Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           November 2022

Ons politiek begin 'n taxibus mentaliteit openvaar


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Feitelik daagliks word motorbestuurders in Suid-Afrika gedwing om elke sintuig in te span om die gedrag van meeste minibus taxi’s die hoof te bied. Daar is ʼn eiegeregtige selfsugtigheid onder taxibestuurders wat elke moontlike reël in die boek verbreek met geen ontsag vir die passasiers wat tydelik aan hulle toevertrou is nie. In Johannesburg en waarskynlik in die meeste stede is die uitdaging om deurentyd voor jou, agter jou, links en regs te kyk want ʼn taxi het die vermoë om oor sypaadjies tussen voetgangers deur, teen die verkeer in en oor rooi verkeersligte - as daar ʼn werkende een is - te jaag na hulle volgende op- en aflaai bestemming. Ten spyte van sperstrepe, blinde hoogtes of swak sig jaag Taxis onverpoos en verbreek willens en wetens elke denkbare padreël. Beurtkrag bring die swakste in meeste bestuurders na vore want terwyl sommige geduldig ʼn beurt afwag om oor ʼn vierrigtingstop, wat gewoonlik deur verkeersligte gereguleer word te ry, het taxibestuurders een of ander selfverkrygde voorreg om nie ʼn beurt af te wag nie en jaag die taxis oor sypaadjies wat voetgangers en fietsryers laat spaander en word hulle nie verhinder  deur  munisipale struikelblokke soos verkeerstekens en afvoer en stormwaterpype pype nie. So forseer hulle hulle weg oop om so gou as moontlik terug te kom op die pad, en so gaan die bose siklus maar net aan. 

 

Daar is geen sprake van gehoor gee aan enige verkeersreël of dit toepas soos ander padgebruikers nie. Net so is daar ook geen sprake van die toepassing van reëls en regulasies deur verkeersowerhede nie. Verkeersowerhede bemoei hulle in meeste gevalle in elk geval net met wetsgehoorsame burgers, waaruit geld vir persoonlike gebruik gemaak kan word.. Taxibestuurders is ʼn gesag op hulle eie en is ander padverbruikers maar aan hulle eie genade oorgelaat. Dit alles kan beskryf word as die minibus taxi mentaliteit. Dit is egter dieselfde tipe mentaliteit wat ons daaglikse politieke omgewing teister. Net soos die eiebelang en selfsug van taxibestuurders, vereis politici =, veral van die regerende party, skynbaar ʼn totaal ander stel reëls vir hulself.  

 

Dit is ʼn mentaliteit wat te vinde is by die politici wat minagtend teenoor die kiesers en die parlement optree. Dit is ook hulle wat gevestigde konvensies, nasionaal sowel as internasionaal ignoreer. Dit is hulle wat die grondwet as ʼn lastigheid ervaar en hulle eie reëls opmaak soos wat dit hulle pas.

 

Wanneer partye interne verkiesings hou word demokratiese reëls nie nagekom nie, maar word stemme en stemblokke gekoop en is almal se stem te koop aan die hoogste bieër. Wanneer reëls en wetgewing hulle nie pas nie, word ander geskep, totdat ʼn hof later anders beslis. Wanneer koalisies ʼn bedreiging raak vir ʼn regering word poste met ruim salarisse beloof aan politieke hadidas wat hulle geskreeu lustig onder ander vaandels sal voortsit. Die reg en die toepassing van die reg hanteer politici, veral diegene met boelieneigings, met fluweelhandskoene.

 

Ministers vereis ʼn eiesoortige Taxi  benadering. Hulle verander onderwyswetgewing en leerplanne na hartelus en prop soveel moontlik kinders in klaskamers in, maar stuur self hulle eie kinders na privaatskole. Hulle verlam polisiëring en ontwapen wetgehoorsame burgers maar dring self aan op BBP beskerming. Ons openbare hospitale ervaar erge gebreke en kan nie meer gewone mediese prosedures behartig nie, maar ministers is self in privaat hospitale of verkry gereeld mediese sorg in Moskou. Die ministeriële wonings en landgoedere is vrygestel van beurtkrag, terwyl Suid-Afrika geduldig moet wees met fase4. Terwyl die ekonomie Suid-Afrikaners druk en knyp is hulle hande te gereeld in die tenderkoekieblik want salarisse alleen kan nie die duurste en beste koop nie. 

 

Motoriste het al geleer om met ʼn skerper waarneming, ʼn tweede en selfs derde instink te  ontwikkel om die taxi gevaar aan te spreek. Gelukkig het ons deur jare se blootstelling aan die minibus taxi’s op die pad geleer om so op te tree, ons moet dit net begin toepas op ons politieke omgewing. Ons kan al die politieke en ideologiese gevare van voor sien aankom, en moet dan maar terselfdertyd ook met die oog op die politieke truspieël en blinde kolle met meer vernuf en met groter bewustheid optree in ons omgewing. Ons politieke leiers moet nie die kiesers as vanselfsprekend ervaar nie. Anders as met taxis, kan ons wel die politici se taxi mentaliteit aanspreek en kan ons met hulle afreken by die stembus. 2024 is net om die draai.     

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: