Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Februarie 2021

Gesprek met Moeletsi Mbeki - AB Webinaar


Die Afrikanerbond het op Woensdag 20 Januarie ʼn webinaar “Afrikaners in dialoog met Moeletsi Mbeki, politieke analis aangebied, met die tema "Op watter kreatiewe maniere kan alle Suid-Afrikaners voortgaan om die land vorentoe te neem" 

 

Tydens die webinaar is ʼn verskeidenheid van onderwerpe hanteer en is mnr Mbeki uitgesproke in kritiek op die ANC oor korrupsie, die behoefte aan ekonomiese groei, vaardigheidsontwikkeling en entrepreneurskap, onteiening sonder vergoeding en rasgebaseerdere wetgewing en beleid.

 

Die gesprek is ingelei met mnr Mbeki se siening dat Suid-Afrika tot dusver deur twee groot nasionalismes beheer is. Nie een was suksesvol in regering vir Suid-Afrika nie. Hy verwys in die verband na Afrikaner nasionalisme aan die een kant en Afrika Nasionalisme aan die ander.  Beide die nasionalismes is deur die Britte uitgesluit van die voordele van kolonialisme. Hy is dus van mening dat beide die Nasionaliste nie hulself daarvoor beywer het om die sosio-ekonomiese struktuur van die koloniale stelsel te verander nie, maar eerder hulself te beywer om daarin opgeneem te word.

 

 Die verskil tussen die twee nasionalismes was nie dat die een wit en die ander swart was nie. Die Afrikaner-nasionalistiese elite was 'n koalisie van grondeienaars wat mielies, koring, vrugte, wyn, suiker en beesvleis geproduseer het. Hierdie elite het die mynbedryf en die uitvoer van minerale hulpbronne gebruik om die staat te finansier wat dit gebruik het om die ontwikkeling en winsgewendheid van hul private eiendom te bevorder.

 

Die Afrika-nasionalistiese elite daarenteen was 'n koalisie van swart middelklas-professionele mense  en handelaars, georganiseerde arbeid, die burgerlike samelewing en geloofsgebaseerde organisasies en intelligentsia. Aangesien hierdie elite nie grond of enige ander produksiemiddele besit nie, was dit die prioriteit om vanuit die staat se inkomste te leef, deur belastings op die ekonomie en die rykes.

 

Die  Afrikanernasionalistiese elite het veral na 1948 posgevat en as grondeienaars was die Afrikaner-nasionalistiese elite se prioriteite om die ontwikkeling en winsgewendheid van hulle grond en die infrastruktuur te bevorder, en is die beheer oor die regering gebruik:

  • In die proses is die swart bevolking van die politieke mag uitgesluit;
  • Goedkoop arbeid is geskep en is onderhou deur onderdrukking;
  • Infrastruktuur vir vervoer en kommunikasie is ontwikkel
  • Onderwys- en gesondheidsfasiliteite is ontwikkel, maar merendeels met die fokus op die opleiding van eienaars;
  • Staatsinkomste is gebruik om staatsentiteite te skep waarin buitelandse en binnelandse kapitaal nie belang gestel het nie - kunsmis, yster en staal, wapentuig, kragopwekking, openbare uitsaaiwese, nasionale lugdiens, ens.
  • Gevorderde beperkte industrialisering het plaasgevind in ʼn beskermde omgewing maar later veral ook in die bestryding van sanksies

 

Daarna het die fase van die Afrika-nasionalistiese elite gevolg – Die tydperk na 1994

Die Afrika-nasionalistiese elite het sy beheer oor die staat gebruik om die volgende te doen:

  • Die demokratisering van Suid-Afrika word bevorder
  • Rassediskriminasie teen die swart bevolking word uitgeskakel
  • Die staatsdiens word getransformeer en belastinginvordering word versterk
  • Die goedkoop migrante-mineraal-uitvoergedrewe ekonomiese stelsel word behou.
  • Die ekonomie word oopgestel vir internasionale handel en beleggings.
  • 'n Welsynstaat vir die armes word geskep deur hulpbronne vanuit produksiesektore na die regering oor te dra.

Vir die Afrika nasionalistiese elite was die prioriteit om vanuit die staat as inkomstebron te leef.  Die Afrika-nasionalistiese elite het nie 'n belang daarin gehad om industrialisering van die ekonomie te bevorder nie. Dit verklaar dus waarom die beperkte industrialisering wat wel onder die Afrikaner-nasionalistiese elite bereik is, onder die Afrika-nasionalistiese elite bedreig word.

 

Daarom was mnr Mbkei se oplossing daarin gesetel dat daar ʼn nuwe verbintenis / of sosiale kontrak moet wees wat die twee nasionalismes se mislukkings moet vervang. Die nuwe ooreenkoms moet dan die land op groot skaal industrialiseer en moderniseer. Hy stel dan die volgende voor: 

  1. Verkiesing hervormings om gemengde kiesafdeling en proporsionele verteenwoordiging op nasionale en provinsiale vlakke in te stel.
  2. Die onderwys-, gesondheidsorg-, vervoer- en elektriese voorsieningstelsels moet opgeknap en herontwerp word.
  3. Die openbare sektor - insluitend die tradisionele leiersektor - moet hersaamgestel word om die mense te dien.
  4. Die ekonomiese verhoudings met sy SADC- en COMESA-Common Market for Eastern and Southern Africa moet heronderhandel word en herstruktureer word.
  5. Handels- en beleggingsverhoudinge met nie-Afrika-vennote moet ook heronderhandel word.
  6. Die ekonomie moet herstruktureer word om meer beleggingsgedrewe te wees eerder as verbruik en kredietgedrewe. Die eise van Swart Ekonomiese Bemagtiging aan buitelandse beleggers moet uitgefaseer word.
  7. ʼn Besigheidsontwikkelingsplan moet daargestel word wat werk skep en die ekonomie laat groei; faseer die uitvoer van minerale stowwe uit; en belegging in voormalige tuislande te bevorder.
  8. Vestig weer ʼn stelsels van nasionale diensplig..

 

Om die bogenoemde punte te staaf het hy verwys na lande wat min na geen minerale hulpbronne het nie en gevolglik hulle fokus geplaas het op vaardigheidsontwikkeling. Suid-Korea dien as model in die verband het mnr Mbeki gesê.  Daarom moet ons onderwysstelsel hersien en opgeknap word. Suid-Korea het sy onderwysstelsel op Duitsland baseer. Die fokus is op vaardighede en vakleerlinge kry in die stelsel groot blootstelling. Vandag kan ons net rondom ons kyk na die Suid-Koreaanse produkte. In ʼn land wat nie minerale hulpbronne het nie, het hulle vaardighede ontwikkel en gebruik ons vandag selfone, rekenaars en ry in motors uit die land. 

 

Tans is die staatsdiens die grootste werkgewer en dit is nie volhoubaar nie. Deur industrialisering kan die ekonomie omskep word, kan vaardighede ontwikkel word en kan mense weer waardigheid verkry. Veel anders as die welsynstaat wat ons tans is.

 

Vanuit die besprekinge en die vrae: 

 

Mnr Mbeki het dit duidelik gestel dat ons ekonomie reeds onder druk is maar dat dit verder gekniehalter word met Eskom en kragtekorte / beurtkrag sowel as Covid-19 en inperking. Eskom was volgens mnr Mbeki van die beste kragvoorsingstelsels in die wêreld voor 1994  Vandag het Eskom net nog ʼn trog geword om kaders te voer met  hoë salarisse vir ʼn te groot  personeelkorps met geen nuwe investering nie.

 

Covid-19 het ons swak punte nog verder uitgelig. Die inperking is noodsaaklik maar regulasies moet sin maak. Die gasvryheidsbedryf is ingeperk en drankverkope is gestop. Dit is nie die oplossing nie en ondermyn die ekonomie.

 

Wat onteiening aanbetref het mnr Mbeki geantwoord op die vraag of dit werklik oor grond gaan en of die ANC dit nie gebruik om stemme te werf nie? Mnr Mbeki het gewaarsku dat as die ANC voortgaan met onteiening en veral onteiening sonder vergoeding gaan buitelandse en binnelandse beleggings verdwyn. Dit bring nie beleidsekerheid nie en op verskeie ander terreine word beleggingskapitaal ook weggeskrik.

 

Mnr Mbeki het gemaan dat ons na Afrika moet kyk en leer oor beleide wat werk en dit wat nie in Afrika werk nie. Artikel 25 in die grondwet is onderhandel. Alhoewel almal nie saamgestem het nie is dit opgeneem in die grondwet.  Zimbabwe het ook ʼn grondwet gewysig om interne probleme aan te spreek. Ons gaan dieselfde pad loop as ons nie ophou peuter met die grondwet nie. Mnr Mbeki het opnuut daarna verwys dat grondonteiening as uitkoms van die ANC se verkiesings by NASREC na vore gebring is. Dit gaan oor ʼn magstryd in die ANC. Die ANC wil nou sy eie probleme oplos deur die grondwet te verander. Die ANC hou aan met kader ontplooiings en put belasting inkomste uit. Groot skuld word aangegaan om oneffektiewe beleidsraamwerke soos swart ekonomiese bemagtiging te befonds

 

Op ʼn vraag oor die verlede wat telkens voorgehou word as ʼn verskoning het mnr Mbeki gesê afgesien van die regering is ʼn groot sondebok in die huidige politieke stelsel - die opposisie – Alternatiewe oplossings wat die opposisie daar moet stel is tans  nie daarop gerig om mag te wen nie. Sinvolle oplossings sal stemme en steun werf. Tans is die opposisie teen die ANC nie effektief nie.

 

Die verlede spook nie by die mense van Suid-Afrika nie het mnr Mbeki gesê. Daar is nie konflik tussen Suid-Afrikaners nie. Dit is die politici wat die verlede misbruik. Politici soos die EFF wat Brackenfell en Senekal situasies skep wat inmeng in die goeie verhoudinge.

 

Oor korrupsie het mnr Mbeki hom ondubbelsinnig uitgespreek. Staatsdiensamptenare moet gestraf word. Dit is waar die grootste probleem is as ons luister na getuienis voor die Zondo kommissie. Senior amptenare is verantwoordelik daarvoor dat belastinggelde wanaanwend word. Gevolglik kom die gelde nie by dienste soos onderwys, gesondheid uit nie. Maar het mnr Mbeki gewaarsku. “die regerende party moet die verantwoordelikheid neem. Hulle moet die leiding neem en hulle eie lede in toom hou want dit is hulle wat senior amptenare ontplooi. In die finale instansie moet die president van die land verantwoording doen aan die land oor korrupsie en dit is wat vereis word.

 

Ter afsluiting het mnr Mbeki gevra of ons demokrasie al volwasse is? Baie water moet nog in die see loop. Om ʼn Volwaardige demokrasie te bou kan nie net van een party afhang nie. Ons stelsel moet verander. Die Nasionale Party was te lank in beheer en kon dit nie doen nie. Die ANC was te lank in beheer en kan dit ook nie doen nie. Nuwe partye moet gevestig word wat opgewasse is vir die taak. Dit gaan verbeelding verg.

 

Die Youtube skakel na die webinaar is soos volg en is ook beskikbaar by ons webwerf onder nuus/webinare:

https://www.afrikanerbond.co.za/moeletsi-mbeki---20-januarie-2021 


Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: