Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Kerswense  Desember 2021

OSV en mislukte aanslag op die grondwet is nie die einde nie.

-     Waak teen oorgerustheid

 

Die Afrikanerbond het kennis geneem van die ANC se mislukte aanslag op die grondwet en die poging om die vereiste tweederde meerderheid te kry om die 18de grondwetlike wysigingswetsontwerp deur te voer wat onteiening sonder vergoeding moontlik sou maak.

 

Hierdie is hoogstens slegs ‘n tydelike oorwinning vir die demokrasie aangesien die ANC reeds sedert 2008 poog om onteiening in verskuilde vorms deur te voer. Ons moet dus waak teen ‘n valse gerusstelling aangesien die ANC se beleid en besluite nie op rasionele gronde berus nie, maar eerder gebaseer is op faksie twiste en politieke oorlewing. Dit is duidelik ook uit die ANC se bydraes in die debat voor die stemming dat die ongrondwetlikheid en die drakoniese aard van onteiening nie deurgedring het tot die ANC of sy alliansie-vennote nie. 

 

Die Afrikanerbond, as fasiliteerder van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte, sal voortgaan om beleidsraamwerke wat ongrondwetlik is teen te staan en waar nodig burgerlike steun help mobiliseer. In die verband moet die rol van die burgerlike samelewing nie onderskat word en met die steun van verskeie politieke partye kon die wysigingswetsontwerp, wat deur ʼn ondeurdagte proses gestoomroller is, gestuit word. 

 

Die Afrikanerbond wil by herhaling pleit dat hierdie ondeurdagte en onnodige fokus op die onteiening van grond anders hanteer word. Dit is krities noodsaaklik dat enige proses billik en regverdig, nie-verdelend, doeltreffend, ekonomies aanvaarbaar, vinnig en landboukundig volhoubaar sal wees.

 

ʼn Oorhaastige konferensiebesluit van die ANC het gelei tot ontsaglike vermorsing van die staat se reeds beperkte hulpbronne. Die foute moet veel eerder gesoek word by amptenare en departemente wat strompel van die een mislukking na die ander. Daarom word onteiening en grondwetwysigings bevorder ten koste van ordelike en internasionale norme en standaarde. Dit is lankal reeds duidelik dat die ANC met sy rug teen die muur staan wat grondhervorming en ander beleidsaspekte aanbetref. Dekades se wanbestuur, mislukkings, korrupsie, beleidsomkerings, ideologiese verwarring en verwerping van enige goedbedoelde advies en duidelike en bewese grondvoorstelle het die ANC in ʼn posisie geplaas waaruit hy nie meer kan ontsnap nie. Die enigste ontsnaproete was om ʼn moontlike konstitusionele krisis te skep deur wysigings aan die Grondwet aan te bring.

 

Daar moet by niemand enige twyfel wees dat die ANC nie te vinde is vir enige oplossing binne die grondwetlike raamwerk nie, en na gister se vernedering met meer irrasionele aggressie gaan optree. Ons moet Hoop hê om onvermoeid te werk aan 'n oplossing vir die huidige grondkwessie, maar om Hoop te hê verg ook 'n positiewe ingesteldheid! Daarom gee die Afrikanerbond deurgaans steun en ondersteuning vir enige inisiatief wat eiendomsreg in Suid-Afrika vestig. Baie voorstelle vanuit die burgerlike samelewing is reeds in die verlede gemaak om op kreatiewe wyses ʼn oplossing te vind.


Langs die weg ook ons dank aan die politieke partye, organisasies in die burgerlike samelewing en individue wat afsonderlik en onder die vaandel van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte so gereeld onderlinge advies, inligting en gedagtes uitruil, saam dink oor strategieë en binne en buite die parlement werk aan opposisie teen die grondwetwysiging.   

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: