Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Mei 2021

Voorwoord vir die boek oor die Afrikaner-Broederbond 


Op 21 April 2021 het Prof Hermann Giliomee ʼn kopie van die boek: “Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.”  deur Prof Ernst Stals ontvang. Prof Giliomee wat die voorwoord vir die boek geskryf het, het die kopie ontvang van die hoofsekretaris, Jan Bosman, wat ook ʼn onderhoud gevoer wat in verkorte weergawe uitgesaai sal word tydens die boekbekendstelling op 5 Mei 2021 om 16:00

 

Hier volg uittreksels uit die voorwoord: 

 

Voorwoord

deur Hermann Giliomee

Gedurende die laat-1980’s het ’n pa en sy seun, albei lede van die Afrikaner-Broederbond, (AB), oor die organisasie se invloed gesels. Die seun het gevra: ‘Hoekom sien die Engelse pers die AB as ’n magtige organisasie met ’n enorme invloed op die regering en sy beleid?’ Die antwoord was in die kol. ‘Omdat die AB ’n geheime organisasie is.’

 

Natuurlik is dit net deel van die antwoord. Die Vrymesselaars is ook ’n geheime organisasie, maar niemand beskou hulle as polities invloedryk nie. Na bewering bevorder hulle hul mede-lede se persoonlike belange, maar dit is kwalik vergelykbaar met die AB se invloed op die Nasionale Party-regering en ander instellings, soos universiteite en sinodes waar Broederbonders aan die spits van sake was.

 

Werklike bewyse is skaars. Sommige joernaliste het die AB as buitengewoon invloedryk beskou omdat al die NP-leiers en die meeste NP-kabinetslede Broederbonders was. Die vraag is egter: Is daar bewyse van AB-invloed op die kabinet of was die AB net een van verskeie drukgroepe wat op die kabinet invloed probeer uitoefen het en wat die kabinet gebruik het om sy besluite uit te dra?

 

Dit is misplaas om die verskynsel van ’n geheime politieke organisasie aan die Afrikaners se karakter toe te skryf. ’n Verklaring moet veel eerder gesoek word by die Britse kiesstelsel, die sogenaamde Westminsterstelsel wat in Brittanje ontstaan het en in 1910 in Suid-Afrika ingevoer is. Onder hierdie kiesstelsel, wen die party wat die grootste etniese groep in die kieserskorps verteenwoordig, gewoonlik. Met die Afrikaners wat 55%-60% van die kieserskorps gevorm het en ’n ekonomie wat deur Engelssprekendes oorheers is, was ’n Afrikanersege by die stembus verseker mits hulle agter ʼn enkele party verenig was. Daarvoor het AB probeer sorg en daarom het sekere Engelse kommentators so

’n karikatuur van die AB probeer skep. In 1994 is die AB as ’n geheime organisasie met beperkte lidmaatskap ontbind. Dit het ’n oop en deursigtige organisasie geword met geen beperkings op lidmaatskap wat betref ras en geslag nie. Die naam is verander tot die Afrikanerbond. Van sy werksaamhede is om lede te voorsien van kundige ontledings

van onlangse ontwikkelinge.

 

Die AB wat tussen 1918 en 1994 bestaan het, bly een van die mees omstrede organisasies in die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die twintigste eeu. Dit was ’n uitstekende besluit van die AB om in die vroeë 1990’s ’n top historikus te vra om die geskiedenis van AB aan die hand van uitputtende argiefnavorsing te boek te stel.

 

Die historikus wat die opdrag gekry het, is Ernst Stals wat op dertigjarige ouderdom reeds lid van die Ruiterwag (een van die AB se voedingsbronne) en van die AB self was. Stals is ’n gerekende historikus wat onder vakgenote hoog aangeslaan word vir sy akademiese integriteit, historiese insigte en gebalanseerde oordeel. As professor aan die Randse Afrikaanse Universiteit het hy die leiding geneem in die projek om die dikwels, traumatiese geskiedenis van Afrikaner-vestiging in Johannesburg op te skryf.


In Stals se boek oor die AB kry ons vir die eerste keer ’n omvangryke, nugter beoordeling en waardeskatting van die AB. Dit is duidelik dat sy opdraggewers hom gevra het om, in sy behandeling van die AB, niks terug te hou nie en die waarheid te vertel soos hy dink wat dit eintlik gebeur het’, en soos wat hy dit vandag verstaan.


Stals vertel die verhaal van ’n organisasie wat in 1918 in Johannesburg gestig is om die Afrikaners te help om op die been te kom in die benarde situasie waarin hulle in die Goudstad verkeer het. Duisende Afrikaners was heeltemal onvoorbereid vir werk op die myne en in die nywerhede. Slegs enkele Afrikaanse skole het bestaan. Teen die middel-1930’s het Afrikaners net twintig ondernemings in Johannesburg besit. Aan die Witwatersrand het Engelse hoofartikelskrywers met mekaar gewedywer om op die neerhalendste manier oor Afrikaans te skryf. Mynmagnate het roekeloos winste nagejaag en die kleurslagboom verwerp. In die vroeë 1930’s was Suid-Afrika in sy ergste, ekonomiese depressie ooit.

 

Die opvoedkundige standaarde van die Afrikaners was baie laag vergeleke met wit Engelssprekendes. ’n Studie van 1933 het gerapporteer dat uit ’n klas van honderd wat saam skool begin het, het 44 die skool verlaat sonder om standerd ses te slaag, slegs 17 het standerd agt geslaag en slegs agt matriek. Minder as drie het universiteit toe gegaan. In 1939 was slegs ’n derde van alle blanke studente aan universiteite Afrikaners, op ’n tydstip toe hulle 56 persent van die blanke bevolking gevorm het.

 

Pogings deur Afrikaners om hulself ekonomies of maatskaplik te organiseer, is gou deur sekere Engelssprekende meningsvormers afgekraak as ‘fighting the Boer War all over again’. In hierdie omstandighede het die AB in 1929 besluit om hom in ’n geheime organisasie te omskep ten einde die Afrikanersaak te bevorder.


Twee Eerste Ministers, genl. J.B.M. Hertzog en genl. J.C. Smuts, het die geheimhouding aangegryp om die beweging vir eie politieke gewin te probeer diskrediteer. Vreemd genoeg gebruik werke oor die AB die twee premiers se uitsprake sonder enige kritiese ontleding van hul motiewe en belange. Hiermee skep hulle ’n vergesogte beeld van die AB as ’n soort deus ex machina in die opkoms en handhawing van Afrikanermag tussen 1934 en 1994 en in die formulering en afdwing van apartheid. Dit bied ’n samesweringskomplot wat nie as ernstige geskiedskrywing beskou kan word nie. Dit het aan die AB ’n belangrikheid, buite alle verhouding met die werklikheid, toegeken.


Hermann Giliomee

Maart 2021

 

Die volledige voorwoord is in die boek “Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” deur Prof ELP Stals ingesluit en hieroor brei prof Giliomee meer uit in ʼn verkorte onderhoud wat op 5 Mei 2021 uitgesaai word wanneer Freek Robinson in gesprek met die outeur Prof Ernst Stals is.

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: