Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Mei 2024

Verslag oor Onderwys gesprek  met Basiese Onderwysminister Angie Motshekga

 

Voortspruitend uit die Afrikaner Leiersnetwerk van die Afrikaner Afrika Inisiatief (AAI) se onderlinge gesprekke was daar ook die behoefte om die BELA Onderwyswetgewing en ons kommer oor aspekte van die Konsep Wetsontwerp met mev Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, te bespreek. Vanuit ons interaksie met die ANC Veteraneliga se dr Snuki Zikakla is so ʼn gesprek gefasiliteer en het die gesprek op Dinsdag 16 April by die ministerie in Pretoria plaasgevind.

 

Onder leiding van dr Theuns Eloff, voorsitter van die AAI het die Afrikaner groepering ingesluit, Werner Human van die Solidariteitbeweging, dr Theo de Jager van SAAI, Alana Bailey van AfriForum, Jan Bosman van die Afrikanerbond, dr Coetzee Bester Onderwys entrepreneur, Chris Bosch, Rural en sakeman met minister Angie Motshekga en senior amptenare ontmoet:

 

Vanuit die insette van die Afrikaner groepering:

  • Daar is ter aanvang dank uitgespreek vir die interaksie sodat Afrikaners direk ons kommer kon deel, alhoewel organisasies soos SAOU en FEDSAS deurlopende gesprek en interaksie met die minister en amptenare het.
  • Daar is instemming dat die onderwyswetgewing grootliks nodig is in die regulering van die onderwysomgewing.
  • Daar is wel enkele kwessies wat kommer wek en daarom die nodigheid aan die gesprek.
  • Die taal- en toelatingsbeleid wat magte van skool beheerliggame wegneem en in die finale instansie in die hande plaas van die hoof van departement en sy amptenare in die verskillende provinsies. Begeerliggame se rol moet duidelik aanvaar en bevestig word.
  • Die skoolkapasiteit wat ook bepaal word deur amptenare het nie die leerders se direkte belang op die hart nie.
  • Ons besorgdheid is gegrond op ons siening gebaseer op internasionale ervaring van moedertaal onderrig. Daarom is Afrikaans as taal van onderrig en is dit nie gebaseer op ras nie.
  • Afrikaanse skole se sukses moet toegeskryf word aan ouerbetrokkenheid en deelname.
  • Moedertaalonderrig bemagtig leerders. Dit is nie billik om leerders te dwing om in die tweede taal of selfs derde taal onderrig te word nie.
  • Internasionale navorsing dui daarop dat in ʼn gemiddelde onderwysstelsel leerders ten minste tot in Graad 8 in moedertaal onderrig moet word. In ʼn swak onderwysstelsel (soos Suid-Afrika) moet leerders tot ten minste Graad 10 in moedertaal onderrig moet word.
  • Ons is bewus van die departement se Oos-Kaap projek met moedertaal onderrig en dit moet bevorder word in ʼn taaldiverse land soos Suid-Afrika. 
  • Die uitvalsyfer verhoog weens die gebrek aan moedertaalonderrig en dra by tot die al groterwordende werkloosheidsyfer. 
  • Ons ervaring is dat Engels die taal van onderrig word en dat dit Afrikaans een ander minderheidstale benadeel.
  • Dit is ʼn direkte verbreking van die voor 1994 plegtige ooreenkoms wat tot die 1996 grondwet gelei het.
  • Afrikaners sien ook in onderwys die gereformeerde nakoming van die doopbelofte. 
  • Daar was in die verlede verskeie gesprekke met ANC leierskap en Afrikaner organisasies en ondernemings is gegee wat op niks uitgeloop het nie. Ons besorgdheid oor onderwys kon vroeër reeds op ʼn onderwysforum wat tot stand sou kom aangespreek word. Ongelukkig het dit nie gebeur nie. Daar sou ook forums wees vir grondhervormings, Taal geloof en kultuurregte en Erfenisse. Dit het ongelukkig gelei tot vervreemding.
  • Daar is verskeie inisiatiewe wat lei tot onafhanklike skole omdat Afrikaanse skole in die openbare sektor al minder word weens die politieke druk tot verengelsing.
  • Daar is begrip vir die kwessie oor kapasiteit maar dit kan nie tot die verskraling van die Afrikaanse aanbod lei nie. Net so kan dit ook nie regverdig en billik wees teenoor die 127 kinders in ʼn enkele klas saamgevoeg word nie
  • Skole moet ʼn gemaklike en rustige omgewing wees maar dit word soms verpolitiseer.

 

Vanuit die insette van Minister Motshekga en senior amptenare:

  • Daar is groot klem op Moedertaal (MT) Onderrig. Minister Motshekga wil dit graag verder uitrol
  • Die BELA wetgewing moet nog in die Nasionale Raad van Provinsies verder bespreek word. Daar is reeds kennis geneem van die publiek se kommentaar en ‘n klomp aanpassings is gemaak.
  • Daar is nie ʼn aanslag van die departement op Afrikaans of Afrikaners nie. Daar is reeds vir geruime ruk die behoefte om die verouderde wetgewing en regulasies aan te pas en daarom die BELA wetgewing.
  • Die departement het kennis geneem van hofsuitsprake in Rivonia en Overvaal.
  • Die onderwys demografie het na 1994 ook dramaties verander en dit moet ook in ag geneem word in die bepaling van moedertaal. In sommige gebiede is dit duidelik wat die streekstaal of tale is maar in Johannesburg is dit moeilik om een inheemse taal tot ʼn gebied of skool af te baken. 
  • Min Motshekga het pertinent na die sukses en prestasie van Afrikaanse skole verwys en dat dit beslis gekoppel word aan moedertaal. Daarvoor is daar groot respek en het sy genoem dat daar beslis lesse te leer is by Afrikaanse skole omdat taal en kultuur so nou verwant is.
  • Daarteenoor gaan Suid-Afrika aanhou terugsak op internasionale indekse van beste praktyke van geletterdheid, leesvaardigheid en gesyferdheid omdat kinders nie die vermoë het om hulle in ‘n tweede of selfs derde taal uit te druk nie. Daar sal al meer na moedertaalonderrig beweeg moet word aangesien kognitiewe funksies deur moedertaal vasgelê word en die boodskap is ook aan die president oorgedra. 
  • Finland begin reeds kinders op die ouderdom van 9 maande in vroeë kinderontwikkeling programme stimuleer. In suid-Afrika begin dit eers in Gr R en verwag ons dat kinders in Graad 3 reeds lees en syfervaardig moet wees, vir meeste kinders in ʼn ‘vreemde taal’ (Engels).
  • Die BELA wetgewing het 54 klousules en is daar instemming oor die meeste klousules. Die departement verstaan die kommer oor die klousules oor taal en toelating en beheerliggame se magte in die verband. Die locus van gesag is die punt van debat en is die bedoeling nie om beheerliggame te ondermyn nie maar moet die hoof van departement die finale besluit kan neem. Die verskil is die aard van konsultasie wat deur die hof bepaal word. Moet die hoof van departement in oorleg of na oorleg met die gemeenskap die finale besluit kan neem?
  • Daar berus reeds groot gesag by die beheerliggame van skole en word ʼn groot aantal beleide bepaal deur beheerliggame.
  • Oor die kwessie van kapasiteit is die departement besig met riglyne om ʼn skool se kapasiteit te bepaal. Die hof het die departement verplig om dit in 3-jaar af te handel.

 

In die samevatting van die gesprek:

  • Die departement het ʼn voorstel dat ʼn forum moontlik ook gevestig moet word om die gesprekke meer gereeld te laat plaasvind.
  • Daar is wedersydse erkenning van Moedertaal (MT) Onderrig. Die Afrikaanse gemeenskap is prakties besig daarmee en lesse kan geleer word.
  • Die gesprekke vervang nie die goeie werk wat SAOU en FEDSAS doen nie en het die minister waardering vir hulle rol.
  • Daar moet gelet word op die onvoorsiene gevolge van ʼn wet met ʼn goeie bedoeling. Ons beleef negatiewe en populistiese politieke uitsprake en dit bepaal Afrikaners se denke in die interpretasie en belewenis van die wetgewing. 
  • Wat is die aard van konsultasie en oorleg pleeg en konsensus? Daar is ʼn verskil van mening waarna regsamptenare kyk (Na oorleg / in oorleg) 
  • Die riglyne om skole se kapasiteit te bepaal moet objektief wees. ʼn Aantal stukke wetgewing het impak op kapasiteit. 
  • Aan die einde het dr. Theuns Eloff aangebied dat die Afrikanergroepering skole sal aanspreek waar kinders kwaadwillig/rassisties op grond van taal uitgesluit word as dit onder ons aandag gebring word. Dit is iets wat SAOU en FEDSAS nie kan doen nie omdat hulle bepaalde ledebasisse verteenwoordig.

 

Die BELA Wetgewing word tans gefinaliseer.         

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: