwysing na verwesenliking van die bepalings van artikel 6 van die Grondwet nie, en vermeld ook nie die bevordering van artikel 30 nie. Dit wys wel op artikels 9 en 29, wat vir taaldoeleindes die halwe grondwetlike verhaal vertel.


Klousule 5.5 beoog wel meertaligheid as eienskap van die US-graduandus en die instelling self, wat ʼn belangrike voorbeeld is van ʼn oogmerk wat nie ingevolge die operasionele bepalings bereik kan word nie, en ook nie behoorlik gegrond is in afwesigheid van deeglike betrekking van alle tersaaklike grondwetlike bepalings rondom meertaligheid en taalgelykwaardigheid nie. Indien dit ʼn “mikpunt” van die US was om ʼn meertalige karakter na te streef, sou die beleid proaktief rondom ʼn veeltaligheidsbedeling omgegaan het, en nie ʼn strukturele oorheersing van Engelsheid toegelaat het nie.


Klousule 6 sit die beleid se beginsels uiteen, waarvan 6.1-6.3 die sogenaamde “normatiewe grondbeginsels” is.

  6.1 vermeld dat taalbeleid aan hoër onderwysinstellings “kognitiewe ontwikkeling, epistemiese toegang, inklusiwiteit, transformasie, maatskaplike samehang en respek vir alle tale” bewerk. Dit veronderstel ʼn beleid wat deurlopend die pad oopstel vir statusverhoging van die institusionele tale deurdat daar toegang tot die openbare kennisomgewing daargestel word. Afrikaans, in die US se geval, moet neerslag vind in leer, onderrig en navorsingsgeleenthede wat die US bied om haar status te verhoog deur daadwerklike inburgering in die akademiese omgewing. Die bewoording hier dui beslis op ʼn uitwaartse blik: Die universiteit het ʼn proaktiewe verantwoordelikheid jeens die gemeenskap se taalbehoeftes en -realiteite, eerder as ʼn blote vensterversieringsplig, veral as dit saamgelees word met klousule 2, wat regverdig waarom die US Afrikaans, Engels en Xhosa kies as tale wat ten beste bedien kan word. Die US kan dus nie net vir veeltaligheid voorsien soverre studente en personeel dit versoek nie, daar moet ʼn kritiese ingesteldheid wees om status-afname en ongelyke verhoudinge tussen die status van institusionele aan te spreek. Epistemiese toegang en transformasie is juis die teenpole van verengelsing. Die stelselmatige afwatering van Afrikaans deur onproaktiewe beleid word nie deur 6.1 geoorloof nie.


Klousule 6.2 is belangrik, sover dit taal as insluitings- eerder as uitsluitings- en diskriminasiemiddel wil aanwend. Gelees binne ʼn beleid wat ʼn meertalige omgewing probeer reguleer, kan hierdie beginsel nie as troefkaart gebruik word om Engels as verstekopsie te betrek nie. Dit moet eerder so verstaan word dat dit taalmeerderwaardigheid en oorheersing wil teëwerk. Dit skep wel ruimte vir die gebruik van Engels as tussentaal, maar terselfdertyd is daar die risiko dat klousule 6.2 as regverdiging gebruik kan word om Engels as enigste alternatief tot ʼn uitsluitende omgewing te beskou. Die klousule moet eerder uitsluiting tot betekenisvolle verkryging van studiehulpbronne en ander belangrike institusionele kommunikasie teëwerk terwyl dit juis progressiewe veeltaligheid, ook onder individuele studente en personeel, as hulpbron hiervoor betrek.


Klousule 6.3 betrek die begrip “pedagogies verantwoordbaar”, wat in die konsepbeleid gedefinieer word as “…leerfasilitering wat in studente se pedagogiese behoefte voorsien deur die ‘toepassing van outentieke beginsels op die ontwerp van leer vir hoër onderwys.’ Hierdie beginsels sluit in ‘relevansie vir die werklike wêreld’, ‘veelvuldige sienings’, ‘gesamentlike kennisbou’ en ‘outentieke assessering’.”

Uit die staanspoor kan hierdie begrip as insluitend van ʼn veeltalige leeromgewing beskou word. Konkrete relevansie, veelvuldigheid en saambou aan kennis, asook assessering wat ook toepassing op die werklike wêreld vind het almal bande met ʼn veel- en transtalige leerervaring. Taal is juis nie net ʼn kommunikasiemiddel nie, maar ook ʼn lens waardeur ʼn individu en hul taalgemeenskap die wêreld meer verken en verstaan. Dit behels ʼn sekere subjektiwiteit oftewel geleefde ervaring deur taal, wat nie alleen deur ʼn Engelstalige sienswyse te berde gebring word nie. Meer sienings en meer stemme is moontlik in ʼn taalpositiewe omgewing, waar taalverskeidenheid in leer- en onderrigruimtes nie op neergesien word nie. ‘Pedagogies verantwoordbaar’ behoort in die operasionele deel van die konsepbeleid juis die onus te verskuif na enige voorsteller om die meertalige aanbod te verskraal, eerder as dat dit verstaan word as ʼn begrip wat eentaligheid verkies. Die begrip kan in die definisieklousule met duideliker betrekking op taal geformuleer word, spesifiek hoe veeltaligheid en talige omgewings met sogenaamde ‘outentieke beginsels’ verband hou.


Klousules 6.4-6.10 se verhouding met die drie “normatiewe grondbeginsels” is onduidelik, omdat hulle blykbaar geensins wesenlik ondergeskik of anders toegepas moet word dan 6.1-6.3 nie. Net soos 6.1-6.3 moet 6.4-6.10 “ook in ag geneem word wanneer hierdie Beleid vertolk en die implementering daarvan gerig word…” Dit is onduidelik of hierdie oorblywende klousules ondergeskik aan die eerste drie is weens die eerste drie se skynbaar verhewe status. Die bewoording laat dit egter blyk dat daar nie wesenlik ʼn verskil in status of voorkeur tussen die twee stelle klousules is nie. Hierdie onduidelikheid ondermyn die drie “grondbeginsels” se rol in uitleg van die beleid. Omdat die oorblywende klousules skynbaar soortgelyke status aan die grondbeginsels het, verkry veral 6.9 (“redelikerwyse uitvoerbaarheid”)[3] en 6.10 (taalvoorkeure lei die toekoms van die taalbeleid)[4] ʼn magtige posisie in vergelyking met die klousules wat meertaligheid meer ter wille kan wees (6.1-6.3).[5]

6.9 en 6.10 word dan gebruik om ontsnapklousules in die operasionele deel van die beleid te bewapen. Deur empiriese taalvoorkeure voorrang te gee bo die norme soos die verhoging van taalstatus, meertalige epistemiese toegang en die gemeenskap se afhanklikheid van opleiding in hul taal om funksies van hul taal te kan uitbou, word die oogmerke en toekomsstrewes in die beleid by die hakskeen afgesny.


Deur 6.10 as bepalende kompaswyser te betrek, word die oorheersende rol van Engels, wat weens geskiedkundige magstryd so gevorder het, nie getemper nie maar juis bevorder. Indien die US ernstig is oor groeiende en kenmerklike meertaligheid in kennisskepping en toegang tot kennisbronne, sal dit moet erken dat taalvoorkeur as enigste bepalende faktor tot skade gaan lei, omdat die hele prentjie rondom taal, mag en politiek nie ingesien word nie. Dit is analoog daaraan om ʼn beleid te skep wat plaaslik-vervaardigde kleredrag moet rugsteun, maar ʼn klousule in te voeg wat toelaat dat vervaardigingsbeleid sal aanpas volgens markbehoeftes. As nie-plaaslike handelsmerke die markbehoefte oorheers weens die invloed en mag van internasionale vervaardigers, sal die beleid gevolglik hierby aanpas en sal plaaslike klerevervaardiging juis ʼn bloedneus kry. ʼn Beleid met ʼn tipe klousule soos 6.10 bevat ʼn besliste Trojaanse perd.


2 3      Spesifieke probleme: Klousules 7-13

 

Die operasionele klousules reguleer leer en onderrig asook die institusionele administrasie. Verder word steundienste soos die Taalsentrum en ander inisiatiewe jeens taal hierin vervat. Die begrippe “pedagogies verantwoordbaar”, wat meertalige leer, onderrig en navorsing kan omvat maar nie duidelik omskryf is nie, en die begrip “redelikerwys uitvoerbaar” word telkens aangewend om die Afrikaanse en Xhosa aanbod te kwalifiseer.


Daar word ook by 7.1.5 gevalle uiteengesit waartydens daar net in een taal onderrig kan word.

7.1.5.2 oorloof eentaligheid indien die betrokke dosent net in een taal vaardig is. Wat hierdeur veronderstel word, is dat akademiese vaardigheid in Afrikaans waarskynlik nie eens minstens ʼn oorweging is in die aanstellingsproses nie. As taaldiversiteit glad nie in die aanstellingsprosedure vir doseerpersoneel ingebou word nie, sal die Afrikaanse aanbod onreëlmatig en in die fakulteite beskikbaar wees, en sal dit waarskynlik die ammunisie vir die bewapende begrip “redelikerwys uitvoerbaar” wees.

Klousule 7.1.9 kort akademiese ontwikkeling en lewenskragtigheid van Afrikaans in deur assesseringsgeleenthede slegs op voorgraadse vlak te waarborg, en ook net vir vakke wat nie op NKR-vlak 8 is nie.[6] Die geleentheid self is net betekenisvol indien ʼn Afrikaansstuderende student wel toegang tot Afrikaanse lesingmateriaal gehad het, wat self weer van ʼn menigte ontsnapklousules afhanklik is soos vervat in die res van klousule 7. Sonder assessering in Afrikaans op sekere voorgraadse en alle nagraadse vakke, word studente se dryfveer om Afrikaanse studies voort te sit gekortwiek en word kennisskepping in die navorsings- en nagraadse omgewing ontmoedig.

Klousule 7.1.8 haal eweneens die wind uit nagraadse Afrikaanse studies se volhoubaarheid, deurdat dit die vereiste stel dat meertaligheid afhanklik is van alle studente en dosente wat betrokke is se taalvaardigheid in die betrokke tale. Die hemelhoe vereiste waarborg dat geen Afrikaans op nagraadse vlak gebesig sal word nie, en moedig ook nie ʼn meertalige navorsingsomgewing aan nie. Studente word sodoende ontmoedig en geensins aangespoor om meertalig te kwalifiseer nie. Die indruk word summier gewek dat Afrikaans nie verdere studie werd is nie.

Klousule 7.1.12 skep ʼn algemene ontsnappingsklousule,[7] wat weens die oorheersende rol wat klousules 6.9 en 6.10 speel, maklik met Afrikaanse aanbod kan wegdoen. Dit toon ook geen bewustheid van die kumulatiewe aard van kennisbou nie, en sodoende sal ʼn tydperk waar daar geen Afrikaanse aanbod beskikbaar was nie, baie skadelik wees vir die voortsetting van studies in Afrikaans deur individuele studente en die voortbou van kennis in die betrokke fakulteit en vakgebied.


Wat kommunikasie betref, is veral twee punte bevraagtekenbaar.

Die een is 7.2.3, wat “redelikerwyse uitvoerbaarheid” as standaard aangewend word. ʼn Eenvoudiger standaard as die omslagtige omskrywing van redelikerwyse uitvoerbaarheid, is om vrae in ʼn bepaalde taal in die vraer se taal te beantwoord of te verwys na ʼn kollega wat die vraag kan beantwoord, tensy so ʼn gepaste plaasvervanger glad nie beskikbaar is nie en dringendheid vereis word. 7.3.3, ook oor eksterne kommunikasie, bepaal dat “die US se vermoë” die standaard is waarvolgens bepaal sal word of daar aan ʼn taalvoorkeur voldoen kan word of nie. Die standaard is vaag, en skep geen waarborge vir kommunikasie in institusionele tale anders as Engels nie.


3         Voorstelle

·        Die beleid behoort alle tersaaklike grondwetlike bepalings rondom taal te betrek, en nie kies en keur onder bepalings nie.


·        Die beleid moet die grondbeginsels beter verhef of in verhouding stel tot die beginsels vervat in 6.4-6.10.


·        Die beleid moet erken hoedat amptelike tale weens sprekersomvang, historiese verdrukking van sprekers en internasionale magspolitiek nie op gelyke voet verkeer nie, en dat beskermings- en aansporingsmeganismes teen veral verengelsing nodig is.


·        Proaktiewe meertaligheid moet betrek word deurdat die US veeltalige omgewings in woord en daad aanmoedig. Navorsing en verdere studie in meer as een institusionele taal moet beloon word, en studies in ʼn taal anders as Engels moet vergemaklik en aktief aangemoedig word, ten einde taalgelykwaardigheid en positiewe taalopheffing te laat geskied.


Voetnotas:


[1] Artikel 6(2): “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.”

[2] Artikel 30: “Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, maar niemand wat hierdie regte uitoefen mag dit doen op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.” 

[3]Klousule 6.9: “Die Taalbeleid en die implementering daarvan word gerig deur wat in spesifieke kontekste redelikerwys uitvoerbaar is. Tersaaklike faktore wat oorweeg moet word, sluit in sonder om beperk te wees tot die drie normatiewe grondbeginsels soos in 6.1 tot 6.3 gestel; die getal studente wat by ’n spesifieke wyse van implementering sal baat vind; die akademiese taalvaardigheid van die betrokke studente; die beskikbaarheid en akademiese taalvaardigheid van personeellede; rooster- en lokaalbeperkings; en die US se beskikbare hulpbronne en die mededingende aansprake op daardie hulpbronne.”

[4] Klousule 6.10: “Die Taalbeleid pas aan by die veranderende taaldemografie en taalvoorkeure van studente en personeellede.”

[5] Klousule 6.5: “Die US erken die komplekse rol van taal oor die algemeen, en van ons afsonderlike tale in die besonder, in ons samelewing. Alle tale word as hulpbronne vir die doeltreffende opbou van kennis beskou.”

[6] Klousule 7.1.9: “Vraestelle vir toetse, eksamens en ander summatiewe assesserings in voorgraadse modules is in Afrikaans en Engels beskikbaar. Dit sluit voorgraadse modules op Nasionale Kwalifikasieraamwerk- (NKR-) vlak 8 en nagraadse kwalifikasies op NKR-vlak 7 uit. Vraestelle vir toetse, eksamens en ander summatiewe assesserings in nagraadse modules is slegs in Engels beskikbaar. Dit sluit voorgraadse modules op NKR-vlak 8 en nagraadse kwalifikasies op NKR-vlak 7 in. Studente mag alle assesserings beantwoord en alle skriftelike werk inlewer in of Afrikaans of Engels.”

[7] Klousule 7.1.12: “Fakulteite kan in spesifieke gevalle van die beleidsbepalings in 7.1 afwyk, maar slegs as die afwyking: 7.1.12.1 Met die beginsels van hierdie Beleid strook; en 7.1.12.2 Geregverdig word deur die menslike en fisiese hulpbronne wat die Universiteit beskikbaar stel, deur pedagogiese oorwegings of deur fakulteitspesifieke oorwegings.”

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: