Ons is bevryde Afrikaners
FW De Klerk het Afrikaners bevry van die juk van die verlede
- ʼn Persoonlike perspektief
Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Baie is geskryf oor die nalatenskap van FW De Klerk na sy dood op 11 November 2021.
Sommige sien hom as ʼn volksverraaier, ander, veral uit swart geledere, as ewige rassis terwyl andere hom geëer het vir die grootse rol in die totstandkoming van die nuwe grondwetlike bedeling. By sommige is die reaksie louwarm en by andere weer driftig. Ek was bevoorreg om nou saam met hom te werk in die 1993-1998 tydperk en het hom by verskeie geleenthede in die openbaar en soms privaat hoor praat. Oor sy integriteit en sy diep verbintenis in die geloofsdaad wat hy aangepak het, moet daar nie twyfel wees nie. Dat ook hy sy teleurstellings gehad het oor heelwat aspekte in die huidige bedeling is beslis ook so en daaroor is voldoende deur FW De Klerk self gesê en geskryf.
In al die reaksies na sy dood is dit ook nodig om vanuit ʼn Afrikaner perspektief ʼn standpunt te stel. Ek weet ook dat dit nie alle Afrikaners se sentiment verteenwoordig nie en gee ook nie voor dat dit die geval is nie.
Midde in al die kritiek op FW De Klerk het een indruk nog onbeantwoord en ongesê gebly. Ons mag dalk hoe krities wees op die uitkomste van onderhandelinge en regeringsbeleid in die huidige bedeling maar ons moet ook erkenning gee aan FW De Klerk, dat hy Afrikaners bevry het van die albatros van apartheid wat om ons nekke gehang het. Niemand minder as mnr Nelson Mandela het dit gesê toe hy met Afrikaners in Pretoria ontmoet het op 15 April 1999 en die volgende gesê het: “Ek weet nie of Afrikaners altyd ten volle besef watter unieke posisie hulle in Suid-Afrikaanse geskiedenis beklee nie. En hoe daardie geskiedenis hulle toerus om mee te werk aan die ontwikkeling van ons land. Afrikaners was op verskillende stadiums van hul geskiedenis veroweraars en verowerdes; slagoffers van verdrukking en beoefenaars van onderdrukking. Met daardie agtergrond en historiese ervaring, en met hul kundigheid, kan hulle 'n besondere rol speel om die land op te bou tot een van voorspoed, geregtigheid en vreedsame saambestaan.”
Uit die bogenoemde perspektief is dit dus belangrik om te aanvaar en te erken dat Afrikaners in ʼn stadium van ons geskiedenis “beoefenaars van onderdrukking” was. Afrikaners kon hulself met die aansporing van FW De Klerk uit daardie stadium van ons geskiedenis begelei. Die aanvoorwerk hiervoor het vir jare voor 2 Februarie 1990 reeds begin. Ons kon egter net nie met een geloofsdaad daarin slaag om ontslae raak van daardie juk van apartheid wat van ons as Afrikaners die uitgeworpenes en verstotelinge in ons eie land en internasionaal gemaak het nie.
In sy epogmakende 2 Februarie 1990 toespraak wat Suid-Afrika onherroeplik op ‘n ander roete geplaas het, het FW De Klerk die deur oopgemaak vir Afrikaners en met manmoedigheid ‘n wekroep tot veral Afrikaners gerig om hierdie gees van vryheid aan te gryp en tot sy volle konsekwensies uit te leef.
Wat is die groot betekenis hiervan? Afrikaners het hul aandeel in die verlede erken en het juis vanuit ʼn posisie van mag besef dat dit in Suid-Afrika se belang is om blywende oplossings te soek. Op 29 Augustus 1990, skryf Arrie Rossouw van Beeld: “Die jaar 1990 sal in die verre toekoms steeds herdenk word as die een waarin die saad van die nuwe Suid-Afrika geplant is. Dit was die eerste jaar van Staatspresident F.W. de Klerk se ''bevrydende'' bewind ná dekades van opeenvolgende Nasionale Party-regerings wat binnelands in stryd verkeer het met sy eie swart, bruin en Indiër-landsburgers, en in ernstige konflik met Suid-Afrika se bure. Op 2 Februarie 1990 het pres. De Klerk sy geskiedkundige aankondiging gedoen wat Suid-Afrika op die pad geplaas het na politieke normaliteit."
Dit was egter nie net FW De Klerk se aankondiging van 2 Februarie 1990 wat Afrikaners bevry het nie. Op 17 Maart 1992 (Amper 30 jaar gelede) het wit Suid-Afrikaanse kiesers aan ʼn referendum deelgeneem met die vraag “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”
Die referendum is op 20 Februarie 1992 aangekondig en ʼn ongekende mobiliseringsveldtog het gevolg. Sowat 85% van wit kiesers het opgedaag om te stem en van die 2,804,947 uitgebragde stemme het ‘n oorweldigende meerderheid, 68,73% van die kiesers “ja” gestem. Hiermee het ʼn meerderheid wit kiesers, waaronder Afrikaners, onlosmaaklik deurslag gegee aan die uitvoering van ʼn proses wat FW De Klerk op 2 Februarie 1990 begin het. Afrikaners het hul posisie van mag prysgegee in die soeke na ʼn permanente politieke oplossing.
Deur die 2 Februarie 1990 toespraak en die daaropvolgende referendum het ons onsself bevry van die verlede wat so swaar om ons nek gehang het. As Afrikaners is ons vandag onlosmaaklik deel van die groter Suid-Afrikaanse samelewing. Dit wat in 1990 begin is, het Afrikaners op die morele hoë grond geplaas in die deurlopende worsteling met die konsepte van selfbeskikking, soewereiniteit, menswaardigheid, gelyke behandeling en akkommodasie van aspirasies, versoening, skikking en kompromie. Ons kon daarom met morele gesag deelneem in die soeke en vestiging van ʼn staatkundige model wat die politieke aspirasies van alle Suid-Afrikaanse burgers op 'n moreel regverdigbare wyse sou akkommodeer.
Afrikaners kon self optree om die foute van die verlede te herstel en deur ʼn berekende risiko te neem het ons die hoë grond betree vanwaar ons met gesag oor die hedendaagse Suid-Afrika kommentaar kan lewer en nog steeds voorstelle kan maak om ons situasie te probeer verbeter. Afrikaners kon in die woorde van Nelson Mandela die era van onderdrukking en apartheid agter ons sit en kan ons vandag nog steeds as bevryde Afrikaners, die wêreld en Suid-Afrika in die oë kyk.
FW De Klerk het op 2 Februarie 1990 ʼn deur op ʼn skrefie vir my en baie ander Afrikaners oopgemaak om saam met redelike en gematigde Suid-Afrikaners hande te vat en saam te bou aan die uitkoms van gedeelde ideale. Oor hoe Suid-Afrika sou gelyk het indien die aankondigings en onderhandelinge nie plaasgevind het nie, kan ons vandag net bespiegel.
Met sy opregtheid, beginselvastheid en insig in die problematiek van die tyd het FW De Klerk die regte besluite geneem met die aankondigings van 2 Februarie 1990. Met die wetenskap van terugblik hoef ons dalk nie almal saam te stem met die uitkoms en die belewenis van die grondwetlike bedeling nie. Maar as bevryde Afrikaners kan ons vandag met morele gesag van die regering en van andere vereis om gehoor te aan die grondwetlike waardes van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede en nie-rassigheid. Dit is wat werklike versoening vir die land en sy mense teweeg sou bring.
Adres