Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

#AfrikaansMoedertaal
Internasionale Moedertaaldag - 21 Februarie


#AfrikaansMoedertaal          
21 Februarie 2022  

Die tema van UNESCO se 2022 Internasionale Moedertaaldag wat elke jaar op 21 Februarie gevier word is "Gebruik tegnologie vir veeltalige leer: Uitdagings en geleenthede." Volgens UNESCO het tegnologie die potensiaal om sommige van vandag se grootste uitdagings in onderwys aan te spreek. Meertalige onderwys gebaseer op moedertaal is 'n sleutelkomponent van insluiting in onderwys.

Die beginsel dat kinders vir ten minste die eerste ses jaar van hul skoolloopbaan in hul moedertaal onderrig moet word, word nou byna universeel erken. Ervaring oor die wêreld het ook getoon dat kinders 'n tweede (wêreld-) taal baie meer effektief aanleer indien hulle in `n taal onderrig word wat hulle verstaan. Die teenoorgestelde hiervan is dat indien kinders die grootste gedeelte van hul primêre skoolopleiding ontvang in 'n taal wat hulle nie verstaan nie - en wat hul onderwysers dikwels nie behoorlik kan praat nie - hul kognitiewe ontwikkeling ernstig benadeel word. Navorsing deur Dr Kathleen Heugh onthul merkbaar hoër resultate vir kinders wat hul laerskoolopvoeding in hul moedertaal ontvang.

Die Grondwet verklaar op ondubbelsinnige wyse dat al ons amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en dat "elkeen die reg het om onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse in openbare onderwysinstellings, waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is". Die 1996-Den Haag Aanbevelings ten opsigte van die Onderwysregte van die Nasionale Minderhede het voorgestel dat "...die leerprogram op laerskool verkieslik in die minderheidstaal (moedertaal) aangebied moet word." 

Dr Kathleen Heugh skryf in 2019 – “Vyf en twintig jaar na die amptelike einde van apartheid behoort dit moontlik te wees om gesonde onderwysbeginsels te skei van diskriminerende en onbillike beleid. Ons het dekades se navorsingsbewyse van binne Suid-Afrika, van dwarsoor Afrika en van elders. Dit bewys sonder enige twyfel dat die meeste skoolleerlinge nie kan leer nie deur medium van ’n taal wat hulle nie goed ken nie en wat hulle nie verstaan nie.”

Sy skryf verder: “Dit is eenvoudig onmoontlik om die sterk grondslae van geletterdheid en gesyferdheid te vestig in ’n taal wat nóg die leerders nóg hulle onderwysers goed genoeg ken. Die ontsettende, en kom ons wees eerlik, hartverskeurende mislukking van ons huidige onderwysstelsel om leerders te leer om te lees, te skryf en selfs basiese wiskunde te verstaan, is ’n skande.” 

Afrikaans – ons moedertaal kom van ver en het reeds enorm baie bereik vir so ‘n jong taal. Is dit te veel gevra dat ons kinders in hulle moedertaal, die mooiste taal Afrikaans onderrig word? 

Enkele Afrikaanse Taalfeite met erkenning aan Afrikaans.com 
  • Op 8 Mei 1925 (97 jaar gelede) is Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal erken. 
  • Afrikaans het duskant 7 miljoen sprekers wat dit die derde grootste taal in Suid-Afrika maak naas Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Engels word deur 4,8 miljoen Suid-Afrikaners as moedertaal gebruik, dus 9,6% van die bevolking. In Suid-Afrika is minder as die helfte van Afrikaanssprekendes wit (40%). (Sensus: 2011) 
  • Afrikaans is die meerderheidstaal in twee provinsies (Wes- en Noord-Kaap) en die tweede sterkste taal in drie ander provinsies (Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap).
  • Net vyf tale het in die twintigste eeu tot die hoogste vlak ontwikkel: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans.
  • Afrikaans het meer as 450 vakwoordeboeke.
  • Afrikaans word as vak by Belgiese, Nederlandse, Poolse, Russiese en Amerikaanse universiteite aangebied.
  • Afrikaans is die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook Internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar meer as 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan, wat Nederland, België en Suriname insluit.
  • Afrikaans het baie variëteite, bv Kaaps, Oranjerivierafrikaans en Standaardafrikaans. Hierdie variëteite is self heterogeen; Standaardafrikaans sluit bv in: Gariepafrikaans, Griekwa-Afrikaans, Nama-Afrikaans en die Afrikaans van die karretjiemense.
  • Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.
  • Van die meer as 7 000 tale in die wêreld staan Afrikaans (ten opsigte van aantal sprekers) in die 140ste plek.=
  • Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat met monumente vereer word.
  • Afrikaans is die enigste Wes-Germaanse taal wat buite Europa ontwikkel het. Daarom word dit ’n Afro-Germaanse taal genoem wat in Afrika gepraat word.
  • Afrikaans is ook ’n Suider-Afrikaanse Kreoolse taal wat in Botswana, Namibië en Zimbabwe gepraat word. Die kreoolse taal het in die 17de eeu ontwikkel in die Nederlandse kolonie, die Kaap de Goeie Hoop, onder die invloed van Nederlands, Khoi-Khoi en die gesproke taal van die slawe (Maleis).
  
ʼn Taal moet op 5 terreine teenwoordig wees volgens Prof Wannie Carstens van NWU 
1) die taal moet tuis gepraat word, 
2) die taal moet ‘n letterkundige funksie hê en dan in die besonder ‘n skriftelike weergawe daarvan, 
3) die taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê (dus as taal van onderwys op ‘n verskeidenheid vlakke), 
4) die taal moet ekonomiese nut hê (mense moet dus die taal kan gebruik in die werksplek) en;  
5) die taal moet ‘n owerheidstaal wees (mense moet in hulle taal met die staat kan kommunikeer).  

In ‘n bespreking op Saterdag 19 Februarie by die Afdeling Olievenhoutpoort in Randburg is 'n fokus geplaas op Afrikaans as moedertaal deur die volgende te beklemtoon:
#AfrikaansMoedertaal 
  • Wees Afrikaans deur ons koopkrag – ondersteun Afrikaanse skrywes, kunstenaars, en die bywoning van Afrikaanse feeste 
  • Bid in Afrikaans – Wees aktiewe lidmate van ‘n Afrikaanse kerk 
  • Leef Afrikaans – In ons huise en met moedertaal Afrikaanse onderrig in ons skole 
  • Beleef Afrikaans deur aktiewe lidmaatskap van Afrikaanse organisasies 
  • Betoon respek in Afrikaans – in interaksie met ander, ook met owerheidsinstellings 
  • Wees trots Afrikaans – Bevorder en praat ordentlike Afrikaans 
  • Vestig vennote in Afrikaans – Die breë Afrikaanse taalgemeenskap in al sy variasies 
  • Wees skeppend in Afrikaans – Gebruik tegnologie en ontwikkel Afrikaanse gebruik in toepassings.   

Moedertaaldag – 21 Februarie 2022 

Kommentaar: Moedertaaldag

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: