Oordenking: Om op die Here te wag...
Deur dr. Jan Botha
Om op God te wag totdat hy antwoord is ‘n persoonlike groei geleentheid, is ‘n persoonlike louteringsproses. Ons lees in Psalm 130: 5-7: “Ek wag op die Here; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. My hele wese wag op my Heer, meer as wagte op die môre, ja, wagte op die môre”. Die arme wagte moes geduldig, oop-oog en paraat wag op die stadsmure. Hulle is spesiaal gekies om die belangrike en uiters verantwoordelike werk, hierdie roeping van hulle, nougeset te vervul. Hul getrouheid het immers die veiligheid en welsyn van die hele stad verseker.
In ons gejaagde en kits-kultuur verg dit amper die onmoontlike van ons om te wag, wat nog daarvan om op die Here te wag. Dit is mos doodgewoon tydmors en onproduktief! Ons moet beweeg, gou antwoorde en oplossings kry en dan weer met spoed voortgaan. Moet asseblief net nie my spoed breek nie!
Om te wag kan egter ‘n heel ander kant van ons Godsbelewing ontwikkel. Om te wag kan ‘n uiters helende ervaring wees, om te wag kan ‘n genesende proses in ons menswees bewerkstellig.
Soos die wagte op die muur die son se opkoms as deurslaggewend beleef, so moet ons ook opgewonde wees om ons horlosies te sinkroniseer met God se hemelse tydwysers. Ons leer ook uit Jesus se worsteling in Getsemane iets daarvan. Hy smeek dat die beker by hom moet verbygaan. Hy pleit, vra met oorgawe, sy sweet word bloed, maar …
Sy Vader se hemelse tydswysers was egter nie gesinkroniseer met sy eie nood, broosheid en smeking nie. In die worsteling daar, in sy eensame alleenheid, in sy menslike natuur raak hy stil … raak hy moeg geworstel, stel hy hom in stilte, wagtend beskikbaar aan sy Vader. Hy het sekerlik in die hemelse voorportaal gewag, later voor die deure opgedaag om daar op sy Vader te wag.
Hy vervul met toewyding en passie sy wagbeurt uit. Oop-oog loop hy die son tegemoed, weet Hy alles is in sy Vader se hande.
Om te wag vereis ‘n sekere wete en vertroue. Geloof is mos “‘n sekere wete”, om die onsienlike te sien en doelbewus te beleef. Ons eie geloof is leeg. Ons kan nie … geloof is ‘n fokus op Iemand buite onsself. Geloof is om alles van God te verwag en niks van onsself nie. Dit vra ‘n doelbewuste wegdraai, ja wegkyk van onsself.
Ons word daagliks verblind deur ons eie situasies, omstandighede, verse, teleurstellings en seer.
Ons sien net die berge, versperrings en mure raak. Miskien is dit tyd om te waag, te waag om op die muur te klim. Ons uitsig te verbeter, oop-oog te gaan soek, wag en droom oor die son wat nou-nou weer, soos elke ander dag, gaan opkom.
Dit verg oefening, skerpwees, herfokus en om na God te soek in stilte. Die kuns van ons geloof is juis om te bly wag. Om die Drie-enige God weer te verwag, raak te sien en innig te bewonder.
Om op God te wag is ‘n avontuur ... ons weet iets gaan wel gebeur. Die afwagting kan ons soms moedeloos, maar ook meermale opgewonde maak. Opgewonde, want ons weet ons gaan ons God in aksie sien, Hom beleef en in verwondering voor hom neerval. Hy is en bly in beheer!
Nou leef ons in verwondering, nederigheid en afhanklikheid. Nou vier ons die “wag op God” met blydskap en eerbied, want ons weet iets gaan gebeur. En jy? Vandag? Bly jy steeds met hoop wag op die Here?
Soos wagters op die mure het ons die son sien opkom, soos altyd, op sy tyd …
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres