Wees 'n "Gees-mens"!
Deur dr Jan Botha
Dr Jan Botha het die AB se gebiedsbyeenkoms in Gauteng-Noord op Saterdag 28 Mei 2022 op gepaste wyse geopen en die volgende boodskap oorgedra.
Ons word almal geraak deur al die onsekerhede, daaglikse uitdagings en eindelose gesukkel op talle terreine. Ons is kwarentyn-voos, lewens-voos, beleef soms ‘n af-gevoel, is vir -niks -lus nie, het ook van tyd tot tyd min energie en vreugde.
In ons kerklike jaar is ons nou in die seisoen van die Gees. Paulus bevestig ‘n nuwe lewenstyl in Galasiërs 5:16 - “Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hý aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê”.
Hy sê dan ook in sy eie spreekwoordelike taal, dat die gelowige mens wie se verhouding met God reg is, ‘n ander soort mens is. Die Griekse woord ‘n “pneumatikos”, ‘n “Gees-mens”, word in die verband gebruik. Dié mens word deur die Gees oorrompel deur die tsunami van God se liefde en Christus se genade. So vat die Drie-enige God se goedheid en almag grond in ons lewe.
Wat doen die Gees dan in ons as “Gees-mense” se lewe?
Die Gees doen al die dinge met ‘n geweldige krag, “dinamus”, want Hy “begeer” letterlik volgens die Grieks om goeie vrugte in ons te dra volgens Galasiërs 5:17. Die krag word ook deel van ons lewe. Dit is nou binne in ons, ons word blootgestel aan die oormag van die Heilige Gees.
Die oormag veronderstel dat ons onsself oorgegee het aan die Gees, hy neem jou mee, saam, omdat ons deur Christus gegryp is en as God’s begenadigdes lewe!
Paulus stel dit in Romeine 12:11 so prakties en mooi as hy sê: “Moenie een oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef”. ‘n Brandende hart, asook lewe, bring Hoop in die onseker en droewige tye, want dit is volhoubaar en komende van die Bron van Hoop, God self!
Wat begeer ons juis in die uitdagende tye die meeste? As “pneumatikoi”, “Gees-mense”, wil ons hoopdraers, ewemense en medewerkers van die Drie-enige God wees. Dit is haalbaar, moontlik, asook volhoubaar, want Paulus sê in Romeine 8:6: “Mense wat aan die Heilige Gees gehoorsaam is, se lewe is vol vrede. Hulle het ’n toekoms in God se nuwe wêreld”. Ja, luister aandagtig, konsentreer: Gees-mense se lewe is vol vrede, dit waarna ons almal daagliks smag! Hoekom het die Gees-mense dan vrede? Hulle, ons wat in Christus is, is beslis 100% verseker van ‘n toekoms in God se nuwe wêreld!
Kom ons aanvaar nou opnuut die groot en uitdagende uitnodiging! Kom ons leef te alle tye as “Gees-mense” in die Pinkster seisoen maar ook elke genade dag wat aan ons geskenk word! Kom ons maak weer ‘n volhoubare duik in die emmer, verskil waar ons as “Gees-mense” lewe, werk en die lewe daagliks vier!
· Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987) en is deeltydse Predikant: NG Gemeente Mootvallei, Pretoria
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres