Onteiening bring ʼn ernstige breuk in die saambindende krag van ons onderhandelde skikking en grondwet gebaseer op vertroue, integriteit en respek vir mekaar
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Opmerkings tydens die indiening van die Afrikanerbond se kommentaar op die Onteieningswetsontwerp - Die Afrikanerbond - kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening 2020 [B23-2020] - Sien die skakel op ons webwerf: Ingedien op 27 Februarie 2020
Tydens die Afrikanerbond se eeufeesviering op 7 Junie 2018 in Paarl het president Ramaphosa onder meer die volgende gesê:
“Laat ons die toekoms van hierdie land saam beplan en bepaal. Laat ons vrede soek vir hierdie verskeurde, tragiese, verdeelde Suid-Afrika. As dit reg hanteer word, sal grondhervorming help om die nasie saam te bind en voordele vir almal oplewer. As dit swak bestuur word, sal dit eenvoudig gegriefdheid herversprei, die ekonomie benadeel en maatskaplike vrede vernietig. As dit glad nie gedoen word nie, sal die land in sy wese verdeeld bly.”
Die huidige Onteieningswetsontwerp en die voorgestelde proses om Art 25 in die Grondwet te wysig gaan alles bereik waarteen President Ramaphosa in 2018 gewaarsku het en nou onder sy leiding volvoer word.
Net soos die versekering op 7 Junie 2018 en die soortgelyke versekeringe in die onderhandelde skikking van die 1990’s kan die ANC nie meer sulke versekeringe met enige integriteit, geloofwaardigheid of enige eerbaarheid maak nie.
Eiendomsreg het ʼn politieke speelbal geword wat deur die huidige ANC regering aangewend word om stemme te werf. Niks meer nie en niks minder nie. Die politieke motiewe geniet voorrang bo ekonomiese stabiliteit en daadwerklike en noodsaaklike ekonomiese groei vir Suid-Afrika. .
Die Afrikanerbond is op rekord en ons wil dit weer onomwonde stel dat enige proses om eiendomsreg deur die konsepwetsontwerp te verander en ʼn wysiging in die grondwet, artikel 25, nie aanvaar kan word nie. Alle bestaande metodes en moontlikhede is nie naasteby ontgin nie. Die ontneming en onteiening van eiendom het slegs ʼn simbool vir politieke doeleindes geword met geen voordele vir die land of sy mense nie. Deur enigsins met ʼn proses te begin vir onteiening sonder vergoeding, hoe ook al verdoesel, is ʼn eensydige verbreking van die 1994 nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996 grondwet.
Beide die konsepwetsontwerp sowel as die proses om die grondwet te wysig tas die wese van eiendomsreg aan. Dit is nie net ʼn verbreking en oortreding van die Suid-Afrikaanse grondwet nie maar ook van die Universele Verklaring van Menseregte. "Die Verklaring is deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in Parys op 10 Desember 1948 aanvaar (Algemene Vergadering Resolusie 217 A) as 'n gemeenskaplike standaard vir alle mense en alle nasies. Dit verklaar dat die fundamentele menseregte vir die eerste keer universeel beskerm word (www.un.org).”
Een van die hoekstene van die Universele Verklaring van Menseregte handel oor eiendomsregte soos vervat in artikel 17:
Dit word algaande duideliker dat die ANC se eens morele hoë grond rondom internasionale aanvaarding van die beginsels waarop die “struggle” berus het, weggekalwer het en dat die ANC nou in ʼn ideologiese moeras vasgeval het.
Met bostaande uitgangspunt soos vervat in die VN se Universele Verklaring van Menseregte sal die Afrikanerbond voortgaan met steun vir enige inisiatief vanuit die burgerlike samelewing tot moontlike regsaksie, mobilisering van internasionale begrip en openbare druk deur middel van vertoë en petisies of enige ander aksie wat nodig mag wees.
Ons moet opnuut waarsku dat enige afwatering van eiendomsreg verreikende implikasies sal inhou vir enige vertroue in Suid-Afrika, sy regering en toekomstige beleggings. ʼn Reeds vuisvoos ekonomie sal, wanneer eiendomregte deur ʼn onbevoegde en onbekwame regering bedreig word, enorme negatiewe implikasies inhou vir nasionale en internasionale beleggingvertroue.
Adres