Die Afrikaner-Broederbond en baantjies vir boeties
Deur Johan Mostert
Die bewering word gereeld gehoor die ANC se kaderontplooiingskomitee werk net soos die Afrikaner-Broederbond in die verlede gewerk het. Die AB word daarvan beskuldig dat hy baantjies vir boeties geskep het en poste in die staatsdiens en semi-staatsorganisasies vir lede, vriende of familie gereserveer het.
Dit kan onomwonde gestel word: daar was géén meganismes of prosedures in die AB om lede te identifiseer en aan te beveel vir aanstelling in die staatsdiens nie. Die Staatsdienskommissie was verantwoordelik vir die aanstelling van amptenare. Hierdie kommissie sou dit doodeenvoudig nie duld om voorgeskryf te word oor wie hy mag aanstel en wie nie.
Dat die AB nie so “almagtig” was om mense in top poste aangestel te kry nie, getuig die aantal direkteurs-generaal wat nie lede van die AB was nie. Daar was van hulle wat die AB selfs antagonisties gesind was, en tog is van hulle in sleutelposte aangestel.
Dit is egter so dat ‘n beduidende aantal lede van die AB in die topstrukture van die staatsdiens en as leiers elders in die samelewing aangetref kon word. Dit kan egter nie aan “kaderontplooing” toegeskryf word nie. Dit was nie ‘n geval van ledebevoordeling nie, maar ‘n saak van meriete. Die AB se benadering met ledewerwing was om jonger mense te identifiseer wat bereid was om onbaatsugtige diens aan die gemeenskap te lewer. Leierspotensiaal was hoog op die lys van eienskappe waarna gekyk is. Dit is dus net natuurlik dat lede sou kon vorder tot die hoogste vlakke.
Natuurlik is dit moontlik dat lidmaatskap gebruik kon word om die eiebelang te bevorder, maar dit sou in stryd wees met die instellingsformulier wat elke lid afgelê het en gereeld as erekode by elke vergadering voorgehou is:
“Om individueel en gesamentlik, in geesverwantskap ons Godgegewe talente diensbaar te maak aan die saak waarin ons glo.
Om te dien - nie om gedien te word nie.
Om te gee - nie om te ontvang nie.”
Om die Broederbond en baantjies vir boeties los en vas te gebruik en selfs te koppel ter verdediging of ter versagting van die staatskaping van die ANC kan nie goedsmoeds aanvaar word nie. Onbevoegde kaders is op groot skaal aangestel wat tot die verval van staatsentiteite en staatsfunksies gelei het. Dit is hartseer en ironies dat dit dieselfde entiteite is wat in ʼn vorige bedeling opgerig is met knap kundigheid en ervaring en aangewend is tot voordeel van almal.
Vanuit die publikasie “Draer van ʼn Ideaal 1918-1997: Die Afrikanerbond” wat in Desember 1997 saamgestel is vir indiening by die Waarheid en Versoeningskommissie die volgende:
“Vertroulikheid het die nadeel gehad dat dit die AB (Afrikaner-Broederbond) maklik kon brandmerk as 'n geknoeiery - as ʼn sameswering of as duistere aktiwiteite wat nie geopenbaar kan word nie. Dit het veral vir kerke, predikante, politieke partye en politici probleme geskep. Beskuldigings wat die mees algemeen ingebring is, is dat lede mekaar bevoordeel in die verkiesing tot ampte en in aanstellings in openbare poste, dat daar teen nie-lede gediskrimineer word, en dat daar manipulering van besluite en mag plaasvind. Juis daarom het sommige joernaliste daarvan 'n gewilde bedryf gemaak om die AB te "ontmasker". In die proses is baie sensasionele berigte met onvolledige of verdraaide waarhede die wêreld ingestuur. Dit het meegehelp om 'n negatiewe persepsie van die AB by mense te laat ontstaan. Die AB het selde probeer om hierdie verdraaiings en wanpersepsies teen te werk- enersyds omdat dit moeilik vir 'n vertroulike organisasie sou wees, en andersyds het hy so sterk geglo in die ideale en beginsels waarvoor hy gestaan het, sowel as in die integriteit van sy lede, dat hy enige openbare regstellings of teenreaksie vermy het.”
Ook vanuit die bogenoemde dokument
“Die AB (Afrikaner-Broederbond) is primêr ʼn meningsvormende denke inisiërende instelling wat die geleentheid aan sy lede bied om aktueel en dinamies standpunte te stel en te verneem, tot nuwe insigte te kom, en om dan die insigte en perspektiewe in sy besondere invloedsfeer, volgens eie oordeel en inisiatiewe te stel en verder uit te dra. Lede oefen dus vanuit die omgewing en kultuur van die AB individueel invloed uit op politieke kerklike en ekonomiese terreine. Waarvan die AB egter nie beskuldig kan word nie is sinisme, kwaadwilligheid en konkelary.”
Waar foute gemaak is het die AB dit erken, maar daar was ook tye toe die Afrikaner-Broederbond en ook die Afrikanerbond onverskrokke standpunt ingeneem het teen sowel die Nasionale Party-regering net soos wat die AB tans teen die ANC-regering standpunt sal inneem. Sentralisasie van politieke mag, en beheer en aanstellings uit die binnekamers van ʼn politieke hoofkantoor is verkeerd en daarom moet kaderontplooiing veroordeel word want dit skep ʼn ongelyke samelewing met ongelyke geleenthede en bevestig party lojaliteit bo die waarde van meriete en individuele prestasie.
‘n Belangrike aspek wat in gedagte gehou moet word, is dat die AB op geen manier opdragte kon gee aan sy lede nie. Die Uitvoerende Raad van die AB het nie oor daardie soort magte beskik nie. Dit verskil heeltemal van hoe die ANC sy lede opdrag kan gee om te ontplooi. Trouens, die gedagte om sy lede te “ontplooi” sou vreemd wees vir die AB.
Die publikasie van “Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” Deur Prof ELP Stals word op 5 Mei 2021 in Johannesburg bekend gestel.
Stuur ʼn e-pos na hoofkantoor@abond.co.za of na kommentaar@abond.co.za om die bestelvorm te ontvang.
Of
Bestel aanlyn (Slegs AB lede en lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
https://www.afrikanerbond.co.za/ab-boek-elp-stals
Skakel na uitgewer vir nie-lede
http://groep7-selfpublish-books.co.za/product/die-broederbond-elp-stals/
Adres