Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Mei 2021

Vryheids- en Werkersdag - Het ons rede om iets te vier?

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Vryheidsdag – die oorsprong;

Waar Suid-Afrika op 27 April 2021 die 27e jaar van demokrasie “vier”, moet Vryheidsdag en Werkersdag op 1 Mei 2021 gesien word teen die agtergrond van ‘n minderheid en meerderheid wat mekaar, vanuit ‘n posisie van konflik, kon vind rondom ‘n onderhandelingstafel. Uit hierdie onderhandelinge is ‘n nasionale akkoord bereik wat neerslag gevind het en geformaliseer is in ‘n oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996. Alhoewel nie volmaak nie, bied die grondwet voldoende ruimte aan enige regering vir wye besluitneming en word burgerlike regte voldoende beskerm.

 

Vryheid- en werkersdag – in 2021;

Na 27 jaar van demokrasie, bring ‘n bestekopname van die huidige toedrag van sake egter die donker sy van meerderheidsoorheersing na vore. Dit het duidelik geword dat die regerende party se beleidsuitvoering en uitsprake deur sommige individue die bepalings en ideale van die SA grondwet systap en soms ondermyn.

 

Die beleidsraamwerke oor grondhervorming en onteiening, die onverstaanbare dryf na grondwetwysigings, eensydige straatnaamveranderinge, die beperking van Afrikaans by universiteite, toenemende misdaad en plaasmoorde en vele meer het simptomaties geword van ʼn meerderheidsparty wat geen respek vir die Grondwet en die Nasionale Akkoord het nie en doodeenvoudig die burgerlike samelewing probeer oordonder met ongetoetste en ondeurdagte beleidsraamwerke, gegrond op uitgediende ideologieë. Indien konstruktiewe dialoog binne die raamwerk van die Grondwet oor hierdie knel- en kwelpunte met die regering en regerende party moontlik was, sou die toenemende konflik tussen die regering en die burgerlike samelewing vermy kon word.

 

Dit is egter in ʼn ideale wêreld waarin politieke wil en die Suid-Afrikaanse belang eerste gestel sou word waarin vryheidsdag werklik betekenis sou kon kry. Tans word ons regering se besluite gerig binne die Wet op Rampbestuur wat – so het ervaring ons geleer - roekeloos ingespan word vir ʼn klomp regulasies en optredes wat moontlik andersins nie toegelaat sou word nie.

 

Ou Kubaanse lojaliteite word beloon

Maar meer nog. Ou Kubaanse lojaliteite word beloon en meer vrae as antwoorde het ontstaan met die geweldige koste om in 2020 Kubaanse dokters na Suid-Afrika te bring en hulle hier te hou.. Volgens sommige berigte is die koste van die 187 Kubaanse gesondheidswerkers sowat R439 916 337. Dus ʼn halfmiljard Rand in ʼn tyd wat ons ekonomie noustrop trek. Nou is 24 Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika gebring om Suid-Afrika behulpsaam te wees met sy water infrastruktuur. Die koste verbonde aan die klompie ingenieurs beloop R64,6 miljoen. Volgens AfriForum het die Departement van Water en Sanitasie in 2017 reeds ongeveer R12 miljoen bestee om Kubaanse ingenieurs aan te stel, maar nooit ’n verslag bekendgemaak oor die werk wat verrig is nie.

 

Suid-Afrika het dus ʼn kliënt van Kuba geword wat oor tyd sy menslike vaardighede uitvoer na ander lande en so ʼn stewige inkomstebron vir die Kubaanse regering word. Slegs die menshandel in mediese kundigheid van Kubaanse dokters regoor die wêreld bring na wat berig word jaarliks $6–$8 miljard in inkomste vir die Kubaanse regering. Deur ideologiese bevordering befonds Suid-Afrikaanse belastingsbetalers dus indirek die regering van Kuba.

 

Dit is egter nie nuwe lojaliteite nie. In 2017 onthul die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, ʼn standbeeld ter waarde van R3 miljoen van Fidel Castro in Bloemfontein. Die leier van Kuba wat ʼn internasionale toonbeeld is van mislukte sosialisme word in Bloemfontein vereer deur Magashule wat saam met Zuma die leidende geeste is in die staatskaping projek. Dit is ook hulle wat Radikale Ekonomiese Transformasie en die Nasionale Demokratiese Rewolusie bevorder. Verbind die politieke faksies en hul leiers met die uitvoering van besluite en ʼn duideliker prentjie van Kubaanse lojaliteite kom na vore.

 

Vryheidsdag – wat van Suid-Afrikaanse kundigheid en Afrikaners se openbare bereidwilligheid?

-      ʼn Klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner

Dit is die een kant van die prentjie. Die ander kant is dat die plaaslike bereidwilligheid en aanbiedinge om te help eenvoudig geïgnoreer word. Op 27 Februarie 2021 bied ʼn groot groep Afrikaner organisasies onder die vaandel van die Afrikaner-Afrika Inisiatief deur middel van ʼn openbare verklaring en na gesprek met die Thabo Mbeki Stigting deur ʼn openbare standpunt aan:

-      “om tot die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika en Afrika by te dra deur hulle vaardighede, netwerk en hulpbronne te gebruik.”

   

En opnuut ʼn verbintenis te vestig met en spreek hulle uit tot ʼn:

-      “Begeerte om ’n inklusiewe ekonomie te skep om grootskaalse armoede die hoof te bied. Die Partye kom ooreen dat praktiese en gelokaliseerde ekonomiese ingrypingsprogramme aangepak moet word om plaaslike vaardighede en plaaslike kapitaal aan te wend om grootskaalse indiensneming te skep deur die verwydering van beperkende beleide en regulasies wat ekonomiese vernuwing belemmer.”

 

En dan die belangrike onderneming: 

-       “Munisipale infrastruktuur en die skepping van funksionele plaaslike regering. Die Afrikaner-gemeenskap wil met ander gemeenskappe saamwerk om alle beskikbare vaardighede en ervaring rakende munisipale infrastruktuur en verbandhoudende kundigheid in sommige van die sukkelende munisipaliteite te benut.”

 

Ter afsluiting in die ooreenkoms was die behoefte gestel

-      “om deur praktiese ervaring die “vertroue tussen ons mense en gemeenskappe te ontwikkel, maar – nog belangriker – om saam te werk om die gees van vuk’uzenzele, selfstandigheid, selfhelp en selfversorging onder die gemeenskappe te bevorder.”

 

Hierdie was ʼn openbare standpunt tot bereidwilligheid deur Afrikaners. Die kundigheid en ervaring is egter nie net beperk tot Afrikaners nie maar is opgesluit in baie Suid-Afrikaners se vermoë, ervaring en bereidwilligheid. Die klem op die invoer van Kubaanse kundigheid is gevolglik ʼn klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner.

 

Vryheids- en Werkersdag – Wat dit moet beteken

Die Kubaanse betrokkenheid skep groot ongemak by die meeste Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Die vrae oor die Kubane se teenwoordigheid in die land en wat die werklike koste vir Suid-Afrika sal wees word nie beantwoord nie. Die Kubane wat nie die plaaslike omstandighede ken en verstaan nie word teen groot koste ingevoer terwyl plaaslike kundigheid en ervaring gereed staan om te help. Dit is al telkemale in gesprekke en interaksie met die regering en die ANC uitgelig en aangebied. Skynbaar tel plaaslike kundigheid nie.

 

Vryheidsdag behoort vir Suid-Afrikaners ʼn dag van viering wees: vry van armoede, vry van misdaad en vryheid van ideologiese beperkinge, reëls en regulasies wat in die pad staan van ongekende ekonomiese groei.  Om werklik vry te wees sou beteken dat die ideologiese beperkinge van regstellende aksie en kwotas, transformasie en swart ekonomiese bemagtiging nie in spel sou wees nie. Om werklik vry te wees sou beteken dat die ekonomie gelyke geleenthede bied vir almal en dat meriete, prestasie en talent voorspoed en welvaart vir Suid-Afrika sou beteken het. 

 

Suid-Afrikaanse Vryheidsdag op 27 April 2021 en veral Werkersdag word waarskynlik slegs gevier deur die sowat 211 Kubane wat hulle eie sosialisme tydelik verruil het vir die korrupte Suid-Afrikaanse weergawe waarin ʼn handvol kaartdraende ANC-kaders onder die dekmantel van Radikale Ekonomiese Transformasie lustig voortplunder en steel. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: