Kniebuig is net nog 'n manifestasie van Wokeness
Deur Jan Bosman
Hoofsekertaris van die Nasionale Raad
In die laaste weke het twee insidente weer skerp na vore getree met venynige en eensydige debat in skerp teenstelling met rasionale debat wat groter en verantwoordelike denke verg.
In die eerste insident was Gareth Cliff in sy aanlyn program “The Burning Platform” in gesprek met die leier van die Demokratiese Alliansie John Steenhuisen en One South Africa se Mudzuli Rakhivhane. Toe Rakhivane begin praat oor haar “geleefde ervaring” met rassisme het Cliff dit afgemaak as anekdoties en onbelangrik. Dit het weer ʼn sosiale media storm tot gevolg gehad en het borge onttrek van die program.
Die tweede insident met Quinton de Kock het nog groter opslae gewek toe hy aanvanklik geweier het om met gebalde vuis op sy knie te gaan ter erkenning van rassisme. Dit was nadat Krieket Suid-Afrika hulle spelers by wyse van ʼn opdrag gedwing het om die knie te buig by die T20 wêreldbeker omdat dit dan ʼn eendragtige en simboliese gebaar sou wees teen rassisme.
Dr Izak Burger skryf oor die kwessie vanuit ʼn geloofsperspektief en sê om voor iemand te kniel het tradisioneel een van twee betekenisse gehad. "Daar is gekniel voor iemand vir wie daar die allergrootste respek, agting, liefde, verering en dankbaarheid is. Dit is altyd ’n vrywillige en spontane simboliese gebaar. Die tweede rede wanneer daar gekniel is, was ’n teken van gedwonge oorgawe voor ’n vyand wat jou oorwin het. In tradisionele oorlogvoering en wanneer jy jou heerskappy en baasskap oor iemand wou bewys, is die persoon gedwing om te kniel. In teenstelling met die eerste rede, is dit nie vrywillig nie, maar gedwonge en dit word teësinnig gedoen. Nou is dit nie meer verering nie, maar vernedering." Oor die gebalde vuis skryf dr Burger “spreek dit van aggressie, veglustigheid, rebellie en verset.”
Daarenteen skryf Christo van der Rheede van AgrisA op sy Facebook blad net voor die plaaslike regeringsverkiesing:
sal ek beslis die knie buig! Want dan weet ek ‘black lives and all other lives matter!’ Vir skynvertonings en politieke korrektheid het ek nie meer tyd nie! Want ons prioriteite is misplaas!”
Vir ʼn Sportliggaam soos Krieket Suid-Afrika om voor te skryf om te kniel ter simboliese teenkanting teen rassisme is om opnuut ʼn voorgeskrewe politieke simboliek voor te hou,. Vergete is die beeld en politiek van die #Blacklivesmatter in wie se naam daar gebreek, vernietig en gevandaliseer is, standbeelde geval het, die geskiedenis herskryf is en ’n nuwe rassisme wat geregverdig word in die sogenaamde “veilige spasies” vir swartmense of ander groepe, waarin pertinent wit mense, nie mag kom nie.
Die gebalde vuis het nie ʼn onskuldige betekenis nie. In die ANC en EFF embleme hou die gebalde vuiste spiese vas. By Azapo en Black First Land First bied die gebalde vuis ruimte vir die nuwe swart nasionalisme (Black Power) wat deur die EFF en ook faksies van die ANC bevorder word.
Oor die kniebuig kwessie binne die breër afdwing van identiteitspolitiek moet die kwessie verder en dieper gaan haal word. Prof Francis Fukuyama Amerikaanse sosioloog, politieke wetenskaplike en filosoof skryf “Daar is niks verkeerd met identiteitspolitiek as sodanig nie; dit is 'n natuurlike en onvermydelike reaksie op onregte. Dit word slegs problematies as identiteit op sekere spesifieke maniere geïnterpreteer of afgedwing word.” Hy sê dan dat “Identiteitspolitiek het vir sommige progressiewe mense 'n goedkoop plaasvervanger vir ernstige besinning geword.
Die kniebuig simbool #Blacklivesmatter en die Woke kultuur skep besondere uitdagings maar stuur ook ernstige waarskuwings in Suid-Afrika vir elke individu, minderheidsgroep of politieke party maar ook op globale vlak vir elke instelling, internasionale korporasies, universiteite, staatsdienste, museums, die media, skole, staatsdienste, plaaslike regering en selfs kerke.
Wokeness en die vernietigende effek daarvan bedreig soveel van ons demokratiese waardes wat insluit, nie-rassigheid maar ook die regte wat beskerm word in die Grondwet van die republiek van Suid-Afrika, waaronder gelykheid voor die reg, menswaardigheid, vryheid van godsdiens en, oortuiging en mening, vryheid van uitdrukking, vryheid van assosiasie en dan veral ook politieke regte.
Woke, beteken basies dat mense waaksaam moet wees teen ongeregtighede en diskriminasie. Helen Zille omskryf 'wokeness' as 'die politiek van rasse- en kulturele identiteit, en wat gemobiliseer word om die ekonomiese en politieke belange van gemarginaliseerde groepe te bevorder.' Dit kan dus afgelei word dat Woke oor ʼn spektrum kan beteken dat iemand ʼn bewustheid moet hê van die omgewing tot die meer aktivistiese uitwys en mobilisering van ongelyke mag, ongeregtighede, diskriminasie en ander kwessies van veral gemarginaliseerde groepe.
In haar boek StayWoke: Go Broke Why South Africa won't survive America's culture wars - and what you can do about it skryf Helen Zille oor die Suid-Afrikaanse konteks wat nie die Amerikaanse kultuuroorloë sal kan weerstaan nie en gee tien redes.
Om die knie te buig as simboliese gebaar teen rassisme mag dalk onskuldig klink en word dit deur sommige kommentators gesien as ʼn positiewe bydrae deur Krieket Suid Afrika tot die diep verdeelde verlede van Suid-Afrika. Ongelukkig word daar telkens gegryp na leë simboliese gebare wat nie altyd so onskuldig is nie. Onthou die Nazi saluut was ook aanvanklik onskuldig.
Ons het al vantevore geskryf oor ʼn Nasionale Aksieplan teen rassisme wat ook as mislukte beleidsraamwerk deur die ANC en regering gedryf is. Die Suid-Afrikaanse regering het in 2001 reeds die opdrag van die Wêreldkonferensie teen rassisme en diskriminasie ontvang en het ʼn halfgebakte poging in 2019 die lig gesien. Die algemene doel van die NAP is om 'n “nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bou wat gebaseer is op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van menseregte en vryheid. Bewusmaking onder staatsamptenare en die burgerlike gemeenskap sowel as die mobilisering van breë ondersteuning in ʼn veldtog wat insluit teen-rassisme, gelykheid en teen-diskriminasie. Dit sou die volgende doelwitte gehad het.
ʼn Nasionale Aksieplan teen rassisme en diskriminasie moet in die eerste plek gebaseer wees op ʼn nasionale dialoog waarby alle taal, kultuur en geloofsgemeenskappe betrek is. So ʼn nasionale dialoog sou ook daartoe kon bydra dat die Grondwet en die Handves van Regte weer hul regmatige plek as die hoogste reg inneem. Sodoende sou politici en die publiek aanspreeklik gehou kon word vir hul optredes en uitsprake.
In die afwesigheid van enige Aksieplan is dit moontlik vir joernaliste, kommentators en politici sowel as sportliggame om die reg in eie hande te neem en op uiters onverantwoordelike wyse opdragte uit te reik wat “simbolies” teen rassisme kan wees. Die regering se versuim om ʼn Nasionale Aksieplan wat in konsultasie met alle taal, kultuur en geloofsgemeenskappe daar te stel, skep voortdurend die perfekte storm vir ʼn heksejag op vermeende rassiste en word onskuldige persone betrek en in die hof van openbare mening skuldig bevind. Net soos McCarthyisme in Amerika in 1950's kommuniste agter elke bos gesoek het, soek Suid-Afrikaners voortdurend rassiste. Daar is wel 'n klein groep rassiste, wit en swart, maar om te veralgemeen is om onherstelbare skade aan verhoudinge in die land tot gevolg te hê. Ons bly oortuig daarvan dat daar nog steeds meer Suid-Afrikaners, wit en swart, is wat wel verby ʼn rassebril kyk na Suid-Afrika se probleme en daadwerklik ‘n verskil wil maak.
Kniebuig en gebalde vuiste vervang een vorm van rassisme met ʼn ander vorm van rassisme en onderdanigheid – dit sal beslis nie ʼn langtermyn oplossing vir Suid-Afrika wees nie, beslis nie vir sport nie en allermins vir krieket. Rassisme gaan nie met simboliek beveg word nie, maar deur toewyding, aksie, woord en daad. Dit sluit almal veral politici ook in. ʼn Woke ingesteldheid vir krieket en ander sportliggame gaan op die langduur ʼn oordadige politieke korrekte sportsamelewing vestig ten koste van meriete en uitnemendheid.
Adres