Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2022

 Die huidige polities-staatkundige orde is nie volhoubaar nie,

Deur Prof André Duvenhage

 

Uittreksels uit ʼn besprekingsdokument oor koalisiepolitiek wat tydens die Afrikanerbond se September 2022 Bondsraad bekendgestel word:

 

Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing verander teen ʼn snelle tempo met verreikende implikasies vir die politieke spektrum (veelpartystelsel) en die onderskeie steunbasisse van politieke partye. As uitkoms van die “politieke kantelpunt” wat Suid-Afrika na veral 2019 bereik het, was ʼn herskikking van die politieke spektrum (die stelsel van politieke partye en hul plasing op grond van die status quo) aan die orde, met aanduidings dat meer verandering kan volg. Hierdie aspek word beklemtoon deur veranderende stempatrone (veral verhoogde politieke apatie); soms laer steunvlakke vir gevestigde politieke partye; hoër steun vir sommige kleiner (lees nis-) partye; en nuwe politieke rolspelers wat toetree. Kortliks, Suid-Afrika verander op talle terreine en politieke partye moet aanpas (soms ter wille van oorlewing) in ʼn politieke omgewing wat groot uitdagings stel.

 

Dit is veral die inploffing van die ANC as die oorheersende, selfs hegemoniese politieke party oor die afgelope bykans drie dekades, wat bydraend is tot die hersamestelling van die politieke spektrum. Op sy hoogtepunt, tydens 1999, het die ANC op nasionale vlak net minder as 70% steun gehad – dit wil sê meer as ʼn twee-derde meerderheid. Hierdie situasie het egter sedertdien drasties verander. Tydens die 2021-plaaslike verkiesings kon die ANC (op nasionale vlak) slegs sowat 46% steun mobiliseer, met sowat 66 tot 70 “hangrade” as uitkoms). (Hangrade beteken geen party kon ʼn volstrekte meerderheid behaal nie, wat tot vorme van samewerking en/of koalisiesluiting as ʼn noodwendige uitkoms lei.) Vier van die agt metropole is tans reeds onder opposisie- (lees koalisie-) beheer; in twee ander, naamlik eThekwini en die Nelson Mandelabaai metropool, is die ANC-geleide koalisies besig om te verkrummel, en in Mangaung regeer die ANC met ʼn meerderheid van net een setel. ʼn Steeds verslegtende scenario vir die ANC-familie (as die oorheersende hegemonie van veral die eerste twee dekades na 1994) skep geleidelik toenemende ruimte vir samewerkende regering tussen partye met verskeie raamwerke van samewerking (alliansies, koalisies en ooreenkomste) aan die orde van die dag.

 

Die oorhoofse vertrekpunt is dat die Suid-Afrikaanse politiek rondom 2019 ʼn kantelpunt bereik het, dat die huidige staatkundige bestel, met inbegrip van die konstitusionele demokrasie, in krisis verkeer – beide funksioneel en uit ʼn legitimiteitsoogpunt; dat politieke geweld en die eskalering daarvan ʼn sterk moontlikheid is; dat die dieptepunt van die kantelpunt nog nie gedurende 2022 bereik is nie; en dat die ANC sy posisie as oorheersende politieke mag in die Suid-Afrikaanse politiek tydens die volgende nasionale verkiesing kan verloor Die volgende sake verdien verdere vermelding:

  • Die politieke kantelpunt het as uitkoms die herskikking van die politieke spektrum met nuwe magbalanse as uitkoms (dit is duidelik waargeneem tydens die 2021-plaaslike verkiesings);
  • Die post-kantelpunt politieke proses kan moontlik selfs op ʼn gewelddadige wyse (dit wil sê nie-konstitusioneel) aan ʼn ander bedeling geboorte skenk, met gepaardgaande groot onsekerheid, onstabiliteit en toenemende geweld. Hiervan getuig die geweld van Julie 2021 in KZN en Gauteng. Verdere vooruitsigte op geweld word ook vir die toekoms deur sommige analiste en politici voorspel. Dit hang veral saam met die implementering van die bevindinge van die Zondo-kommissie en die moontlike gevolge daarvan vir sekere politieke en ander elite-groepe. ’n Toename in ernstige gewelddadige misdaad en die ineenstorting van die strafregstelsel in Suid-Afrika moet in hierdie verband verdiskonteer word.
  • Die huidige polities-staatkundige orde is in sy huidige formaat nie volhoubaar nie, met groeiende sosiale en maatskaplike uitdagings wat kontinuïteit en politieke stabiliteit bedreig (die Arabiese Lente-perspektief; die Tunisië Dag; of “Die nag van die lang messe” is scenario’s wat vir die Suid-Afrikaanse politiek gevisualiseer word. Helen Zille het immers ook reeds verwys na Suid-Afrika se “Kristalnag” na aanleiding van wat in Nazi-Duitsland in 1937 gebeur het);
  • Die staatkundige bestel verswak toenemend, met ʼn volledige “gevalle staat” as slegte-saak-scenario wat toenemend manifesteer, soos blyk uit die situasie ten opsigte van plaaslike regering, ESKOM, die Landbank, die SANW en die SAPD, om net enkele instellings/omgewings as voorbeelde te beklemtoon;
  • Hierdie politieke herskikking wat op die tafel is, is die grootste sedert 1994 en hou verreikende implikasies in vir die demokratiese en konstitusionele orde, asook ondersteunende instellings. Laasgenoemde verwys na Artikel 9-instellings, asook instellings vanuit die burgerlike samelewing.
  • Die hart van hierdie politieke herskikking is gevestig in die Breë Kerk van die ANC, wat besig is om (soms op gewelddadige en misdadige wyse) uitmekaar te skeur en in duie te stort. Dit neem die vorm aan van beide inploffings (wanfuksionaliteit) en ontploffings (toenemende geweld), wat ʼn groot bedreiging inhou vir politieke en staatkundige stabiliteit in Suid-Afrika.
  • Die gebrek aan sterk leierskap van binne die regering asook binne opposisie-geledere is prominent in die huidige tydsgewrig;
  • Die leierskapsrol van Cyril Ramaphosa (of die gebrek daaraan), die interne botsings binne die ANC, en die uitspeel daarvan in die lig van die komende verkiesingskonferensie van die ANC, gaan nie net die toekoms van die ANC bepaal nie, maar ook dié van die groter staatkundige bestel.

 

In Suid-Afrika het veral kaderontplooiing stelsels gelaai met lojale kaders wat die regerende ANC ondersteun en deel vorm van nepotisme en korrupte praktyke, soos geïnstitusionaliseer in vorme van staatskaping en/of endemiese korrupsie. Gaan sodanige rolspelers van hul mag afstand doen indien hulle party (lees hier die ANC) die verkiesing verloor, en gaan koalisiepolitiek en nuwe spelreëls tot stand kom? In Zimbabwe het die kaders (lees ZANU-PF) met die hulp van veral die weermag en polisie politieke mag behou, al het hulle die verkiesing minstens twee keer verloor. (Die Kampepe-kommissie van ondersoek het hierdie realiteit uitgewys.) Is dit ook ʼn scenario vir Suid-Afrika na afloop van die volgende nasionale en provinsiale verkiesing?

 

Dit is my oortuiging dat, soos wat dit in die laat tagtigerjare die geval was, Suid-Afrika weer eens radikaal sal moet hervorm om ʼn bedeling om te keer wat aan ʼn verswakkende staat, toenemende konflik, ekonomiese uitdagings en institusionele rassisme beslag gegee het. Koalisiepolitiek (en selfs ʼn regering van nasionale eenheid) sou hier ʼn rol kon speel. Die alternatief is konflik, geweld en onstabiliteit – ʼn slegte-saak-scenario – wat allermins bekostig kan word.  

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: