Oordenking: Jesus is waarlik mens…en waarlik God opreis na sy dood!
Deur dr Jan Botha
Paasfees en die “Groot Lydingsweek” is pas verby. Wat ’n WEEK!!! Niks kan meer dieselfde wees na die Goddelike gebeure en ingreep in die wêreld geskiedenis nie. Die lang verwagte Messias het alle Goddelike verwagting “oortref” omdat hy enduit getrou geby het aan Sy Vader se wil en plan met sy ganse kosmos. Alles kan nou “nuut” word na Sy opstanding!
Maar die mense van sy tyd, ja selfs sy dissipels se verwagtinge omtrent “’n Messias” was toe verkeerd en selfs uiters teleurstellend. Hulle het niks verstaan van sy “waarlik God en waarlik menswees” nie.
Johannes kom in sy evangelie en probeer die saak in perspektief stel.Hy getuig maar net van dit wat hy persoonlik beleef, gesien en gehoor het. Dit spreek mos vanself, hy was immers self daar! Hy wil niks “bewys en of verklaar” nie.
Johannes kies 7 wonderwerke as hy oor Jesus nadink en wil beskryf wat hy persoonlik saam met Hon beleef het.
Die bruilof in Kana: Die getuienis van die kelners: water verander in die beste wyn! Hulle het dit eerstehands mos gesien en die opwinding van die “nuwe goeie wyn” by die feesgangers beleef. Jesus” red” die geleentheid deur ’n wonderwerk wat oorvloed wyn verskaf. Hy kuier saam en leef so tussen sy mense as waarlik God en tog ook waarlik mens.
Die regeringsamptenaar wie se seun op sterwe lê: Die pa se getuienis oor elke dokter wat hy ingeroep het...toe kom die Rabbi van Nasaret en my seun is gesond! Die Rabbi is daar... iemand vreemd kruis sy pad. Hy luister en help want die seer, hopeloosheid en verwagting van mense raak hom ook ten diepste.
Die lam man by die bad van Betesta: Agt en dertig jaar verlam...ons het hom hier sien inloop! Agt en dertig jaar se worstel, doodloopstrate en om sonder hoop te leef word deur ’n sagte kyk en woord...dadelik verander. Mense het hom werklik in lewende lyf sien loop.
Die seuntjie met die brode en vissies: ’n Feesmaal waarvan duisende kan getuig. Almal gaan welgevoed huis toe want Hy het hul basiese behoefte aan voedsel, om versadig te word gesien, verstaan en bevredig in oorvloed!
Die storm op die see: Petrus en ’n paar ander kan daarvan getuig! Bang, amper dood en verskrik. Hy lê en slaap...hy sê “bedaar” en alles raak stil. Selfs die natuur, die vreeslike storm en wind “luister” en onderwerp hul aan Hom, God se seun!
Die blinde man wat blind gebore is: Sy dramatiese getuienis... “Jesus het my laat sien”! Hy was so gewoond aan sy “donker wêreld” en om elke dag in weerlooshied, afhanklik van ander se gunste en gawes en in eensaamheid te lewe, en dit vir jare: van sy geboorte of is dit al wat hy ken en aan gewoond geraak het. Hy word “raakgesien” iemand neem hom ernstig op en kom in sy wêreld in. Jesus “sien” hom en alles verander dadelik, meteens!
En dan... Lasarus van Betanië: Hy getuig...”Ek het sy stem gehoor en na vier dae in die doderyk lewe ek”! Ja, Jesus is beslis waarlik God want selfs die dood van sy boesem vriend Lasarus getuig van sy omgee en die aanraak, self net deur sy stem, bring lewe. Sy eie opstanding na drie dae getuig van Sy Vader wat in beheer is. Sy Vader wat getrou bly tot in ewigheid.
Ja, Jesus is waarlik mens want oppad na Jerusalem en sy wreede dood sien hy mense en hul behoeftes raak. Hy raak hul op verskillende Goddelike maniere aan en bring heling en bevredig hul behoeftes... MAAR as waarlik God gaan hy uitroep “My God, my God waarom het U my verlaat!”
Ja, Jesus is waarlik mens… en waarlik God opreis na sy dood!!! Hy het opgestaan en die dood oorwin. Ons is daarom ook vry om soos hy uit Sy Opstanding te lewe!
* Dr Jan Botha is Predikant by Florauna en Petronella NG gemeentes
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres