Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2021

Ons is sielsmoeg, maar...

Deur Dr Jan Botha

 

1.        Inleiding

Ons bevind ons die afgelope tyd in ʼn uiters unieke fase. Talle mense na aan ons het die Covid-19 virus, is alreeds oorlede, verloor hul werk, Universiteite en talle instansies is gesluit,  baie is oorwerk, getraumatiseerd, vakansies is verskuif, kinders sukkel om aan te pas en vereensaam, is al meer depressief, leef in vrees, angs en vertwyfeling.

 

Die onlangse plundery en geweld in veral KwaZulu-Natal het skokgolwe deur die land gestuur en menige Suid-Afrikaner na hulle tasse laat gryp om te emigreer.

 

Ons is MOEG … sielsmoeg. Ons is innerlik uitgeput. Ons liggame is afgetakel, ons kragte is gedreineer. Ons koppe raas. Sielsmoeg kan ook met doodmoeg, innerlikdiep moeg, hele wese moeg, ʼn siellose lewe en bestaan, en siek van gees omskryf word. ʼn Vreesaanjaende tamheid wat jou wil oorweldig.

 

Ons almal beleef dié sielsmoegheid op verskillende vlakke. Ons is so uniek en divers maar niemand kan aan die greep op ons siele ontsnap nie. Ons samelewing en ons land asook die wêreld se psige is aangetas. Ons kollektiewe psige as mense in ʼn sekere konteks en land word ook beïnvloed deur hierdie toedrag van sake.

 

Lewensverveling en lewenstamheid is ook ʼn verdere uitvloeisel van sielsmoegheid. Bykans alles is onseker. Daar is net te veel inligting beskikbaar. Ons word gebombardeer deur feite, fop-nuus en talle beelde uit die nuusmedia. Alles is so oordonderend!

 

Beplanning, die nastreef van vaste doelwitte, die talle doodgetrekte datums van vergadering, vakansies, byeenkomste en selfs kuiergeleenthede in ons almal se dagboeke, bevestig die onseker tye waarin ons daagliks leef. Daagliks beleef ons verlengde skok van die geweld, noodtoestand wat amper onbepaald voortduur asook menigvuldige skokkende situasies soos die moontlikheid van ʼn volgende 4de golf, opstande asook voortgesette korrupsie en plundering buite ons beheer. Die effek hiervan is verreikend want niemand het beheer daaroor nie.

 

Ons ontwikkel ʼn vreemde skuldgevoel. Aan die een kant manifesteer dit soos terreuraanvalle op die siel, iets soos ʼn nare nagmerrie. Dit kom gewoonlik onverwags deur ons gedagtes na vore maar dit kan ook in die nag tydens nagmerries of angsaanvalle manifesteer. Aan die ander kant kan daar ʼn vreemde skuldgevoel onstaan as gevolg van ons werks- en gesinsverpligtinge wat dan manifesteer as verskillende grade van meelewingsuitbranding. Ons gee soveel van onsself, tyd, omgee, versorging en betrokkenheid dat ons eie brandstoftenk leegloop.

 

Ons het opgedroog: Het nie meer woorde om te troos nie, trane om saam te huil nie, arms om te druk nie, asook energie om volhoubaar en asook professioneel betrokke te bly nie. Uiterstes word beleef: of ʼn gebrek aan privaatheid in die hospitaal, tuis of by die werk, of ook ʼn groot eensaamheid aan die ander kant, oorval ons onverwags met sekere emosies.

 

2.        ʼn Paar voorbeelde van snellers wat sielsmoegheid in ons en die samelewing veroorsaak

Daar is beslis ʼn paar snellers wat meewerk om die toestand van sielsmoegheid te bevorder:

  • Ongeveer 3 miljoen persone wat die afgelope ses maande geen salaris ontvang het, of net gedeeltelike betaling ontvang.
  • 50% van die algehele bevolking wat daagliks honger gaan slaap asook die groot hoeveelheid werklose persone.
  • Depressie, angsversteurings asook substansafhanklikheid wat geweldig toegeneem het.
  • Geweld teenoor vroue, kinders asook huishoudelike geweld wat toeneem.
  • Selfmoord, eensaamheid en onttrekking uit die samelewing.
  • Vinnig toenemende tienerswangerskappe.
  • Finansiële tekorte asook stygende pryse.
  • ʼn Kultuur van bedrog, selfverryking en staatskaping.
  • Onbetrokkenheid by die kerk, gemeenskapsorganisasies asook by mekaar.
  • Kultuurvervreemding.
  • Ledigheid en skole wat periodiek sluit.

 

3.        Enkele ander rolspelers

3.1      Onderwys

In ʼn meningspeiling wat in Oktober 2020 deur die Suid-Afrikaanse Onderwysers-unie (SAOU) gedoen is, het 85% deelnemende onderwysers aangedui dat hulle toenemend aan uitdagende en gewelddadige gedrag van leerlinge onderwerp word. Daagliks word hulle aan emosionele afknouery, selfs fisiese aanranding asook die omvattende effek van die pandemie blootgestel.

 

Onderwysers se taak word verder gekompliseer deur groot klasgroepe waar verskillende moedertale, kulture, en sienings van dissipline in ag geneem moet word. Verder bemoeilik ʼn tekort aan onderrigtyd, onderwysers se saak. Dit vererger sielsmoegheid by beide die onderwysers en leerders.

 

3.2      Virtuele outisme by kinders

Kinders hoor alles wat ons sê en sien hoe ons optree. Behalwe die blootstelling is hul verknog aan alle virtuele kontak en stimulasie. Selfone, skootrekenaars, tablette en die televisie is so ʼn integrale deel van hul lewe en opvoeding. Tydens die inperking die afgelope 18 maande, met gevolglike oorvloed van vryetyd (soms sonder enige of min toesig) het tegnologie, media en internet verslawing ʼn leefwyse by hulle geword. Kinders asook volwassenes het sielsmoeg geword as gevolg van die fisiese passiwiteit.

 

Sielkundiges, pediaters asook terapeute het die afgelope jaar navorsing gedoen en talle studies was daarop gefokus. Hulle het tot die slotsom gekom dat ʼn groot hoeveelheid kinders aan “virtuele outisme” ly. Hulle fokus so op die toestelle en netwerke dat hulle sukkel met logiese en analitiese denke, sintaksis, sinsbou, inter/intrapersoonlike verhoudinge, algemene kommunikasie asook leerprobleme. Hulle fikseer so op die toestelle dat hulle tonnelvisie beleef en alles rondom hul uitsluit om sodoende in hulle eie virtuele en onnatuurlike leefwêreld te leef.

 

Kinders wat as gevolg van die virtuele outisme sielsmoeg word, het nie meer kontak met vriende, of die wêreld daarbuite nie, asook min, indien enige sinvolle kommunikasie.

 

3.3      Menswaardigheid

Die woord “menswaardigheid”, van die Latynse dignitas moet ook verreken word. Taal wat menswaardigheid ondersteun word volgens Denise Ackermann (2018:27) ook deur fopnuus gebruik om sekere standpunte te ondersteun. Die oorvloed inligting wat deur die media versprei word, raak net te veel en onverteerbaar. Mense word dinge, verbruiksartikels en alles word grys. Menswaardigheid asook waardes en norme vervaag en sielsmoegheid tree op die voorgrond. Hoe verstaan ons dan mense se waardigheid in terme van dit wat Christus gedoen het? God ag mense so waardevol dat Hy sy Seun na hulle stuur. Sy Seun lê sy lewe af vir mense. Hy tree in ’n verhouding met mense van alle stande, afkomste, generasies, oortuigings. Hy bevestig dat God hoë agting het vir alle mense. Hy gee daarom sy lewe prys vir alle mense. God se toekenning van waarde is sonder voorwaarde. Dit geskied nie op grond van mense se geloof, of ras, of afkoms, of gedrag of vermoë om te presteer nie. Dit geskied slegs op grond van God se verbintenis en sy trou aan mense.

 

Mense se dignitas is aan hulle toegeken deur God, ongeag enige vermoë of oortuiging, inherente kwaliteite of erkenning wat hulle mag geniet of nie mag geniet nie. Die posisie of gesindheid van God teenoor mense word deur Jesus op ’n radikale wyse gedemonstreer. Die waarde wat Hy aan mense heg, is so hoog dat Hy sy lewe vir hulle aflê.

 

4.        Hoe kon ons die sielsmoegheid moontlik oorkom?

 

Kom ons leer uit die alledaagse werklikheid ʼn paar lesse:

4.1      Geloof as oorlewingsmeganisme

 Oor die belangrikheid van geloof as oorlewingsmeganisme het Cohen (1953:148) na afloop van die Tweede Wêreldoorlog tot die volgende gevolgtrekking gekom: “ ... we see in camp that anyone in whose life there are certain religious bonds, manages to recover the most quickly, after initial stupor. If a prisoner found himself unable to bear the reality of life in a camp, he found in his spiritual life a possibility of escape that cannot easily be overestimated – an escape into regions of the mind”.

Godsdiens en geloof het onmiskenbaar bygedra tot gevangenes se psigiese veerkragtigheid en dus verhoed dat hulle, ten spyte van hulle benarde omstandighede sielsmoeg geraak het.

 

4.2      Liggaamlikheid

Volgens Wilhelm Jordaan se artikel in die Beeld (13 Januarie 2021) is liggaamlike aanraking asook die noue nabyheid van mense aan mekaar van kardinale belang. Ons is en word al meer velhonger en smag na fisiese aanraking. ʼn Skoonheidsterapeut het die week oor RSG bevestig dat talle kliente van haar daarop aandring dat sy haar handskoene uittrek sodat sy met haar kaal hande aan hul kan raak en so iets fisies, liggaamliks kan ervaar. Dit kan velhonger voorkom en sielsmoegheid teëwerk.

 

4.3      Verdiepte en verinnigde verhoudinge

Deur die doelbewuste bou en uitbou van verdiepte en verinnigde verhoudinge, kan die doelloosheid asook eensaamheid verdryf word en sielsmoegheid teengewerk word.

 

4.4      Woorde van waardering

Deur woorde van waardering (waardeur ons mekaar aan-praat, opbou, waardeer en eer) uit te spreek en veilige ruimtes te skep waar daar openlik en eerlik gekommunikeer word, sonder veroordeling en etikettering kan sielsmoegheid ook sinvol teëwerk.

 

4.5      Herwaardeer kuns, lied, musiek, natuur en die ganse kosmos

Deur weer te fokus op bogenoemde verbreed ons ons fokus en leer ons weer om ʼn leerbare gees te ontwikkel. Die moegheid wat ons siel aantas, word nou uitgedaag deur nuwe perspektiewe en die belewing van ander sensasies wat op ons sig, reuk, gehoor en menswees inspeel. Ontdek opnuut weer ʼn stokperdjie, beoefen sport, kweek ʼn gesonde leefstyl en eetgewoontes aan.

 

4.6      Fokus op jou persoonlike Godsbelewing

Stephan Joubert het by geleentheid gesê: “Jesus se hart lek van liefde!

Jesus se reaksie op mense en hul lot en sielsmoegheid word sigbaar. Hy het mense innig jammer gekry. Dit wat in Afrikaans vertaal word as dat Hy hulle “innig jammer gekry het”, is die woord “splagnitsomai”, in die Grieks. Letterlik beteken dit Sy ingewande, Sy lewer, hart, het gedraai en geskeur vir die skare! Dit is hoe diep Jesus se gevoelens vir ons gaan! En die woord word nie net hier gebruik nie maar ook oor Jesus se gevoelens vir die blindes in Matt 20, vir die weduwee in Luk 7, en nog baie ander plekke Elke keer breek Jesus se hart, elke keer, “Lek Jesus se hart liefde!”

 

Slot

Wat staan ʼn gelowige te doen in sulke omstandighede? As elke dag nog ʼn plaasaanval of huisbraak of moord vir ons bring? As ons moeg is van slegte nuus?

 

In Matt 9:35-36 lees ons die volgende woorde: “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie.” “Moeg” – die woord wat hier as moeg vertaal word kan ook “geteister”, “harrassed” beteken, soos ons soms voel as ons na die nuus kyk! Eintlik sielsmoeg!

 

Geluk is nie om alles te kry wat ek wil hê nie maar juis om dit wat ek het te geniet!

Ferdinand Deist sê: “leef met skoongemaakte vensters”. Kyk weer met nuwe oë na al die moontlike geleenthede en uitdagings. Ons kan die sielsmoegheid oorkom as ons daagliks herkalibreer en onsself oriënteer om te fokus op die lewe wat ons gratis ontvang.

 

Die vryvertaling van Psalm 139 kan ook sinvol gebid word as die sielsmoegheid ons wil oorval

Here, U het my aanmekaargeweef.
Sorgvuldig. Versigtig. Berekend en beraamd.
Elke haartjie, beentjie, kliertjie, kurwe.
Here, U ken my goed. Baie goed.
U het my al gesien, geken, toe ek nog ongebore was, toe bevrugting plaasgevind het.
Here, U sien ook al my onrus raak.
U sien hoe maklik ek op die verkeerde paaie stap, twyfel en sielsmoeg raak.
Deurgrond my, o Heer, deurgrond my.
Sien my raak en laat ek altyd doen wat vir U welgevallig is.

 

**Dr Jan Botha doen pastorale opleiding en berading en is ook deeltyds predikant by die NG Gemeente, Mootvallei, Pretoria 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: