'n Lewe in Suid Afrika is nie veel werd nie - teenoor BBP Beveiliging
Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Presidensiële en ministeriële kavalkades word gereeld gesien op die N1 tussen Johannesburg en Pretoria en wat met flitsende blou ligte die reg van weg opeis in die grootste duurste swart motors. Die presidensiële kavalkades (vermoedelik) het 8-10 swart motors en sowat 6 verkeersmotorfietse wat die elite se pad korter en vinniger maak. Dit het ek verlede week self twee keer getel en gedeeltelik afgeneem.
Op ʼn onlangse vraag van die Vryheidsfront Plus het die minister van Polisie, Bheki Cele volgens die media geantwoord dat die persoonlike beveiliging van 184 politici, regters en ander ongespesifiseerde baie belangrike persone (BBP’s) die staat in die boekjare 2019-20 en 2020-21 meer as R6,6 miljard per jaar gekos het. Volgens berekenings kos dit per Baie belangrike Persoon sowat R18 miljoen per persoon per jaar die afgelope twee jaar. Dat die onbeholpe polisie minister ook nie weet wat die werklike omvang van sake is nie, word aangedui in ʼn vorige vraag van die Demokratiese Alliansie dat daar 209 BBP’s is. Daar is dus sowat 25 BBP’s waarvoor die polisie nie verantwoording kan doen nie.
Die BBP’s sluit ministers, adjunkministers, premiers, lede van die uitvoerende raad, die speaker en adjunkspeaker van die parlement, die voorsitter en adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, provinsiale speakers en adjunkspeakers in, asook die hoofregter, adjunkhoofregter en die onderskeie regter-presidente. Dit is nou die hoë regeringslui wat beveilig word:
Dat dit lankal nie meer oor beveiliging nie het ook duidelik geword. Dit het ook ʼn elite statussimbool geword. Dit het ʼn gereelde instelling geword dat burgemeesters en raadslede ook spog met “beveiliging” of lyfwagte en ander vorme van sekuriteit.
Midde in die spandabelheid aan BBP’s se beveiliging kan ons gerus net kyk na die hoofnuusberigte die laaste paar dae:
Elke Suid-Afrikaner wat streng volgens ʼn begroting werk gebaseer op inkomste en uitgawes weet dat persoonlike veiligheid en sekuriteit ʼn hoë prioriteit geniet. Dit word ʼn onderhandelbare gegewe aangesien dit duidelik is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens eenvoudig nie meer oor die vermoë beskik om hulle basiese funksies uit te voer nie. Ons weet ook uit onlangse vrae in die Parlement dat van die Polisie se 34 vliegtuie is slegs 15 operasioneel. In Gauteng werk slegs 1 van die 7 Polisie helikopters volgens Mei 2021 se mediaberigte.
Die R18 miljoen per persoon wat aan elkeen van die 184 BBP’s spandeer word vir hulle beveiliging, is in skerp en skrille kontras met die jaarlikse polisiebegroting van R1 600 per persoon vir die res van die Suid-Afrikaanse bevolking. Dit is skandalig en ongehoord en word ʼn boodskap gestuur dat die politieke elite ten alle koste beskerm moet word, waarskynlik teen hulself want die faksie- en binnegevegte neem toe.
Hoe meer die interne faksiegevegte toeneem hoe meer buitensporig word die BBP begroting. Kyk net hoe dit toegeneem het onder die ANC regering die laaste 15 jaar en as dit vergelyk word teen die R1,444 miljard wat volgens die Instituut vir Rasseverhoudinge aan BBP-beskermingsdienste bestee is in oudpresident Thabo Mbeki se hele tweede termyn van vyf jaar van 2004 tot 2009. In Zuma se tien jaar en twee administrasies (2009/2010 tot 2018/2019 is R9,528 miljard aan die BBP-beskermingsdienste bestee. Dit is oor tien jaar. Vandag betaal die belastingbetaler R6,6 Miljard per jaar aan die beskerming van 184 mense.
Terwyl meer as 5000 polisiebeamptes die president, en sy ministers en adjunk-ministers moet beskerm, belewe die gemiddelde Suid-Afrikaner ʼn lae intensiteit misdaadoorlog waarin 21 325 mense in 2019/20 vermoor is. ʼn Toename van 1,4% van die vorige jaar en slegs R1600 per persoon word hieraan spandeer terwyl sommige opposisiepartye beraam dat die begroting om BBP’s op te pas oor die laaste 21 jaar met nagenoeg 1150% gestyg het.
In die lae intensiteit misdaad-oorlog moet Jan-publiek homself teen toenemende misdaad beskerm, nie net van die klein opportunistiese kriminele op straat nie, maar ook teen ʼn kriminele ANC sindikaat wat regeer en wat elke beskikbare hulpbron leegstroop en sy burgers terselfdertyd wil ontwapen.
Suid-Afrikaners hou aan om ʼn bitter duur prys te betaal vir die ANC se onvermoë om sy eie interne faksies in toom te hou. Die interne gevegte het oorgespoel na misdadigheid op ongekende vlak in die openbare arena, en Suid-Afrika word gyselaar gehou deur ʼn kriminele gepeupel. Hoe belangrik die prioriteite is, moet gesoek word in die wesenlike verskil van R1600 per Suid-Afrikaner vir veiligheid teenoor R18 miljoen per persoon vir die 184 BBP’s - die room van die politieke elite. Dit vertel die volle verhaal.
Adres