Die algemene demografie van Afrikaans
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ’n verslag, “Die algemene demografie van Afrikaans (2022)”, op 4 November by Joostenberg naby Stellenbosch bekendgestel.
Conrad Steenkamp, hoof van die ATR, sê dit is die eerste keer dat so ’n deeglike studie van die Afrikaanse bevolking in sy geheel gedoen is. “Dit is belangrik, want Afrikaanssprekendes gaan oor alle grense heen moet saamwerk om die gevolge van demografiese verandering oor die volgende dekades te hanteer.”
Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en medeskrywer van die verslag, sê by wyse van ’n aanhaling dat demografie die toekoms is wat reeds gebeur het. “’n In-diepte demografiese studie soos dié maak dit dus moontlik om vooruit te kyk en vooruit te beplan, selfs tot op die vlak van individuele buurte.”
Volgens Steenkamp gebruik die verslag UNESCO se raamwerk, Language vitality and endangerment (2003), om die kwesbare aspekte van Afrikaans te identifiseer en om sodoende die impak van demografiese verandering beter te verstaan.
Afrikaanssprekendes krimp as ’n persentasie van die land se algehele bevolking wat hulle bedingingsmag teenoor die staat verminder. Terselfdertyd verskuif die groeiende meerderheid van bruin/swart teenoor wit Afrikaanssprekendes toenemend die magsbalans binne die taalgemeenskap en skep daarmee nuwe uitdagings wat die sprekers sal moet hanteer.
Die toenemende gebruik van Engels as de facto-amptelike taal en nóg minder Afrikaans in belangrike taaldomeine soos die openbare onderwys het enorme implikasies vir die behoud en groei van die taal. “Hierdie neigings sal die verengelsing van Afrikaanssprekendes (reeds meer as 20 000 per jaar) aanjaag en Afrikaans se groeipotensiaal verder knou,” sê Mulder. “Verengelsing dryf ook die buitengewone sterk groei van Engels as huistaal.”
Volgens die verslag steek Engels – gevoed deur al die inheemse tale – reeds in 2022 vir Afrikaans, die derde grootste taal in die land, verby.
“Ons nooi alle belanghebbers in Afrikaans uit om die analise van die demografiese data saam met ons verder te ontwikkel en verfyn,’ sê Steenkamp. ‘Ons moet egter weet Afrikaanssprekendes gaan buite hulle gemaksone moet beweeg om die lewenskragtigheid van Afrikaans te behou en uit te bou,’ sê Steenkamp. “Die wat nie deeglik beplan nie of wat nie met ander wil saamwerk nie sal met die wa in die drif bly staan.”
Belangrike demografiese neigings (2021–2041):
Strategiese aanknopingspunte:
Lees die verslag ‘Die Algemene demografie van Afrikaans 2022’ aanlyn of laai dit by die skakel af.
https://online.fliphtml5.com/hwiua/qoxd/ (Volg die skakel of lees aanlyn onder)
Lees die verslag onder:
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres