Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2022

 DIE RAPPORT ONDERWYSFONDS - TERUGVOER

 

“My hele lewe het verander vandat ek kon studeer en beter geld kon verdien. Ek kan my eie kinders nou die geleentheid bied om te studeer en ‘n beter lewe vir hulself te maak. Ons kan nou ons eie huis koop en ek het iets om na te laat vir my kinders en hul kinders.” 

Aan die woord is ‘n oud-ROF student wat in 2017 en 2018 met behulp van ROF-leningsbeurse haar B.Ed-graad cum laude geslaag het. In 2020 het sy verdere ROF-ondersteuning ontvang vir die voltooiing van haar B.Ed Hon. Sy vertel: “Dokters het as kind vir my ma gesê dat ek nooit op skool sal vorder nie omdat ek baie gesondheidsprobleme as kind gehad het (veral oë en ore). Hulle het my ma laat glo dat ek geen vordering sal maak. My ma het egter deur gebed en geloof, geglo dat ek sal vordering maak. 

 

Ek het myself belowe dat ek sal die dokters wys dat enigiets moontlik is indien jy hard werk en glo in jouself. Ek wens ek kan vir hulle sê: ‘Hier is ek; soveel jare later met matriek en twee grade wat ek albei met lof geslaag het.’ My ma is nie meer met ons nie, maar haar toewyding leef voort deur my, my kinders en my leerlinge. Ek glo as mens hul van kleins af leer om in hulself te glo, dat hulle dít wat hul wil word, sál bereik. 

 

Baie dankie vir wat u vir my gedoen het om my lewe en my gesin se lewens te verander. Dis wonderlik om nie meer elke maand finansieel te sukkel nie.”

 

Danksy ROF se donateurs kan hierdie student vandag haar droom uitleef en ‘n verskil maak in soveel jong leerders se lewens!

 

 Oorsig oor die Rapport Onderwysfonds

 Rapport Onderwysfonds funksioneer as ’n Stigting met die doel om finansiële ondersteuning aan Afrikaanssprekende onderwysstudente te gee. ROF is ʼn nie-winsgewende organisasie wat baie swaar steun op die finansiële ondersteuning van die Afrikaanse gemeenskap sowel as die korporatiewe mark om in die behoeftes te voorsien. ROF maak staat op klein skenkings uit ons gemeenskap maar ook op groter organisasies wat omgee vir die onderwys, of omgee vir Afrikaans, of omgee vir Afrikaanse onderwys.  ROF fokus op die noodsaaklike ondersteuning van studente wat hulle as onderwysers wil bekwaam en dit is een van die hoofredes waarom ons vandag nog steeds betrokke is. By ROF wil ons ook deel van die oplossing wees.

 

ROF se voetspoor

 ROF het sedert 2005 al 3 329 toekennings gemaak en in die proses 1 876 studente bemagtig - sommige is slegs vir een jaar ondersteun (bv. finalejaar studente) terwyl ander vir meer jare ondersteun word.

 

Daar word sover vanjaar 300 onderwysstudente ondersteun waarvan 70 onderwysstudente besig is met hul nagraadse studies.

 

ROF SE FOKUS

 ROF wil graag ʼn groter voetspoor in die onderwys maak en daarom word ondersteuning gegee aan:

 

  • Opleiding van onderwysers (voorgraads): ROF spreek die behoefte aan om finansiële ondersteuning aan voorgraadse tersiêre onderwys-studente te verskaf sodat hulle in staat is om hul studies te voltooi. Sodoende word die professionele onderwysmark vergroot en kan meer gekwalifiseerde onderwysers in skole aangestel word. Daar word ongeveer 300 studente per jaar ondersteun, afhangende van die bedrag skenkings ontvang.
  • Verdere opleiding van bestaande opvoeders (nagraads): ROF ondersteun ook bestaande onderwysers wat deeltyds verder wil studeer (B.Ed Hon, M.Ed en NOS) en bevorder dus die ontwikkeling en opleiding van toekomstige leiers in die onderwys.

 

Aansoeke vir 2023

 

ROF het ‘n aanlyn-stelsel waar studente aansoek doen. Op die oomblik het 775 studente alreeds begin met hul aansoeke vir volgende jaar. (Universiteite is vandeesweek in kennis gestel dat hul studente kan aansoek doen voor die sluitingsdatum 30 September.) ROF verwag nou, soos in die verlede, weer ‘n toestroming van aansoeke voor die einde van die maand. 

 

Aansoeke word ontvang van oor die hele land (tans is ons studente geregistreer by 22 universiteite reg oor die land, waarvan die meeste ROF-studente by NWU, Aros, CPUT Wellington en UV studeer.

 

‘n Baie groot dankie

 

Die Raad van Trustees van die Rapport Onderwysfonds dra graag dank en waardering oor aan elkeen wat in hierdie verslagjaar gehelp het om op ’n beskeie wyse by te dra tot die bemagtiging van Afrikaanssprekende studente. 

 

Ons vertrou dat Afrikaanssprekendes en die Suid-Afrikaanse gemeenskap toenemend geïnspireer sal word om deel te hê aan die missie en doelstellings van die Rapport Onderwysfonds.

 

 Bankbesonderhede:

Rekeningnaam:
Die Rapport Onderwysfonds
Bank: ABSA
Takkode: 632 005
Tjekreknr: 405 864 6741

 

 Skenkings:

Phil-Marie Roberts
Philmarie.Roberts@rapport.co.za
Telefoon: 0214063699 / 0731228800

 

  Meer besonderhede vir aansoek by https://rof.org.za/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: