Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          November 2023

Die tyd is nóú - Solidariteit op pad na die VN om rassewette te stop

 

Solidariteit gaan Verenigde Nasies (VN) toe om te eis dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum gee wanneer sy beleid van rastellende aksie, asook alle gepaardgaande rassewette, sal verstryk.


Hierdie verskerpte VN-veldtog het ten doel om ’n einde te maak aan die regering se beheptheid met rassewetgewing wat strydig is met die Internasionale Konvensie vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD).

 

Sowel die Suid-Afrikaanse regering as Solidariteit sal dus laat in November voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn.
“Al hierdie rasmalheid vind plaas onder die vaandel van mooi woorde soos regstelling, gelykheid, diversiteit en transformasie. Maar pleks daarvan is die uitkoms ongelykheid, plundering, selfverryking en die vernietiging van die staatsdiens,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.


“Vroeër die jaar wou die regering ook wetgewing deurdruk waarmee die privaat sektor aan rassekwotas gemeet sou word. Daardie mal rasplanne is tans deur die gemeenskap – en danksy ’n skikking – gestuit. 


“Tog is die groot stryd nog nie gewonne nie en veg ons voort. Ons veg selfs harder. Ons mik om rassewette in die geheel te smoor en ons boodskap word deur honderde duisende mense ondersteun. Die boodskap sê dat rassewette moet stop. En die tyd daarvoor is nóú,” sê Hermann. 

Volgens Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake, is die regering se beheptheid met statistiese rasseverteenwoordiging alombekend, en die beheptheid blyk duidelik uit hulle toepassing van regstellendeaksiebeleid.

 

“Ons regering se toepassing van rastellende aksie is nie net strydig met die VN se konvensie wat oor rassediskriminasie handel nie. Dit is ook in stryd met die wêreldwye siening oor regstellende aksie, wat die beginsel onderskryf dat regstellende aksie tydelik van aard moet wees en ʼn spesifieke eindpunt moet hê,” sê Van der Bijl.

 

Solidariteit gaan tydens die VN-besoek die feit dat regstellende aksie ingevolge internasionale riglyne en konvensies tydelik van aard moet wees, beklemtoon en gaan daarop aandring dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn einddatum daarvoor stel.

 

Hermann glo ook die suksesse van die vorige VN-besoeke voorspel goeie uitkomste vir die nuwe veldtog.


 “Solidariteit glo hy kan nou met die hulp van, en namens die gemeenskap, ʼn nóg groter deurbraak bewerkstellig. Sodoende kan ons begin om uiteindelik ʼn einde te maak aan rassewetgewing.”

 

Bostaande uit die Solidariteit verklaring oor die kwessie. Hierdie aksie moet ondersteun word. Die Afrikanerbond het reeds in Maart 2011 uitgewys dat die regering nie aan CERD se verslagdoening en veral die kommer wat deur CERD uitgespreek is voldoen nie en het ons by wyse van openbare verklaring ons kommer uitgespreek:  

Die Suid-Afrikaanse regering se versuim om verslag te doen aan die VN se CERD oor rassisme en diskriminasie in Suid-Afrika dwing mens dus tot die volgende gevolgtrekkings:

  • dat die SA regering klaaglik misluk het om rassisme en diskriminasie aan te spreek; 'n reaksie op die CERD verslag, sou swakhede in die stelsel uitwys veral ook met betrekking tot instellings soos die Menseregtekommissie;
  • die nie-nakoming van die aanbevelings en bekommernisse deur CERD sou die SA regering se onvermoë demonstreer ten opsigte van die afdwing van internasionale norme en standaarde met betrekking tot menseregte;
  • dat minderhede (swart, wit en bruin) nie kan staatmaak op die Suid-Afrikaanse regering om hulle taal, kultuur en tradisies, te beskerm en te bevorder nie;
  • dat die SA regering hom doodeenvoudig nie steur aan internasionale ooreenkomste of verdrae en die implikasies daarvan nie.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: