Plekname in Suid-Afrika - Diversiteit se geskiedenis word weggestoot
Naamsveranderinge vir stede, dorpe en strate doen niks aan slaggate en rioolslik nie.
Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
In Februarie 2021, het Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur onverwags aangekondig dat Port Elizabeth voortaan 'n nuwe naam – Gqeberha sou kry. Ander naamsveranderinge wat aangekondig is, is dat die stad Uitenhage na Kariega sal verander, terwyl die Port Elizabeth-lughawe nou bekend sal staan as Chief Dawid Stuurman Internasionale Lughawe. Die openbare kommentaar proses hieroor is pas afgehandel.
Vanuit ʼn Afrikaner perspektief is dit dus belangrik dat ons ook op ʼn wyse erkenning moet gee aan ʼn Afrikaner leier en die afrit na die ekonomiese hartland van Gauteng was die gepaste erkenning aan ʼn man wat diep spore getrap het.
Vanuit die boek “Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” Deur Prof ELP Stals wat op 5 Mei 2021 op ʼn aanlyn gesprek met Freek Robinson en Prof ELP Stals bekendgestel word, word daar onder andere oor die beginjare en veral oor Ds Nicol geskryf.
Ledevergaderings aan die beginjare van die Afrikaner-Broederbond is meermale met Afrikaanse sang, musiek en voordrag opgehelder. Aande, waartydens voordragte gelewer is, is op ds. Nicol se inisiatief aangebied. Dit het daartoe gelei dat die AB op 21 Desember 1920 'n Musiekkomitee benoem het, wat samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie moes soek, met die oog op die toonsetting van Afrikaanse gedigte
ʼn Belangrike terrein waarop die AB in die jare aktief was, was dié van moedertaalonderwys. 'n Besondere veldtog is deur ds William Nicol begin om, benewens die aantal Afrikaansmediumlaerskole in Johannesburg, ook 'n hoërskool daargestel te kry. Nicol se pogings het in Januarie 1921 met die stigting van die Hoërskool Helpmekaar met 65 leerlinge in die Irene-saal, vrug afgewerp.
Stals skryf dan dat Nicol vanweë die feit dat hy slegs een termyn as Voorsitter gedien het, nie 'n werklik rigtinggewende rol in die AB kon speel nie. Sy vermoë as organiseerder het egter 'n bepaalde bestendigheid in die werksaamhede van die UR gebring. Sy verdienste is ook dat hy die noodsaaklikheid beklemtoon het dat die AB nie langer in debatte oor die interne administrasie moes vasval nie, maar die groter sake van die dag vir Afrikaners moes begin aanspreek. Dit is waarskynlik die grootste erflating van Dr William Nicol want dit het die Afrikaner-Broederbond in die twintigerjare begin rig op ʼn werkswyse wat die Afrikaner bemagtig het op vele terreine, waaronder onderwys, ekonomies en polities.
Dit is alles deel van individue en organisasies wat in die laaste eeu betrokke was in Afrikaners se geskiedenis van opheffing, selfbemagtiging en selfdoen. Dit is dieselfde geskiedenis wat nou ongedaan gemaak word deur ʼn ongevoelige regering.
Suid-Afrika se geskiedenis en kulture word reeds ryklik weerspieël in die rykdom van geografiese eiename, soos Ixopo, Nababeep, Mafikeng, Cookhouse en Klerksdorp. Hierin lê die erfenisse van diversiteit van `n land en sy mense, sy eeue se geskiedenis en sy demografiese rykdom.
Soos enige ander geskiedenis, is die geskiedenis van Suid-Afrika natuurlik nie net `n positiewe verhaal nie, en daarom sal ook hierdie seer en die onreg van die verlede in geografiese naamgewing vasgevang wees. Dat sodanige kwetsende herinneringe uit die pleknaamlys ter wille van versoening verwyder moet word, is nodig en aanvaarbaar. Dit is egter wanneer plek- of straatname verander word sonder duidelike oorweging dat naamsverandering direk in die pad van nasiebou staan en geen bydrae tot versoening in Suid-Afrika lewer nie. Dit gebeur wanneer 'n naam soos Kerkstraat in Pretoria eenvoudig verander word om die regering van die dag te pas vir politieke oorwegings en nie met begrip vir geloof-kulturele, taal of groep verskeidenheid nie.
Om te probeer verstaan wat die riglyn sou wees vir die Regering/ANC om name te wil verander is ʼn skynbaar onbegonne taak. Op die Departement van Kuns en Kultuur se webwerf word die praktiese stappe om name te verander uiteengesit http://www.dac.gov.za/content/geographic-name-change “Geografiese name wat binne die jurisdiksie van die plaaslike regering val, sluit in strate, munisipale geboue en pleine, plaaslike parke en begraafplase en geboue in privaat besit. Geografiese name wat binne die bestek van die nasionale regering val, sluit in dorpe, voorstede, menslike nedersettings, poskantore, stasies, lughawens, hawens en snelweë, asook natuurlike landvorme soos berge, strome, riviere, baaie, punte, eilande, vleilande en Nasionale parke.”
In die betrokke Wet waarbinne die Nasionale Geografiese Plekname Raad wel hulle mandaat verkry (South African Geographical Names Council Act, 1998 (Act 118 of 1998) word dit gestel dat riglyne vir die NGPR in plek gestel moet word sowel as riglyne vir provinsiale en plaaslike regering geografiese pleknaam Rade
Om dan te kyk wat die oorweegrede sou wees vir die Nasionale Geografiese Plekname Raad om aanbevelings aan die minister te maak is nie moontlik nie want die instansie se webwerf funksioneer nie http://sagns.dac.gov.za/
Volgens die bostaande Wet 118 van 1998 moet die Raad skakel met nasionale en internasionale organisasies betreffende geografiese name en dan veral ook skakel met “kulturele, historiese en taal organisasies” Na die beste van ons wete bestaan die skakeling en interaksie nie. Dit was wyd verwelkom dat die nasionale regering in November 2007 aangekondig het om in 2008 met openbare verhore te poog om ‘n nasionale konsensus oor die saak van die verandering van plekname te bereik. Ons dra egter nie kennis van enige konsultasie of gewaande nasionale konsensus oor die saak in die laaste veertien jaar nie.
In die Stad Kaapstad se Beleid op Plenaamveranderinge soos in 2012 gewysig word die kwessie van naamgewing en die belang van name soos volg omskryf:
As dit die vertrekpunte is om name wat kwetsend of pynlik kan wees te verander dan is dit verstaanbaar en dan moet dit ondersteun word. Dit is egter merendeels nie die geval nie. Inteendeel In Suid-Afrika wil dit ook lyk asof die geskiedenis herskryf word. Mense, en veral voormalige vryheidsvegters, word links en regs benoem wat geen verbintenis het met 'n dorp of straat nie, maar wat vir populistiese redes erkenning moet kry, met groot finansiële uitgawes daaraan verbonde. Asof Suid-Afrika nie ander dringende prioriteite het nie? Net so kan ʼn naam wat vir een groep moontlik kwetsend kan wees, nie vervang word met ʼn ander naam wat dalk weer vir ʼn ander groep problematies kan wees nie. Die geval van Winnie Madikizela Mandela is een so ʼn voorbeeld. Sy was self ʼn diep verdelende politieke figuur wat hoewel sy ʼn aanhang het, sy ook bekend is vir haar ewe ongure en dikwels omstrede verlede.
Die wyse waarop naamsveranderinge nou deurgeforseer word bring onwillekeurig die vergelyking met die ou Sowjet era na vore. Die verandering van name was toe ook ‘n gunsteling tydverdryf na die kommunistiese oorname. Aanvanklik was dit daarop gerig om die verwysing na die Tsariste periode te verwyder. Mettertyd het dit ook ‘n wyse geword waarop leidende figure in die revolusie vereer is, insluitende leiers in die bestel van daardie tyd. Die simboliek in dié ideologie was om diegene wat verloor het in die politieke stryd te verguis en mettertyd uit die hoofstukke van die Sowjet geskiedenis te skryf.
In Randburg is ons deur die proses ʼn paar jaar gelede Hans Strijdom Rylaan het Malibongwe Rylaan geword en DF Malan Rylaan het Beyers Naude Rylaan geword. Eens trotse strate spog met nuwe name maar ook veel meer, stukkende verkeersligte, sypaadjies wat vervalle is en slaggate wat die norm eerder as die uitsondering geword het.
Dit is asof die denke in die regerende party is dat die probleem gaan verdwyn as die naam verander word. Baie plattelandse dorpe wat die ekonomiese krag was van hulle omgewing het oor die jare van name verander, maar is vandag slegs ʼn vervalle skadu van eens trotste vooruitstrewende dorpe. Ons stede begin dieselfde tendens reflekteer. Naamsveranderinge vir dorpe en stede en strate doen niks aan slaggate en rioolslyk nie. Inteendeel struggle leiers se name word polities gebruik en onbeskaamd gekoppel aan verval, vandalisering en vernietiging.
Die wyse waarop naamsverandering tans deur die ANC beheerde dorpe en provinsies geïmplementeer en deurgeforseer word, bevorder nie eensgesindheid en versoening nie. Die persepsie is tereg ook dat, veral Afrikaners, vervreem voel aangesien ons historiese aandeel aan die sukses van Suid-Afrika nie erken word nie. Die fokus op veral Afrikaner geskiedkundige name en met 'n Afrikaanse basis ondersteun hierdie persepsie en is dit gebiedend noodsaaklik dat daar vanuit 'n breë Suid-Afrikaanse voldoende konsultasie en konsiderering vir die plaaslike geskiedenis moet plaasvind.
Waar Suid-Afrika – nou meer as ooit – ‘n behoefte aan ware versoening het en met opregte dade woorde, aksies en gebare eengesindheid moet bevorder, het oorhaastige naamsveranderinge die potensiaal om groter polarisering in gemeenskappe teweeg te bring. Die realiteit is dat die huidige proses waarvolgens naamsverandering plaasvind nie ʼn refleksie is van die land se leuse van eenheid deur verskeidenheid nie aangesien belangrike minderheidsgroeperings se opinies geheel en al genegeer word. Die proses blyk ook strydig te wees met Hoofstuk 2 van die Grondwet (die Handves van Menseregte, subafdeling 31a) waar gestipuleer word dat kulturele waardes van alle groeperinge beskerm moet word. Inderwaarheid beteken dit dat eenheid bevorder moet word, maar dat verskeidenheid terselfdertyd erken moet word, iets wat tans in die naamveranderingsproses oor die hoof gesien word.
Daar is praktiese en internasionale voorbeelde van hoe om met naamsveranderinge om te gaan. Een voorbeeld sou dubbele naamgewing wees.
Die dubbele benaming van dorpe, stede, woonbuurte, bergreekse, riviere, damme, landbakens(merke) en selfs snelweë is ʼn legitieme internasionale verskynsel wat wydverspreid voorkom en ook deur gemeenskappe en bevolkingsgroepe aanvaar word. In Wes-Europa kom die dubbele benaming van plekke voor in state soos Italië, Oostenryk, Spanje en Frankryk. Dit kom ook algemeen voor in state wat onderhewig was aan koloniale oorheersing en waar daar verskillende tradisionele betekenisse en waardes aan plekke gekoppel word. Die hoofoogmerk van dubbele benaming is kulturele aanvaarding, respek en aanvaarding van minderheidsregte en eensgesindheid tussen verdeelde gemeenskappe.
Deur met erkenning aan die verlede, respek vir diverse groepe en kulture se geskiedenis en met groter begrip vir mense se onmiddellike behoeftes om te gaan skep ʼn wen-wen situasie vir elkeen betrokke. Die proses van naamgewing soos wat dit tans deurgevoer word skep slegs een wenner naamlik die ANC in sy soeke na oorheersing en die groot verloorders is die meerderheid mense wat vra vir basiese dienslewering, die skep en instandhouding van dienste en infrastruktuur en die vooruitgang van die ekonomieë van plaaslike regerings, distrikte, provinsies en natuurlik op nasionale vlak.
Die huidige werkswyse verswelg eenvoudig ons ryk verskeidenheid van minderhede en kulture, wat gereflekteer word in onder andere dorp en straatname.
Adres