Ons is meer as oorwinnaars - Oordenking Paasfees 2021
Deur Prof Herrie van Rooy
Pretoria
Ons is meer as oorwinnaars
Romeine 8:18-37, fokusvers vers 37
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”
Paasfees is die hoogtepunt van die kerklike jaar wat van Kersfees oor Paasfees na Hemelvaart en Pinkster loop. Dit trek alles saam in Paasfees, met die dood en opstanding van Jesus. Die betekenis daarvan vir ons is: ons is meer as oorwinnaars. Tog iets van ʼn paradoks hierin: meer as oorwinnaars – maar dikwels lyk dit anders. Ons leef in hierdie wêreld waar dit lyk of die magte wat teen God staan, sterker is as die kerk en die Christene. Hoekom is die wêreld so stukkend, hoekom voel dit dikwels vir my of my lewe ineenstort?
Aan die einde van Romeine 8 skryf Paulus ‘n loflied oor die oorwinning wat ons deel geword het deur ons Here Jesus Christus. Die wêreld waarop ons leef is egter steeds stukkend en ons het self dikwels deel aan hierdie gebrokenheid. Dit het ons in die besonder hierdie afgelope jaar ervaar met die virus wat alles omgekrap het. Wanneer Paulus hierdie loflied sing, ontken hy nie daarmee hierdie gebrokenheid nie.
In vers 18 praat hy van die lyding van teenswoordige wêreld. Die mense ly, maar eintlik ly die hele skepping. Maar Paasfees wil aan ons die boodskap bring dat die stukkende wêreld nie laaste woord het nie. Ons moet daarby kan verbykyk. Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge vra Paulus: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Hoekom is dinge anders? Omdat God sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Hy kyk uit ‘n ander hoek, nie moedeloos nie, maar seker. Die gebrokenheid is ‘n werklikheid, maar tog is dit anders vir gelowiges. Die werklikheid van Christus is groter, die werklikheid van sy dood en opstanding. Die regte werklikheid vir ons staan in ons teks: meer as oorwinnaars. Hoe kan dit? Omdat Christus gekom het, omdat Christus gewen het. Meer as oorwinnaars, ja steeds op ‘n gebroke wêreld, steeds met ons eie gebrokenheid en beperkinge, maar steeds meer as oorwinnaars.
Dit is juis die besondere boodskap van Paasfees. Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Dit gaan oor liefde van Christus, liefde van God wat Christus gestuur het. Jesus het gekom omdat Hy ons liefhet. God se genade bring ons tot sekerheid, tot lof, tot ‘n nuwe lewe. Al die dinge waarvan Paulus gepraat het, al die hartseer, al die seerkry, al die lyding gebring deur die gebrokenheid van hierdie wêreld kan ons nooit skei van die liefde van God nie. Paasfees bring weer die feite van die kruis en opstanding na vore, maar dit wil veral ook ons daarvan verseker dat Christus dit vir elkeen van ons persoonlik gedoen het.
Hierdie sekerheid gee ons die krag om telkens by ons vrae verby te kyk, by ons hartseer, en te weet dat niks ons ooit van die liefde van God kan skei wat daar vir ons in Christus is nie. Dit gee ons egter ook die krag wat ons nodig het om as gelowiges, as oorwinnaars te leef. Natuurlik bly ons vrae en seerkry en onsekerheid, maar dit het anders geword. Daarom moet ons positief leef as oorwinnaars, moet ons lewe steeds ‘n getuienis wees tot op daardie dag wanneer alle vrae sal verdwyn en ons in ewigheid sal leef as meer as oorwinnaars, in die sekerheid wat Christus se kruis en opstanding bring.
Adres