Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Februarie 2021

'n Refleksie oor nie-rassigheid en identiteit


Deur Frederik van Dyk

 

Die DA se paleisrevolusie het grootliks om die kern Suid-Afrikaanse begrip van nierassigheid gehandel. Wat ras en identiteit betref, laat die liberale politiek dit aan gemeenskappe oor om self die betekenis, gewig en dinamika van groepslewe te bepaal. “Nierassigheid” blyk te beteken dat die waarskynlikheid dat jou groepsidentiteit historiese benadeling of bevoordeling aandui, onbelangrik is vir die staat se verhouding met die individu, vir doeleindes van burgerregte en sosio-ekonomiese opheffing. Die reg kyk dus “blind” na landsburgers, en maatstawwe soos bevoegdheid, verdienstelikheid, behoeftigheid en etiek word eerder gebruik om regte en pligte uit te deel.

 

Dit klink eenvoudig genoeg. So ʼn benadering los dalk selfs die netelige vraag oor voortgesette ras-gebaseerde benadeling op. Indien ras nie meer relevant is vir die regstaat se verhouding met die individu nie, en ook nie meer ʼn faktor is vir die verspreiding van hulpbronne tussen burgers nie, kan maatstawwe soos verdienstelikheid en behoeftigheid juis tot die maatskaplik-ekonomiese opheffing van die talentvolles en die armste mense onder ons lei.

 

Baat dit egter enigiemand as die regstaat geheel blind is vir identiteite en kulture? Watter rol kan die regstaat speel om die kulturele aspekte van ons rowwe verlede te help herstel?

 

Waarheen met identiteit?

Ons praat dikwels in Suid-Afrika oor diversiteit en nasiebou, maar daar is min gesprekke oor watter rol die staat moet speel om groepsidentiteite as hulpbronne van samewerking en opheffing aan te wend. Ten spyte van die grondwetlike waarborge om kulturele groepslewe, word die politiek van die dag dikwels so bedryf dat ʼn alleen-Suid-Afrikaanse identiteit aangeprys word as waardiger plaasvervanger van verskillende geleefde kulturele ervarings. Suid-Afrikaanswees word dus as ʼn neutrale identiteit voorgehou, wat uit die som van talle dele saamgestel word.

 

Suid-Afrikaanswees kan nooit volkome neutraal kan wees nie. Enige poging daartoe sal altyd gerig word volgens ʼn heersende politieke opvatting of standaard. Die geskiedenis bevat heelwat onderstrominge van oorheersing, diskriminasie en kontra-oorheersing deur verskillende politieke entiteite op verskillende tye.

 

Die toevallige uiteinde hiervan is dat ʼn heersende groep hul kulturele ervaring voorstoot as die neutrale norm, onder die dekmantel van eenheid en gelykheid. Vir die oorheerser is sy eie wêreld pasgemaak; vir die oorheersdes word daar gesê om in te pas by die oorheerser se meerderwaardige identiteit.

 

Suid-Afrikaanse politieke groepe se begrip van Suid-Afrikaanswees kan hiervolgens ontleed word: Die liberale Suid-Afrikaanse politiek – soos deur die ou SAP, PFP, DP en DA vergestalt – se individualistiese benadering kom dikwels ʼn sterk geurtjie historiese Britse kolonialiteit. Regter Owen Rogers se boek Lawyers in Turmoil (2020) illustreer hoe plaaslik-gebore, Engelssprekende koloniale elites in die Kaapkolonie en Natal in die jare voor die Jameson Inval die Afrikaners en ander inheemse mense se leefwyses en tale as minderwaardig afgemaak het, maar terselfdertyd namens die Uitlanders gelyke regte en ʼn verenigde Suid-Afrika bepleit het. Na die Tweede Anglo-boereoorlog het talle van hierdie elites in die politiek van die Unie betrokke geraak. ʼn Voorgesette Britse kulturele meerderwaardigheidshouding bestaan veral voort in hoe die Engelse taal bevoorreg word in Suid-Afrika.

 

Die ANC se unieke handelsmerk van Swart-geleide nasionalisme trek vir my dikwels op Sjina se nasiebouery, al wentelend om die paternalisme van die Han meerderheid. Ander groepe word tot ʼn meerdere of mindere mate ook as volwaardige elemente van die nasie beskou, maar die meerderheidsidentiteit skemer in elk geval op ʼn dominerende wyse deur. Die regerende party se outoritêre en puriteinse gedrag tydens die grendelstaat werp die moontlikheid op van ʼn elite “ABC-identiteit”: ʼn tipe Anglo-Black Christianity; swart Afrikane met Engels as voorkeurtaal en ʼn sosiaal konserwatiewe Christelikheid wat nie veel verskil van die behoudende beleidsvoorkeure van die NP nie.

 

Hetsy die DA, ANC of ander politieke groeperinge, is daar te vinde in Suid-Afrikaanswees talle identiteitselemente wat met mekaar stoei om dominansie, verpak onder lagies pragmatisme of regstelling. Die hegemoniese identiteitsopvatting van die dag, leer die filosoof Antonio Gramsci, sal vir die res dikteer wat die ‘behoorlike’ inhoud van Suid-Afrikaanswees is, en elemente van die oorheerser neig om Suid-Afrikaanswees eensydig in te kleur. Onder die Nasionale Party is aanvanklik Afrikanerdom en later Afrikaanse en Engelse witheid as die bepalers van Suid-Afrikaanswees gepropageer. ʼn Plaasvervanger-hegemonie word blykbaar onder die ANC voortgesit, wat verduidelik waarom openbare gedenkwaardighede soos eiename en monumente spesifiek die ANC-nalatenskap in Suid-Afrikaanswees vooropstel. Suid-Afrikaanswees is allermins neutraal.

 

Die naaste wat ons aan ʼn inklusiewe nasionale identiteit kan kom, is deur die unieke Suid-Afrikaanse vormingsgeskiedenis van die 1990’s as hoofsaak te koester. Die uitstaande kenmerke van die Suid-Afrikaanse 1990’s is die opbou van ʼn grondwetlike demokrasie deur plaaslik-onderhandelde oorgang, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Ook in multikulturele demokrasieë soos Indië, die VSA en (by analogie) die Europese Unie, word oorhoofse identiteit rondom die unieke gees van die demokrasie in daardie veelkleurige samelewings gekweek. Bevolkingsgroepe verbind hul aan die demokratiese instellings van die dag, aan die figure wat dit moontlik gemaak het en aan die burgerlike rituele van die regstaat, in parallelle saambestaan met onderlinge kulturele identiteit.

 

Die staat en groepslewe

Die staat, selfs een wat “blind” is vir ʼn burger se identiteit vir doeleindes van regte en pligte, kan nooit passief in die versoeningsproses en die bou van verhoudinge staan nie. Slim en betrokke staatsleiers sal aan strategieë moet werk om die verdelingslyne van die verlede op ʼn konkrete wyse aan te spreek. In hierdie opsig sal die staat wel as ʼn fasiliteerder van verhoudinge ʼn rol kan speel. Gesonde samewerking tussen die staat, kulturele organisasies, taaldrukgroepe, tradisionele leierskap en opvoeders kan juis help dat Suid-Afrikaners mekaar verstaan, verken en ondersteun.

 

In hierdie opsig sal dit problematies wees as ons nie-rassigheid interpreteer as die staat se kleurblindheid oor die algemeen. Dit sal kunsmatig wees, en ʼn mens kan opreg vra watter kulturele opvatting in so ʼn nasionale beleid sal oorheers. Indien ons egter nierassigheid verstaan en konkretiseer as die onbelangrikheid van ras en herkoms vir doeleindes van ekonomiese opheffing, sodat behoeftigheid en materiële tekortkoming eerder die maatstaf vir opheffing is, raak dit moeilik om die voortgesette belang van ras en herkoms as vernaamste materiële opheffingsmaatstaf te regverdig. As ons beleide skep wat mense uit armoede probeer ophef, sal die begunstigdes by verre oorwegend swart en bruin wees. In hierdie opsig is die DA se maatstaf baie sinvol, omdat armoede in Suid-Afrika ʼn welvaartsprobleem met ʼn rassemerker is, eerder as ʼn rasseprobleem met welvaart as merker.

 

Die kritiek wat wel geopper kan word, is dat ekonomiese opheffing onlosmaaklik met sosiale realiteite soos etniese verskille verbind is. Ons sal dwaas wees om die sosiale element van maatskaplik-ekonomiese opheffing ook met ʼn maatstaf van kleur-irrelevansie te hanteer. Vir duisende Suid-Afrikaners lê ʼn groot deel van hul menswaardigheid in die regstelling van ʼn verlede wat hul menswees op grond van hul etniese herkoms afgetakel het. Daarom sal sosiale beleide daarop toegespits moet wees om benadeelde bevolkingsgroepe te help om hul eiewaarde deur hul taal, geskiedenis, toekoms-strewes en kulturele erkenning te herbevestig.

Die DA se interne revolusie is op tipies Suid-Afrikaanse styl met ʼn kritiese rasbril bestudeer. Aan die een kant moet ons die kommentators se kritiese inslag teen Suid-Afrika se rassige agtergrond verstaan: Ons land het beleef hoe ras in die verlede ʼn meganisme van diskriminasie was, en tot vandag toe voel ons die sistemiese nagevolge van ʼn rassige verlede. Tog moet ons oplossings vir hierdie spoke uit ons verlede soek, en om ʼn nierassige beleidsoriëntering te verwerp sonder om ʼn grondige ontleding van die sosio-ekonomiese sinvolheid daarvan te onderneem, is om moedswillig en kieskeurig oor die relevante feite te wees.

 

Niemand kan stry dat nierassigheid vir doeleindes van ekonomiese opheffing sinvol en doelmatig is nie. Ons kan wel stry of maatskaplik-ekonomiese regstellingsplanne genoeg erns met groepsidentiteit maak, omdat dit relevant is vir ons land se verlede, hede en toekoms. Die tyd sal leer.

 

Bostaande is ʼn aangepaste weergawe van ʼn artikel wat oorspronklik op 13 November 2020 op LitNet verskyn het. Frederik van Dyk het die artikel op ons versoek, aangepas. Frederik van Dyk is ’n regsnavorser en LLM kandidaat aan die Leerstoel vir Sakereg aan die Universiteit Stellenbosch

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: