Inperking van vryhede is ʼn enorme bedreiging onder die radikale ekonomiese transformasie (RET) faksie van die ANC se bevordering van die vryheidsmanifes
Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) wat op 26 Junie 1955 te Kliptown aanvaar is se grootste aanhanger deesdae is die Radikale Ekonomiese Transformasie faksie van die ANC. Hierin word die RET met oorgawe ondersteun deur Carl Niehaus as die woordvoerder van RET en al die subfaksies en verskynsels.
Die Vryheidsmanifes wat soms beskryf word as ‘n dokument vol ideale en slagspreuke is nou die basisdokument vir die Radikale Ekonomiese Transformasie Faksie van die ANC se manifes wat twee weke gelede deur bekendgestel is. In die RET manifes word die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) glorieryk besing in 3841 woorde, met nie een verwysing na die Grondwet van 1996 nie. Ter regverdiging van die Radikale Ekonomiese Transformasie manifes word al die oorbekende strydkrete en sosiale media gonswoorde en beskuldigings in 67 paragrawe as die vyand van die mense uitgelig. Wit monopoliekapitaal skep ekonomiese ongelykhede, die nasionalisering van banke en minerale, groter staatsinmening word bepleit en natuurlik sal onteiening sonder vergoeding grond aan mense teruggee.
Suid-Afrika is in 2021 nog steeds 'n grondwetlike demokrasie met 'n verskanste Handves van Regte wat op ʼn manier al die vereistes van die Vryheidsmanifes ingesluit het in die finale grondwet van 1996.
Mens moet nie te lank en te veel stilstaan by die individue wat almal op een of ander wyse verbind word met die RET faksie nie. Jacob Zuma, Ace Magashule, Carl Niehaus, Tony Yengeni, Des van Rooyen, Supra Mahumapelo, Nomvula Mokonyane, Mosebenzi Zwane, Kebby Maphatsoe, Andile Lungisa en so kan die lys aangevul word. Almal kleurryke karakters met ʼn ewe bedenklike agtergrond, betrokkenheid of verbind in korrupsie, staatskaping en staatsstroping. Dat beurtkrag, infrastruktuur verbrokkeling en gebrekkige dienslewering deel geword het van die laaste 30 jaar se lewe onder die leiding en toesig van die persone en hulle meelopers, word nêrens in die manifes erken of voor verantwoordelikheid geneem nie.
Die RET manifes skep ʼn utopie met brabbelende en uitgediende denke en ideologiese retoriek. Hierby sluit RET aan by sommige staatsdepartemente wat hulle beleidsraamwerke ook eerder fokus op die Vryheidsmanifes en die NDR, as op die 1996 grondwet.
As bevrydingsbeweging het die ANC in die verlede by verskeie geleenthede sy eie basuin geblaas oor sy verbintenis tot die Freedom Charter. Die Vryheidsmanifes, word wel algemeen aanvaar as die grondslag vir die ANC se rol in die totstandkoming van 'n demokratiese Suid-Afrika. In die proses was die motief edel, maar die uitkoms ten opsigte van die ANC se verbintenis tot 'n nie-rassige samelewing is in 2021 maar somber en soms onduidelik. Dit is asof die ANC en sy faksies nie die gebeure van die 1990’s wil erken of wil aanvaar nie. Die lotsbepalende en dramatiese besluite van die vorige politieke bedeling, die onderhandelinge, die ooreenkomste gebaseer op konsensus, die verkiesing van 27 April 1994 gebaseer op die oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996. Dit alles was ʼn proses van gee en neem. In die proses is die ideale van die ANC se Vryheidsmanifes ook getemper en het ʼn nuwe en soms ander vorm aangeneem in die finale produk.
Die Vryheidsmanifes wat die ANC en nou die RET faksie so dikwels ophaal is nie die oppergesag van die land nie. Dit was nooit nie en mag ook nooit so geïnterpreteer word nie. Die 1996 Suid-Afrikaanse Grondwet is die enigste oppergesag en vorm die fondament van ons grondwetlike demokrasie en regstaat. Die Suid-Afrikaanse grondwet kan daarom ook nie onderskik staan aan die Vryheidsmanifes nie en kan ook nie in samehang daarmee gelees word nie. Net so is die Vryheidsmanifes ʼn historiese dokument in die konteks van sy tyd (1955) en word beslis nie deur almal ondersteun nie.
Die Vryheidsmanifes het sy doel gedien voorafgaande tot 1994! Dit het geen regstatus nie en kan nie die basisdokument wees vir ʼn grondwetlike demokrasie nie. Daarom sit ons tans met ʼn onhoudbare situasie in Suid-Afrika. Dit word te dikwels ooglopend toegelaat dat politieke partye en faksies buite die raamwerk en voorskrifte van die grondwetlike demokrasie beweeg. Binne die raamwerk van die grondwetlike demokrasie word ons egter opgesaal met ʼn regering wat deur die faksies in die regerende party lankal reeds die grondwet verwerp en veel eerder die voorskrifte van die Vryheidsmanifes en die Nasionale Demokratiese Rewolusie aanhang. Dus geld een stel reëls vir Suid-Afrikaners en ʼn ander stel reëls vir die ANC, sy faksies en sy leierskap.
Die gort was gaar nadat mnr Johann Rupert in 2017 by ʼn jaarvergadering van Richemont gesê die regering se beleid van “radikale ekonomiese transformasie” is bloot ʼn kodewoord vir diefstal. Die gewone groepering en omtrent elke vleuel van die ANC, van die vroue tot die jeug, het die uitspraak uitasem veroordeel. Vier jaar later weet ons Radikale Ekonomiese Transformasie se gedeelde belang is meer as net diefstal, dit is staatskaping, staatstroping en selfverryking op ʼn ongekende skaal. Daarom ook nie vreemd dat mnr Johann Rupert die RET se grootste vyand is nie!
Dalk lê die Radikale Ekonomiese Transformasie faksie se frustrasie opgesluit in die feit dat die grondwet tog nog die grootskaalse diefstal en staatskaping tot ʼn mate beperk. Die Vryheidsmanifes en die volvoering daarvan ontsluit en bring ongekende moontlikhede vir die faksie en diegene wat nog nie klaar gesteel is nie.
Word die prys van ANC eenheid ten alle koste, nie te groot vir die land en ons grondwetlike demokrasie nie? Dalk is die fout by die ANC en die regering wat nie kan of wil transformeer vanaf die Vryheidsmanifes en die gevaarlike doelwitte van die Nasionale Demokrasie Revolusie na die 1996 grondwet en die Nasionale Ontwikkelingsplan van 2012 nie. Dit is die grootste transformasie wat moet plaasvind vir Suid-Afrika om suksesvol te werk vir almal. Radikale Ekonomiese Transformasie soos wat dit voorsien en geïdealiseer word, hou deur sy aanhang en implementering die grootste bedreiging in vir die vryhede van Suid-Afrikaners. Daarom kan die bevordering van die Nasionale Demokratiese Revolusie en die Vryheidsmanifes ten koste van die grondwet nie goedsmoeds net aanvaar word of enigsins geduld word nie
Adres