Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Mei 2021

Die kettery van die politiek van geloof

 

Deur Prof.  Albert Venter

Emeritus Professor: UJ

 

Nota: Klem op verbeelde werklikheid van die politiek en dat politiek vlak twee kompleksiteit verteenwoordig. voorspelling beïnvloed die politieke gemeenskap en daarom is politiek in wese gebeurtenis gedrewe en nie juis voorspelbaar nie. bv voorspelling van ‘n revolusie.

 

Voormalige President Zuma se  uitlatings oor die ANC-toegangskaartjie tot die hemel en die opposisie-kaartjie na die hel verklap miskien meer van die ANC se kernselfbegrip as wat meeste gewone mense besef.  Baie van die moderne politiek is ‘n hoofstuk in die geskiedenis van die politiek van geloof. Die 21e eeu is getuie van die ashoop van mislukte pogings tot die konstruksie van politieke hemele op aarde: fascisme, kommunisme, apartheid, polpotisme, die VSA-neo-konserwatiewe hoop op die demokratisering van die Midde-Oosterse Islam-Arabiese state, die groenes se terug na die aarde ekonomie, en laaste maar nie die minste nie, die Nasionale Demokratiese Revolusie van die ANC,  is nog een van hierdie geloofsbelydenisse.

 

Jesus en sy volgelinge het geglo dat hulle na aan die Eindtyd leef en dat die gruwels van die wêreld vinnig op pad uit was: siekte en dood, hongersnood, oorlog verdrukking sou alles tot ‘n einde kom na die slag van Armageddon waarin Satan finaal verslaan sal word en ‘n duisendjarige vrederyk tot stand sou kom: die millennium. Dit sou ‘n goddelike handeling wees, buite tyd en ruimte. Ironies, met die agteruitgang van die Christendom in veral Europa,  en die opkoms van die Eeu van die Verligting, het die geloof in die Eindtyd nie vervaag het nie: dit het vererger, maar nou in sekulêre gedaante – die mens se rede en handelinge sou sy eie skepper van die millenium wees – en dit moet uiteindelik na ‘n politieke Hades op aarde lei.

 

Hier in Suid-Afrika beleef ons dit nou weer dat die ANC die land wil red deur die politiek van geloof. Wie aardse redding deur die politiek verwag, is skuldig aan ‘n droomwêreld wat uiteindelik deur die werklikheid aan skerwe geruk sal word. Die uiteindelike doelwit van alle leerstellings van hemel op aarde is een van finale harmonie tussen mense. En dit is ‘n onwerklike en onhaalbare hoop. ‘n Politieke projek is onhaalbaar as daar geen omstandighede bestaan waarin dit prakties verwerklik kan word nie. Sprekend hiervan is die sogenaamde uitkomsgebaseerde onderwys van die afgelope 15 jaar.

 

Die ANC-Alliansie het ‘n duidelike, rasionalisties geïnspireerde siening van die nuwe staat en samelewing wat post-1994 in Suid-Afrika tot stand moet kom. Hierdie einddoel is ‘n nie-rassige, nie-seksisties, egalitariese en ontwikkelende samelewing waar almal ‘ordentlike’ werk moet kry. Dit moet bewerkstellig word deur die toepassing van die NDR. Die staat self moet aangewend word om hierdie doelwit te bereik. In wese beteken dit dat die staat as ‘n ANC-bestuurde onderneming bedryf moet word.

 

Die dominante denkraamwerk van die ANC (ontwikkeling, transformasie, nierassigheid en demokratisering) is DIE  ideaal wat  bereik moet word. Die politieke uitgangspunt(e) wat ten grondslag van hierdie selfkonsepsie lê, is ideologies eerder as pragmaties gedrewe – en dus uiters moeilik om met feite / die werklikhede van die dag weerlê te word.

 

Die ANC se siening met betrekking tot regeerkunde is dat die staat in al sy geledinge, aangewend moet word om DIE ideaal te bereik. Die ANC sien sigself as die verpersoonliking van die nasie en is geroepe om Suid-Afrika, deur gebruik van staatshulpbronne na ‘n bepaalde en geïdealiseerde einddoel te lei. Dit is die politiek van geloof, eerder as ‘n regeerkunde van die praktyk en pragmatisme. Met so ‘n denkraamwerk word regeerkundige mislukkings nie maklik aanvaar nie – die beleidsuitvoerders word vir mislukkings geblameer – of ‘n rasse-, taal- of godsdiensgroep. Die politiek van geloof, vind neerslag in die opvatting dat die politieke einddoel (politieke hemel) bereik sal word deur die staat as onderneming te bestuur.  

 

Die ANC glo dat die Suid-Afrikaanse samelewing omvorm (getransformeer) kan word deur ‘n nasionale demokratiese samelewing met ‘n gemeenskaplike doelwit te veronderstel. Dit is gemene saak dat die SA samelewing uiters divers (of heterogeen) is. Kan dit omvorm word om een gemeenskaplike doelwit na te streef, veral ‘n doelwit wat deur die ANC gestel is (as verteenwoordigend van maar ‘n gedeelte van daardie samelewing) en bestuur word? Indien lede, of ‘n beduidende getal lede, van die samelewing nie meer deur die doel geïnspireer word nie, of glad nie daarmee saamstem nie, mag dit wees dat hulle hulself nie meer gebonde aan die samelewingsideaal ag nie en kan dit tot vervreemding van die politieke bestel aanleiding gee. Veral gegewe dat “‘n onderneming” nie te veel interne diversiteit kan toelaat nie – anders sal dit in selfkontradiksie verval.

 

Voorts moet in ag geneem word dat die essensie van ‘n onderneming vrywillige lidmaatskap is. Indien ‘n persoon nie meer met die doelwit van ‘n onderneming saamstem nie, kan s/hy daardie band vrywillig verbreek. Dit is nie die geval met ‘n staat nie – tensy ‘n mens emigreer. En die opsie is gewoonlik nie in ‘n komplekse samelewing soos SA, vir die meerderheid mense beskore nie.

 

Wanneer ‘n staat dus as onderneming bestuur word, en daar ontstaan beduidende weerstand teen die gemeenskaplike doelwit, is die versoeking groot dat die regerende party / kliek / oligargie, kan begin om maatreëls in te stel om lede van die politieke bestel te dwing om die groot ideaal na te streef. Vanselfsprekend word formele prosedures, grondwetlikheid van regeringoptrede en so meer dan ‘n doring in die vlees van die owerheid en word die reg dan wanaangewend om die doelwitte van die staat, soos deur die regerende party bepaal, te bewerkstellig. Die gevaar bestaan dus dat die regerende ANC meer en meer beheer oor die individue in die samelewing sal wil uitoefen – ter wille van die bereiking van die groter ideaal.

 Individuele vermoëns om denkend op te tree, om die staatsdoelwitte te bevraagteken kan potensieel dus deur ‘n bestuurderstaat, onderdruk word. So ‘n staat sal ook mettertyd poog om ‘n onafhanklike regbank en pers te onderdruk of onder staatsbeheer – direk of indirek – te plaas.

 

Individualiteit word mettertyd prysgegee, ter wille van gemeenskaplike solidariteit. Die staat word opgesaal met meeste samelewingsverantwoordelikhede: die staat moet voorsien, nie individuele poging nie. Dus word staatsprioritisering nie bevraagteken nie, meer word van die staat geëis en minder van die individu. Dit is reeds duidelik dat die ANC nie maklik van die visie sal afsien van sy selfbeeld as politieke redder van die samelewing nie en dat daardie redding in pas met die NDR moet wees.

 

Die realiteit van die politiek is dat dit ‘n gebeurlikheidshandeling is: daar is nie altyd rasionele oplossings vir probleme nie en pragmatiese optrede is ‘n voorwaarde van politieke handeling. In rasionalistiese, ondernemingsgedrewe, ideologiese politieke handeling, sal programme van optrede per definisie altyd kortkom. Regerings is dan geneig om hulle pogings om te bestuur en te beheer te versterk, want of daar is of fout met die plan, of fout met die mense wat die plan uitvoer. Met die plan kan eintlik nie fout wees nie – dis uiteraard ‘n “rasionele handeling”- dus is dit die mense, die opposisie, die blankes, die kapitaliste, die boere, die Afrikaners, partyverraaiers, immigrante, apartheidsgeskiedenis en so meer wat die plan saboteer of opponeer.   

 

State wat as ondernemings bestuur word, kom voor die probleem te staan dat die gestelde doelwitte verwagtinge by ondersteuners skep, en teleurstelling volg vinnig as dit nie gestand gedoen word nie. Opstand, vervreemding volg. Vars en nuwe toewyding deur die owerheid volg, nuwe teleurstellings word ervaar, meer staatsbeheer om die planne te laat werk kom op dreef. Die staat neig na groter magsbeheptheid, meer beheer, meer planne wat neig om te faal.

 

Daar is myns insiens ‘n hewige interne stryd in die ANC tussen die ideoloë en die praktiese mense, tussen diegene wat die staat wil gebruik om die ekonomiese millennium te bereik en diegene wat weet dat dit gewone mense is wat deur inisiatief en harde werk ‘n verskil maak. Jeugkommissies wat R100 miljoen uitgee op ‘n konferensie en dan voorgee dat dit bygedra het tot die bevryding van Tunisië is ‘n sprekende voorbeeld van die politiek van geloof wat losloop in die ANC-dampkring. Praktiese politiek wen gewoonlik, maar dit neem soms ‘n Wêreldoorlog (Nazisme), 70 jaar van mislukking (USSR), populêre opstand na 50 jaar (Egipte), ‘n 40 jaar lange ‘struggle’ (apartheid Suid-Afrika) om politici tot hulle sinne te bring. Daar lê nog ‘n lang stryd voor aleer die ANC van sy huidige politiek van geloof gedwing sal word..

 

Ek sluit af met Oakeshott se bekende woorde van 1950:

Oakeshott thus strongly resisted the belief that governing and politics were the means through which we can emerge from an age of exile and reclaim our Garden of Eden. He countered this view by famously stating that

                       

In political activity, then, men sail a boundless and bottomless sea; there is neither harbour for shelter nor floor for anchorage, neither starting-place nor appointed destination. The enterprise is to keep afloat on an even keel; the sea is both friend and enemy; and the seamanship consists in using the resources of a traditional manner of behaviour in order to make a friend of every hostile occasion.

 

There simply are no human guides wise enough nor or conditions pure enough where we can envisage the need for political activity to come to an end. Politics has no final goal, nor even a secure resting place. This is an appreciation that might serve the ANC government well, for the acknowledgement of the limits of politics would be a first step in the direction of avoiding the negative and even destructive implications of an overbearing enterprise association for all the people of South Africa.

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: