Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2021

 Onderhandelinge - daar was planne! 

Met verwysing na ‘n Netwerk24 artikel van 13 September 2021 gepubliseer onder die opskrif Onderhandelinge: 'FW en sy party was sonder 'n plan' en wat ook in Beeld geplaas is op 15 September 2021 met die opskrif FW: Plan of instink in 1990? Lees dit hier

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/onderhandelinge-fw-en-sy-party-was-sonder-n-plan-20210913

Die artikel is gebaseer op uittreksels uit die boek van Mac Maharaj en Z. Pallo Jordan van hul boek, Breakthrough.  

 

 Aangesien die uittreksel van die boek breedvoerig uitwei oor die rol van die Afrikaner-Broederbond is dit tog ook gepas om kortliks enkele perspektiewe te stel. Dit is so dat die geskiedenis uit verskeie perspektiewe beoordeel moet word en veral moet die geskiedenis van die onderhandelinge ook ewewigtig hanteer word. Op 5 Mei 2021 het die Afrikanerbond juis vir die rede die omvattende historiese werk van Prof, Ernst Stals Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee bekendgestel.

 

Hierdie boek handel breedvoerig met die staatkundige ontwikkelinge en politieke woelinge van Afrikaners sowel as die soeke na ʼn nuwe staatkundige bedeling vir Suid-Afrika en ʼn politieke skikking. Hiermee uittreksels vanuit Hoofstuk 15 van die boek – ʼn Strategie om voort te bestaan. Die soeke na 'n geskikte staatkundige model - 'n Basis vir onderhandeling

 _________________________________________

 

Twee terreine staan uit waarop die AB 'n besliste positiewe bydrae gelewer het, nl. die staatkundige en kulturele. Dit kan met reg gesê word dat die AB op dié twee lewensterreine op die voorpunt van die Afrikaner se denke gestaan het. Die Afrikaner-Broederbond wat 'n leidende rol hierin gespeel het, het nie alleen die Bond se lede d.m.v. kennisverspreiding en prikkeling tot denke op die onafwendbare hervormings voorberei nie, maar ook in talle samesprekings en gesamentlike besinningsgeleenthede tot op die hoogste vlak in owerheidskringe invloed uitgeoefen.

 

Daar was 'n aantal faktore wat 'n invloed op die AB se soeke na 'n geskikte oplossing uitgeoefen het. Eerstens het die politieke eise van die swart groeperinge, waarvan die ANC verreweg die belangrikste was, ʼn onontwykbare werklikheid gevorm. Tweedens was die AB

ʼn Afrikanerorganisasie, wie se grootste roeping was om die voortbestaan en belange van die Afrikaner te beskerm. Hierdie roeping was oënskynlik in botsing met die strewes van swartmense. Derdens was die Afrikaner, soos ook die swart bevolking, polities verdeeld, sodat die konfrontasie nie bloot 'n enkelvoudige wit/swart teenstelling was nie, maar ook intra-etniese spanninge in homself omgedra het. Vierdens het die spanning en stryd wat weens die strewes van swart, bruin en Indiërgroepe opgebou het, reeds geruime tyd tot geweld en verset teen die staatsgesag aanleiding gegee. Daar het dus 'n ernstige situasie m.b.t. staatsveiligheid, sowel as gemeenskapsveiligheid in bepaalde gebiede, bestaan. Tog was daar ook steeds 'n strewe na gematigdheid by baie mense onder alle groepe aanwesig. Vyfdens het die Afrikaner en die AB geen illusies meer gekoester oor die dwang van ekonomiese en sosiale realiteite, ook sover dit politieke regte aangaan, nie. Sesdens is twyfel oor die etiese en morele houdbaarheid van die beleid van afsonderlike ontwikkeling

uitgespreek. Ten sewende was die Suid-Afrikaanse vraagstuk lank nie meer 'n geïsoleerde

aangeleentheid nie en sou die rol van buitelandse en internasionale regerings en organisasies nie buite rekening gelaat kon word nie. Ten slotte kan die weiering van die groot meerderheid nie-blankes om afsonderlike ontwikkeling as oplossing vir die verhoudingsprobleem te aanvaar, as ʼn agste, oorkoepelende, faktor beskou word.

 

Die memorandum "Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner", (Daar word verkeerdelik in die Beeld/Netwerk24 artikel verwys na “Basiese politieke beleidsvoorwaardes vir die oorlewing van die Afrikaner”)   wat in Junie 1986 aan afdelings vir kommentaar uitgestuur is, het ʼn kernvraagstuk, wat oor 'n aantal jare ontwikkel het, verteenwoordig. Daar is lank van hierdie onderwerp weggeskram, omdat die beleid van afsonderlike ontwikkeling nog altyd die gemoedsrus gegee het dat die blanke – en daarmee die Afrikaner wat die meerderheid onder die blankes was – in beheer van sy eie toekoms was.

 

Die breë doelstellings van enige grondwet wat dit (volgens die memorandum) vir die Afrikaner moontlik sou maak om voort te bestaan, was die volgende:

  • die handhawing van Christelike waardes en beskaafde norme, met die erkenning en beskerming van vryheid van geloof en aanbidding
  • die onafhanklikheid van die regbank en gelykheid voor die gereg
  • die handhawing van wet en orde
  • die bevordering van almal se geluk en geestelike en stoflike welvaart
  • die eerbiediging en beskerming van almal se menswaardigheid, lewe, vryheid en eiendom
  • die eerbiediging, bevordering en beskerming van die selfbeskikking van bevolkingsgroepe en volke
  • die erkenning en beskerming van taal- en kultuurregte
  • private besit
  • vryheid van gewete, spraak en meningsuiting.

 

Hierbenewens moes die staatkundige stelsel bepaalde beginsels insluit, soos die volgende:

  • vryheid van assosiasie, insluitende die reg om nie te assosieer nie
  • regering in almal se belang, terwyl aan die eis van geregtigheid voldoen word
  • effektiewe deelname op alle vlakke deur alle burgers aan die daarstelling van
  • die regering en aan die politieke en wetgewende proses
  • geen oorheersing van een groep deur 'n ander nie.

 

Op die praktiese vlak kon sekere meganismes in die regeringstelsel aangewend word om daardie oogmerke en beginsels te verwesenlik, soos bv. Die desentralisasie van besluitneming en devolusie van mag, streekregerings, die bepaling van eie sake, proporsionele verteenwoordiging, vetoreg of konsensus, kiesstelsels en die skeiding tussen

wetgewende en uitvoerende magte. Aan die ander kant sou so 'n grondwetlike bedeling ook sekere dinge onmoontlik maak of uitsluit, bv. enige stelsel waarin 'n bepaalde groep oorheers, 'n een-mens- een-stem kiesstelsel in 'n unitêre stelsel, 'n sosialistiese of militêre diktatuur, totale geografiese skeiding van rasse en stemregkwalifikasies wat mag en oorheersing wil verskans. Die memorandum het daarop gewys dat daar geen waarborge gebied kon word nie en dat die stelsel wat beding sou kon word, berekende risiko's sou bevat. Of soos UR-voorsitter Pieter De Lange homself uitgedruk het: "Die grootste risiko wat ons vandag loop is om geen risiko's te neem nie. Ons wil tot voortbestaan as Afrikaner en ons daadkrag en geloof is die sterkste waarborg." Die Afrikaner sou met behulp van sy eie skeppingskrag onderhandelde strukture tot stand moes bring, "wat sterk en soepel genoeg is om die botsende kragte in die Suid-Afrikaanse volkereverskeidenheid te akkommodeer ."

 

Vele kommentare op die memorandum is ontvang. In Kaapstad het prof. Piet Cillié geargumenteer dat die Afrikaner nie – soos wat J.G. Strijdom verklaar het – in "baasskap" oor ander volke geglo het nie, maar 'n liberale nasionalisme aangehang het, in terme waarvan die beleid van swart tuislande ontwikkel is. Onvermoë om hierdie idealistiese konsep deur te voer, het volgens Cillié tot die heersende politieke verwarring gelei. Nou het realisme die Afrikaners gedwing om die weg van gesamentlike vryheid te beproef, 'n weg "wat hulle geleer was om ten ene male te verwerp as selfmoord." Hy was skepties daaroor of dit moontlik was om ʼn nasie in die gediversifiseerde Suid-Afrika tot stand te bring – Amerika kon dit ná meer as 'n eeu nog nie regkry nie. Cillié het die werksdokument egter gesien "as 'n eerlike poging deur die beste beskikbare denkers om die Afrikaner se ingesteldheid te verskuif van 'n grootliks verouderde staatkundige perspektief na 'n orde van vryheid, gelykheid en broederskap.  Ons weet dat ons dit moet probeer omdat ons geen ander keuse meer het nie."

 

Die UR het die dokument oor die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner op 21 November 1986 gefinaliseer, Belangrik was ook die feit dat dit reeds voor finalisering met die Staatspresident, mnr. P.W. Botha, bespreek is. Dit het dus 'n instrument vir verdere beraadslaging, ook met ander regeringslede, geword.

 

Daar het reeds aansienlike dinkwerk plaasgevind teen die tyd dat ʼn AB dinkskrum op 7 Februarie 1987 byeen gekom het om vir die AB 'n basis te lê, waarvandaan die beweging 'n inset tot die konstitusionele toekoms van die land kon lewer. Hierdie basis het in 'n groot mate in oorleg met die regerende NP tot stand gekom en het sekerlik veel ontleen aan die denke en idees binne die debat wat reeds in regeringskringe aan die gang was.

 

Die bestekopname waartoe die dinkskrum gekom het en wat 'n invloed op die oorweging van spesifieke modelle sou hê, het ontledings soos die volgende bevat:

  • Die Afrikaner was nie van plan om die land te verlaat nie, het 'n sterk drang tot selfhandhawing gehad en moes duidelike toekomsideale vind
  • Die Suid-Afrikaanse samelewing het uit radikale, rewolusionêre en gematigde groeperinge bestaan
  • Hoewel almal in die land formeel stemreg besit het, was miljoene se belewing dat hulle dit nie gehad het nie
  • Die TBVC-lande het 20% van die totale bevolking bevat, was ekonomies suksesvol en sou nie maklik hulle soewereiniteit prysgee nie
  • Die selfregerende gebiede sou 'n deel van die Republiek bly
  • Buiteparlementêre politiek het baie veld gewen, maar grondwethervorming sou parlementêr moes geskied
  • Daar was drie partye by die proses van staatkundige ontwikkeling betrokke, nl.
  • die buitelandse gemeenskap (sanksies),
  • die binnelandse gemeenskap (eise)
  • en die politieke elite (die Afrikaner)
  • Die bestaande regering was die legitieme gesag en die 1983-grondwet 'n suksesvolle model van magsdeling met behoud van selfbeskikking, maar is verwerp omdat swartmense van deelname uitgesluit was
  • Groter deelname aan die regering kon bevorder word deur desentralisasie, regionalisasie, deregulering en privatisering
  • Die etniese gebaseerdheid van die politieke partye teenoor die multi-etniese steun van die ANC was 'n struikelblok vir onderhandeling en sou deur politieke alliansies oorkom moes word
  • 'n Handves van menseregte kon blankes se regte enigermate waarborg en internasionale guns wen
  • Goeie beheer oor die hervormingsproses, stabiliteit en steun vir ʼn gemeenskaplike waardesisteem was voorvereistes vir sukses
  • Dit was wenslik dat kultuur- en ander leiers 'n groter rol vis-á-vis politieke leiers moes speel, asook dat die Afrikaner selfkritiek moes toepas
  • Etnisiteit was 'n werklikheid en die bestaande groepindeling moes as vertrekpunt vir verdere groepvorming dien, met vryheid van assosiasie en disassosiasie en besluitneming met konsensus as norm.

 

Tydens die 56ste Bondsraad, wat op 3 en 4 Junie 1988 plaasgevind het, het Prof Andreas van Wyk oor "Die staatkundige uitdaging" gepraat en het op 'n positiewe noot na die groot bydrae van die Afrikaner in die konstitusionele ontwikkeling van Suid-Afrika verwys. Die Afrikaner het, volgens Van Wyk, die verantwoordelikheid gehad om 'n sleutelrol in die hantering van die konstitusionele vraagstuk te vervul. Sy rol sou egter sekere kenmerke moes vertoon. Dit sou waagmoed van hom vereis, deur eerder op sy daadkrag, geloof en wil om voort te bestaan staat te maak as op allerlei skimwaarborge. Dit sou terselfdertyd realisme verg om ooridealistiese drome van blanke gebiede en stadstate daar te laat en op basiese faktore, soos gesonde sosio-ekonomiese opbou, te konsentreer. Kennis en begrip van staatkundig-politieke aangeleenthede was 'n verdere noodsaaklikheid.

 

Die AB se komitee insake Staatkundige Ontwikkeling het 'n breë groep op 29 April 1989 vir 'n beraad saamgetrek. By dié geleentheid is allereers oor riglyne vir die staatkundige gesprek gepraat en daarna in groepe oorweging aan vyf verskillende moontlike staatkundige modelle gegee. Dié modelle was 'n groeps- en geografiese federasie, 'n vierdekamer-model of -stelsel, 'n nie-rassige geografiese federasie, 'n eenheidstaat en 'n kantonnale model. Die doel van die beraad was nie om op 'n spesifieke model, wat as AB-keuse kon geld, te besluit nie. Die verskillende opsies moes aan die hand van die aanvaarde riglyne geëvalueer en verder verfyn word.

 

Aan die einde van 1989 is 'n finale dokument "Riglyne vir die staatkundige gesprek" as die AB se beleid geformuleer. Dit het die Bond se idees m.b.t. die toekomstige konstitusie van die land weerspieël. Hiervolgens was die AB se doelwit vir die konstitusionele onderhandelinge dat 'n ekonomies haalbare staatkundige bedeling daargestel sou word, waarbinne vryheid en gelyke regte en geleenthede vir elke Suid-Afrikaanse burger verseker word. Terselfdertyd moes egter ook die selfbeskikkingsreg van die verskillende "volke, bevolkingsgroepe en gemeenskappe" verseker en erkenning verleen word aan die interafhanklikheid van die verskillende Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Dit het die devolusie van toepaslike gesag na alle regeringsvlakke, sonder dat deeleenhede mekaar kon oorheers, geïmpliseer. Die regeringstelsel moes aan die eise van Christelike geregtigheid voldoen, demokraties wees, aanvaar word deur die meerderheid van alle lede van die staat asook van elke deeleenheid en, ten slotte, bekostigbaar wees op die basis van 'n ekonomiese stelsel met vrye ondernemerskap as uitgangspunt. Die riglyne het verder uitgespel dat die geskrewe grondwet ʼn handves van menseregte moes bevat en teen willekeurige wysiging verskans moes wees. ʼn Twaalftal basiese regte van die individu is gelys. Een daarvan was die reg van individue om in groepe te assosieer, wat bepaalde bevoegdhede sou besit en grondwetlik erken sou word. Die dokument het in heelwat besonderhede m.b.t. die magte en bevoegdhede van die voorgestelde deeleenhede getree en was klaarblyklik daarop afgestem om 'n groep soos die Afrikaners (maar ook enige ander groep wat hulle in 'n deeleenheid wou organiseer) grondwetlik in staat te stel om oor hulle eie sake gesag uit te oefen én aan besluitneming oor gemeenskaplike sake deel te neem.

In die gees daarvan was die AB dus ook eerder ten gunste van 'n nie-uitvoerende staatshoof, wat as simbool van nasionale eenheid sou dien.

 

Die AB het dus 'n vaste plan gehad, wat ook deeglik met regeringslede gekommunikeer is. Die politieke proses in die land het egter ná FW De Klerk se aankondiginge van 2 Februarie 1990 sodanig versnel en onkeerbaar geword, dat 'n besinningsaksie soos dié van die AB kwalik daarmee tred kon hou.

 

Die aanvoeling was dat, waar die komitee insake Staatkundige Ontwikkeling in 'n stadium 'n belangrike rol gespeel het om gedagtes te stimuleer, dit nou aanvaar moes word dat die regering die inisiatief in die hande geneem en die werksaamhede van die komitee verbygesteek het. Die aandag moes spesifiek op die Afrikaner se posisie in die staatkundige

bestel toegespits wees.

 

Die tyd vir invloedryke besinning en besluitneming oor aangeleenthede wat die land in sy geheel geraak het, het dus teen 1990/1991 vir die AB uitgeloop. Wat grondwetlike aangeleenthede betref, was dit in die hande van die NP en ander kleiner Afrikanerpartye om die Afrikaner se saak aan die onderhandelingstafel te probeer beredder en aan die politieke proses deel te neem.

 

Hoewel hierdie geweldige en tog delikate taak in die eerste plek op die skouers van die Suid- Afrikaanse regering self gelê het, het die AB vir hom self 'n spesifieke rol daarin gesien. Eerstens het hy hom verantwoordelik gevoel om deur kundige insette te poog om lewensruimte vir die Afrikaner in die toekomstige grondwetlike bestel te beding. Tweedens moes hy sy eie lede en ander Afrikaners op die pad van noodwendig ingrypende veranderinge begelei en te midde van skerp meningsverskille tot kalmte beweeg. Derdens moes die AB help om begrip vir die Afrikaner se waardes en bedoelings by die land se mense én saakmakende buitelanders te wek. Laastens kon die AB 'n bydrae lewer om aanvoorwerk te doen wat skakeling, samesprekings en uiteindelik onderhandelings tussen 'n Afrikanerregering en die swart rewolusionêre magte kon bevorder.

 

Prof Pieter de Lange, Voorsitter van die Afrikaner Broederbond het reeds tydens ʼn seminaar van die Ford Stigting op Long Island, New York, op 30 en 31 Mei 1986, onbepland, met Thabo Mbeki die ANC se direkteur van inligting) ontmoet en verskeie private gesprekke gevoer. De Lange, het tydens die gesprekke en ook later gesê dat die Afrikaner sou, aandring op die behoud van sy kulturele identiteit, asook die instrumente om dit te kan doen, soos taal- en onderwysregte en godsdienstige vryheid.

 

Die rol wat die AB m.b.t. staatkundige ontwikkeling gespeel het, het ter sprake gekom tydens ʼn gesprek wat op 3 September 1990 in die Uniegebou deur die UR se Inligtingskomitee met die Staatspresident, F.W. de Klerk, gevoer is. De Klerk het by dié geleentheid gesê dat die AB moes waak teen ʼn drang om deel van die regering te word, i.p.v. om hom met kultuuruitbouing besig te hou. Hy het daarvoor gepleit dat die AB hom by die bevordering van taal, kultuur en onderwys moes bepaal en op daardie terreine ook na die Kleurlinge moes uitreik. Omdat magsdeling onvermydelik was en die Afrikaner nie meer in die toekoms polities sou heers nie, sou dít die terreine wees waarop gesag uitgeoefen kon word.

 

Dit het vir die AB duidelik begin word dat die proses van onderhandeling en grondwetskrywe uitsluitlik 'n aangeleentheid van die politieke partye geword het. Slegs politieke partye sou om die onderhandelingstafel sit en nie-politieke organisasies soos die AB sou hulle saak aan 'n politieke party moes toevertrou, of voorleggings doen. Vir prof. Pieter de Lange, wat groot insette in terme van persoonlike gesprekke en leiding in talle liggame gelewer het, en wat ook die felheid van kritiek uit eie geledere moes verduur, was dit 'n teleurstellende gewaarwording. Hy was onrustig gestem deur die geweldige onsekerheid oor die toekoms wat by Afrikaners posgevat het. Veral die vraag of veiligheid en orde genoegsaam verseker sou kon word, het hom gekwel. Ietwat mismoedig het hy verklaar dat dit nog steeds nie werklik tot die Afrikaner deurgedring het dat 'n nuwe orde besig was om tot stand te kom nie. Die Afrikaner het nog in die waan van 'n magsmonopolie voortgeleef.

 

Daarmee het die klem vir die AB, wie se agenda jarelank deur politieke aangeleenthede oorheers was, na die Afrikaner se belange op 'n wyer verskeidenheid van lewensterreine teruggeskuif.

 

(Die artikel het in verkorte weergawe op 20 September 20212 in Beeld verskyn.) 

 https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/politici-skuif-broers-uit-20210920)  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: