Die Voortrekkers - 90 Jaar
Deur Danie Langner
Die Voortrekkers het op 30 September verjaar. Negentig jaar gelede is die beweging in Bloemfontein gestig met ’n handjievol mense teenwoordig. Vandag is Die Voortrekkers die grootste Afrikaanse jeugbeweging, het ’n dinamiese voetspoor van Otjiwarongo tot Kaapstad en van Richardsbaai tot Upington.
Oor nege dekades is Die Voortrekkers se spore diep getrap in ons taal, kultuur en erfenis. Ons dien die Here en is diensbaar in ons omgewing. Ons eer ons voorgangers se dienswerk en bou vorentoe op hulle skouers. Ons vier feeste en bewaar ons monumente. Ons maak ’n positiewe verskil. Kampvure is steeds ons gunsteling kuierplek. Ons beleef steeds KAN-avonture in die natuur. Die fakkel op ons Voortrekkerwapen brand helder. Die afgelope twee jaar was moeilik met baie hartseer. Ons byt vas en Hou Koers. Ons is lief vir ons kinders en ons land. Die Voortrekkers kyk vorentoe, gereed om nuwe spore te trap.
Die tema van 2022 is BLYE VOORUITSIG. Blye Vooruitsig is op die rand van die Drakensberg by Retiefspas. Dit is hier waar die Voortrekkers in 1837 die eerste keer Natal gesien het. Na moeilike jare op die Oosgrens, ’n harde trek deur die Vrystaatse vlaktes en die ontnugtering na die wrede Vegkop-aanval het ’n nuwe toekoms met onbeperkte horisonne voor hulle oopgelê.
Die afgelope twee jaar was ons gekonfronteer met radikale ingrypings in ons manier van lewe, verlies, dood en toekomsonsekerheid. Soos die Voortrekkers van ouds kyk ons nie terug nie, maar vorentoe. Die toekoms was in Natal nie net mooi nie. Die jaar 1838 is in die geskiedenis opgeteken as die bloedjaar na Retief se moord, Bloukrans, Italeni, Modderlaer, Veglaer, Bloedrivier. Die Voortrekkers het egter by Blye Vooruitsig eienaarskap van hulle toekoms geneem. Hulle het vorentoe gekyk, maar ook Boontoe. Daardie someroggend op 14 November 1837 het hulle spontaan “Prys die Here met blye galme” gesing. Te midde van lyding, verlies, vrees en onsekerheid het die lied om menige kampvuurtjies met oggend en aandgodsdiens weerklink.
Vorentoe en Boontoe. Dit is hoe ons Voortrekkers vir die volgende 90 jaar met ’n blye vooruitsig die toekoms tegemoet trek.
Namens die Afrikanerbond, is dit vir ons aangenaam om ons beste wense met die 90e verjaarsdag van Die Voortrekkers oor te dra. Vanaf die stigting in 1931 van Die Voortrekkers, was die Afrikanerbond ten nouste by die dinamiese beweging betrokke, of dit nou moreel, finansiële of ander ondersteuning was. Duisende jongmense het oor meer as 90 jaar baat gevind in die werksaamhede en uiters gebalanseerde lewensuitkyk van die Voortrekkers. Oor ons verbintenis met die Voortrekkers, oor dekades heen, is die Afrikanerbond opreg trots.
Adres