Die Onteieningswetsontwerp B23 van 2020
- ʼn mondelinge voorlegging aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur
Aangebied deur: Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Ons stel dit dat, binne ons visie, ons as Afrikaners help bou aan die toekoms van Suid-Afrika − ons bring ervaring en ook kennis wat ons in ons kommentaar verskaf het.
Ek wil graag begin met ’n uittreksel uit ons Credo: Die Afrikanerbond glo en is vas oortuig dat ons eie belange en dié van ons mede-Afrikaners onlosmaaklik verbind is aan dié van elke ander Suid-Afrikaner en elke ander volksgroep in Suid-Afrika. Daarom sal ons waar nodig saamwerk met die owerheid en politieke partye op alle vlakke en met alle patriotiese organisasies in die burgerlike samelewing om gemeenskaplike doelwitte te bereik. Dit is die rede waarom ons vandag hier is.
Maar ons sê ook: Dat ons die fundamentele regte van elke indiwidu en elke groep in hierdie land met vasberadenheid verdedig; die aard en wese van 'n ware demokratiese staatsbestel beskerm en bevorder en enige ondemokratiese aspekte en neigings met mening bestry.
Op 10 Desember 2020 het die Portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur (die “Portefeuljekomitee”) belanghebbendes en belangstellende persone genooi om voor of op 10 Februarie 2021 skriftelike voorleggings oor die Onteieningswetsontwerp B23 van 2020 (die "Onteieningswetsontwerp") te maak. Hierdie sperdatum is uitgestel en ons het in hierdie tydperk ons volledige kommentaar op 27 Februarie 2021 ingedien.
Die Afrikanerbond is ook ’n lid van en die sameroeper van die Ad hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte. Dit is ’n informele groepering van organisasies, burgerlike instellings en politieke partye van dwarsoor die politieke en samelewingspektrum wat gekant is teen onteiening sonder vergoeding, en ons bevorder eiendomsregte vir alle Suid-Afrikaners. Baie van die lede het in die proses hulle kommentaar ingedien.
Daar moet vanuit die staanspoor daarop gelet word dat die Afrikanerbond teen enige vorm van onteiening sonder vergoeding gekant is. Een van die hoekstene van die Universele Verklaring van Menseregte handel oor eiendomsregte, soos in Artikel 17 vervat:
(1) Elkeen het die reg om individueel en in assosiasie met ander eiendom te besit.
(2) Niemand se eiendom mag arbitrêr afgeneem word nie.
Die Afrikanerbond het dus ernstige besware teen die voorgestelde Onteieningswetsontwerp en waarsku terselfdertyd dat hierdie wetgewing verreikende negatiewe gevolge vir alle Suid-Afrikaners sal hê. Die Afrikanerbond is ook daarvan oortuig dat grondhervorming en die verbreding van toegang tot eiendom vir alle Suid-Afrikaners van die uiterste belang is en dringend en effektief hanteer moet word.
Op die Afrikanerbond se eeufeesviering op 7 Junie 2018 in die Paarl het president Ramaphosa onder meer die volgende gesê: Laat ons die toekoms van hierdie land saam beplan en bepaal. Laat ons vrede soek vir hierdie verskeurde, tragiese, verdeelde Suid-Afrika. As dit reg hanteer word, sal grondhervorming help om die nasie saam te bind en voordele vir almal oplewer. As dit swak bestuur word, sal dit eenvoudig gegriefdheid herversprei, die ekonomie benadeel en maatskaplike vrede vernietig. As dit glad nie gedoen word nie, sal die land in sy wese verdeeld bly.
Ons herbevestig ons ondersteuning vir vryemarkbeginsels, en ons is van mening dat onteiening die laaste uitweg moet wees. Waarom en hoe hierdie Wetsontwerp die lig gesien het, moet bevraagteken word, en dit kon nie op 'n meer ongeleë tyd gekom het nie — gesien die ekonomiese klimaat en toenemende onsekerheid onder beleggers. Beleidsekerheid is die grondslag vir belegging en ekonomiese groei.
Soos ons dit verstaan, gaan die doel van die Wetsontwerp baie verder as die oogmerke daarvan en baan dit die weg vir ’n feitlik onbeperkte aanslag op die eiendomsregte van potensieel alle Suid-Afrikaners.
Ek haal aan uit die voorlegging van die Instituut vir Rasseverhoudinge: ”Die Wetsontwerp bedreig die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners: van die 9,5 miljoen mense met huiseienaarskap tot die nagenoeg 18 miljoen met tradisionele reg eiendomme, en die geraamde 17 miljoen wat lede van pensioenfondse is. Dit sal ook alle besigheidseienaars, groot en klein, benadeel. Terselfdertyd sal die ekonomiese gevolge van die Wetsontwerp die 11 miljoen individue wat tans werkloos is, verder benadeel deur investering te verminder, groei te beperk en die herstel na die inperking te belemmer.”
Die Onteieningswetsontwerp is na ons mening deel van aanhoudende pogings deur die staat om eiendom − nie net grond nie − te onteien, en ons is van mening dat dit ’n kwalik versluierde poging is om privaat eiendom te nasionaliseer. Ons beklemtoon ons siening dat enige eiendom − nie net grond of landbougrond nie − bedreig word.
Hierdie Onteieningswetsontwerp is arbitrêr en irrasioneel in die sin dat dit die wetgewende proses rakende die Konsepwetsontwerp op die Agttiende Wysiging van die Grondwet vooruitloop. Ons doen aan die hand dat die Onteieningswetsontwerp oorweeg word wanneer die proses rakende die Konsepwetsontwerp op die Agttiende Wysiging van die Grondwet in die wetgewende proses finaal afgehandel is en die grondwetlikheid daarvan geregtelik nagegaan en geverifieer is.
Hoewel die Onteieningswetsontwerp voorgehou word asof dit in belang van die publiek is, is die bepalings hieronder swaar belaai met outokratiese handelinge waardeur staatsorgane bevoordeel sal word.
Verskeie organisasies het baie deeglike insette in hulle voorleggings gelewer waarin hulle op die regsprobleme en die ekonomiese gevolge gewys het, en hulle het ook baie waardevolle voorstelle gemaak wat hopelik deur die komitee oorweeg sal word.
Die Onteieningswetsontwerp is op so ’n wyse geformuleer dat die onwettige onteiening van eiendom deur die staat as wettig beskou word. Hier word spesifiek verwys na gevalle waar vergoeding minder is as die markwaarde of vervangingswaarde van die eiendom, gewasse op die grond en gespesialiseerde toerusting. Selfs nog meer problematies is die feit dat die Onteieningswetsontwerp ’n proses kan instel waarvolgens vergoeding so laag soos nul rand kan wees.
Die Onteieningswetsontwerp is daarop gemik om die staat te bemagtig om eiendomsregte eensydig weg te neem en dit vir homself te behou. Dit is ’n versuikerde poging tot nasionalisering van eiendom. Dit is glad nie duidelik in watter omstandighede eiendom onteien kan word nie. Dit bring mee dat die staat eiendom om enige rede kan onteien, so lank dit na bewering “in openbare belang of vir ’n openbare doel” onteien word.
Die Onteieningswetsontwerp plaas geen verpligting op die staat om te verduidelik of aan te toon hoe onteiening in openbare belang of vir ’n openbare doel geregverdig word nie. Gevolglik is daar geen bewyslas op die staat om hierdie belangrike voorvereiste te bewys nie.
Die bewyslas op die individu wat deur die Onteieningswetsontwerp geraak of benadeel word, is deurgaans teen die individu wanneer die outokratiese optrede van die staat betwis word.
Die negatiewe gevolge van alle vorme van belasting wat uit die Onteieningswetsontwerp voortspruit, is drakonies en moet deeglik ontleed word. Die impak op alle elemente van reële ekonomiese aktiwiteite moet ook gekwantifiseer word. Die werklike en ware fiskale impak rakende die Onteieningswetsontwerp moet deeglik ontleed en bepaal word nie net vanuit 'n kosteperspektief nie maar ook ten opsigte van die belasting ontvangbaar. Dit is duidelik dat ongewilde ingrypende belastingwetgewing sal moet volg. Ons verwys u na ons skriftelike voorlegging, waarin die belastingimplikasies uiteengesit word.
Ons is van mening dat die Onteieningswetsontwerp ongrondwetlik is en in sy geheel laat vaar moet word saam met alle pogings gemik op die wysiging van artikel 25 van die Grondwet, wat bedoel is om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Ons is voorts van mening dat artikel 25 ’n behoorlike wetlike raamwerk vir reële grondhervorming daarstel en dat dit gebruik moet word om die grondhervormingsproses te versnel. Voorts moet toegang tot eiendom vir alle Suid-Afrikaners volgens behoorlike wetgewende prosesse geskied, gegrond op stewige beginsels en nie op grond van onteiening en om dit op hierdie grondslag in hierdie konsepwetsontwerp te doen nie.
Ons sluit hierdie mondelinge voorlegging af met die kragtige woorde in die November 2017-verslag van die Hoëvlakpaneel (HVP) onder voorsitterskap van oudpresident Kgalema Mothlanthe, wat belangrike wetgewing en die bespoediging van fundamentele verandering nagegaan en geassesseer het.
“Die Paneel bevind dat die geïdentifiseerde probleme in baie gevalle nie uit die wetsbepalings as sodanig voortspruit nie, maar eerder uit tekortkominge rakende implementering en toepassing.” Dit is hierdie tekortkominge wat reggestel moet word en nie wetgewing wat neer en groter probleme gaan skep nie
Die Afrikanerbond bedank die Portefeuljekomitee vir die geleentheid om genooi te word en aan hierdie mondelinge voorleggings deel te neem.
Adres