Stabiliteit en Identiteit - Wes-Kaap Provinsiale byeenkoms op 2 Oktober 2021
Op Saterdag 2 Oktober 2021 het die Wes-Kaap se eerste provinsiale byeenkoms tydens die Covid-19 inperking te Robertson plaasgevind. Jan-Jan Joubert, bekende kommentator het as gasspreker by die geleentheid opgetree en ʼn oorsig gegee oor die heersende omstandighede in Suid-Afrika, met die moontlikhede van stabiliteit teenoor onstabiliteit. Die geleentheid is ook toegespreek deur die Voorsitter van die Nasionale Raad, Dries Wiese.
Inleidend was Jan-Jan Joubert se opmerkings dat dit vir hom ʼn groot voorreg is om by die AB te kan optree. Hy gee erkenning aan die Afrikaner-Broederbond wat instrumenteel was in rigtinggewende noodsaaklike veranderinge in Suid-Afrika. Hy bevestig ook dat hy werk aan die biografie van dr. Franklin Sonn en dat die mening ook deur dr Sonn uitgespreek is. Suid-Afrika sou ʼn revolusie beleef het as veranderinge nie plaasgevind het nie.
Hy assosieer graag as Afrikaner met ʼn inklusiewe perspektief. Ons moet in ons geskiedenis kyk na stabiliteit en onstabiliteit en watter lesse ons daaruit kan leer. Uit sy ervaring het die Afrikaner verskillende denke en is die suidelike Afrikaners meer gemoedelik en reik uit na ander oor grense en is ook meer konstruktief in optrede teenoor Afrikaner in die Noorde wat meer hoekig is. Die mate van stabiliteit is nie altyd oral te vinde nie.. Wat onderwys aanbetref weet ons nie altyd watter geweldige revolusie onder Afrikaners plaasgevind het nie. Meer as honderd jaar gelede was dit armblankes met bitterlik laag geskoolde mense in hulle geledere. Vandag is dit anders en blom Afrikaners ekonomies, maar is meer individualisties. Ons kan nie die bevolking se demografie op Afrikaners van toepassing maak nie. Afrikaners verskil wesenlik. In die eerste kleiner groep is die super welvarende Afrikaners wat meer in die Suide gevestig is. Die tweede laag van Afrikaners is ook welvarend – in getalle ver bo die middelklas, wat eintlik maar die staatdienswerker is.
Staatskaping het by Thabo Mbeki begin. Sy “I am an African” het verdeling begin in Suid-Afrika en het mense begin uitsluit en stabiliteit begin bedreig. Afrikaners en Suid-Afrikaners se oppervlakte moet elkeen vergroot word want dit werk op wetenskaplike beginsels. Druk op slegs een punt lei tot spanning en dit lei tot onstabiliteit. Afrikaners se kragte is nie in laertrek nie. Ons kragte het nog altyd gelê in die uitbreiding van eie kragte en op sy beste wanneer hy uitrek, mense betrek en hande uitsteek. Dit was net so in die Afrikaner-Broederbond. Afrikaners is al vele kere in sy bestaan bedreig maar die antwoord was nie in laertrek en konflik nie.
Ons grootste uitdaging in die land is ekonomies van aard. Alhoewel ons betalingsbalans positief lyk is dit nie ʼn ware refleksie van sake nie. Die basis van die ekonomie lyk goed nie. Mense het nog steeds in moeilike tye belê in die landbou midde in onsekere tye. Ons sien vandag die vrugte daarvan. Maar beleggings vloei nou na die buiteland. Daar kom nie nuwe gelde in die ekonomie nie. Dit is ʼn bedreiging vir stabiliteit.
Wat moet ons dan doen?
Op ʼn vraag oor identiteitspolitiek antwoord Jan-Jan Joubert dat elkeen vir homself moet dink. Nadat kommunisme geval het, het almal begin om dieselfde dink. Identiteit word deur jouself gevorm en identiteitspolitiek word deur ander gevorm vir politieke doeleindes. Identiteitspolitiek volg op eenheidspolitiek en nie een is waar of geldig nie. Mense het noodwendig verskille en ooreenkomste en mense verkies om meer op die verskille te fokus. Die reaksie wissel - aan die regterkant is dit meer demografies en getalle wat die mening vorm en na die linkerkant is dit meer ekonomie wat die mening vorm. Die meerderheid bly in die middel om die vrede te bewaar.
Identiteit word deur die individue gevorm terwyl Identiteitspolitiek deur andere gedefinieer word met sterk riglyne. Ons moet waak daarteen want die uiteinde is nie positief nie. Verkiesings in die verlede in die buiteland het gedui op identiteitspolitiek maar daar is weer ʼn neiging weg daarvan. Hou jou eie identiteit en leef dit uit.
Identiteit is veranderlik en word verskillend gevorm. Dit moet ons koester en bewaar en ook respekteer. Ons almal deel bepaalde identiteite maar ons verskil ook van mekaar deur identiteite. Identiteit is nie etnies nie. Hoe ons dit uitleef maak moontlik die verskil. Identiteitspolitiek maak identiteit transaksioneel want ons plaas ʼn prys op ʼn gedeelte van identiteit.
Identiteite verskil, moet vloeibaar wees, oopkop wees, verstaan word en nie afgedwing word nie. Hê jou identiteite en wees trots daarop en wees dit ten beste wat jy kan wees. Ons moet dink hieroor en dit is die Afrikaner-Broederbond se rol in die verlede.
Adres