Gebiedsbyeenkoms van die Afrikanerbond in die Voortrekkermonument
Dr Danie Langner wys op die besondere simboliek in die friese by die Voortrekkermonument
Daar is tydens die geleentheid ook ʼn 50 jaar lidmaatskap sertifikaat aan ds Pieter Strümpfer (links) van Pretoria oorhandig. Karel Tredoux(regs) doen die oorhandiging
"Ons vir jou Suid-Afrika" op die senotaaf
Statig staan die Voortrekkermonument
Ds Cassie Aucamp, Voorsitter van die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting spreek die byeekoms toe
Inleidende gedagtes tydens die AB Gebiedsbyeenkoms by die Voortrekkermonument deur Jan Bosman, Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Die Gebiedsvoorsitter van die Afrikanerbond, Karel Tredoux aan die woord.
Verslag oor die AB Gebiedsbyeenkoms by die senotaafsaal in die Voortrekkermonument op 21 Maart 2022.
Tydens ʼn aanbyeenkoms van die Afrikanerbond se Gebied Gauteng-Noord op Mensregtedag op 21 Maart 2022 is die lede van die Afrikanerbond toegespreek deur Ds Cassie Aucamp, Voorsitter van die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting en is die AB se verbintenis oor soveel jare deur hom erken. Die rol en funksie van die monument is uitgelig en is ʼn oorsig oor die laaste paar jaar se omkeerstrategie ook voorgehou. ʼn Groeteboodskap van Dries Wiese as voorsitter van die Nasionale Raad is voorgehou deur Karel Tredoux, gebiedsvoorsitter en het die hoofsekretaris, Jan Bosman ook ʼn perspektief gebied en ʼn mosie voorgehou wat die Nasionale Raad op 24 Februarie 2022 aanvaar het. Die gaste is daarna op ʼn besonder inspirerende wyse in ʼn begeleide toer deur dr Danie Langner geneem deur die friese. Die simboliek in die friese is uitgewys op ʼn wyse wat elke besoeker aan die Voortrekkermonument behoort te ervaar. Die belang van die geskiedenis is op ʼn treffende wyse deur dr Langner voorgehou met die pleidooi dat elke lid die monument moet besoek saam kinders en kleinkinders om hulle op die wyse bewus te maak van die verlede.
Daar is tydens die geleentheid ook ʼn 50 jaar lidmaatskap sertifikaat aan ds Pieter Strümpfer van Pretoria oorhandig.
Groeteboodskap deur Dries Wiese (Soos voorgehou deur Karel Tredoux)
Wat ‘n voorreg om namens die Nasionale Raad ‘n kort groeteboodskap te bring. Verkeerdelik word na Suid-Afrika verwys met Tafelberg as ‘n Wêreld Wonder.. maar die ware Wonder staan in Pretoria .. die Voortrekkermonument!
Ons harte juig vandag dat met nuwe leierskap onder leiding van ds Cassie Aucamp en dr Danie Langner, ingrepe deur Solidariteit en ook die AB se heelwat kleiner finansiële bydrae, die VTM nou vir ewig bewaar is. Namens die AB en sy lede baie dankie.
Lank lewe die Bakermat van die Afrikaner!
Die AB is ‘n ledeorganisasie wat beteken dat sy lede die hoogste gesag beklee, maar dit beteken ook dat sy lede ‘n groot verantwoordelikheid het om die Afrikanersaak te steun deur onder andere geleenthede soos vandag by te woon.
Die Nasionale Raad het ingrypende besluite op 24 en 25 Februarie geneem en die Nasionale Raad sal u mettertyd en by ʼn gepaste geleentheid hieroor inlig. Ek persoonlik glo dat ons nuwe fokus ‘n nuwe dimensie en energie onder lede gaan meebring. Die belangrikste hiervan is seker die skep van groter nuwe verbintenis in ons strukture deur kundiges, ‘n Ekonomiese Ontwikkelingsforum asook die beplanning vir ‘n Skeefloop scenario vir Suid-Afrika en die Afrikaner waarmee ons tans saam met kundiges besorg is.
Indien daar in die afsienbare toekoms weer ‘n geleentheid of behoefte is sal ek graag wil kom kuier en meer oor die AB strategie kom praat. Dit is immers September Bondsraad en sal die Nasionale Raad graag vooraf wisselwerking met sy Noord-Gautengse lede wil kry.
Vergun my ook net baie kortliks my persoonlike siening en gedagtes wat ons dan ook vandag op Menseregtedag net oor moet dink en in die toekoms oor moet besin, naamlik;
Suid-Afrika kan en gaan ‘n beter plek wees om in te lewe, maar dan moet elkeen van ons die SA verteenwoordig wat ons wil hê dit moet wees.
Namens die AB Nasionale Raad dan dankie dat u die goeie stryd stry en ons wens u ‘n uiters suksesvolle byeenkoms en toer toe.
Inleidende gedagtes by die Voortrekkermonument op 21 Maart 2022 deur Jan Bosman, Hoofsekretaris van die Afrikanerbond
Dit is histories om hier te ontmoet as ʼn formele AB Gauteng-Noord byeenkoms. Ons Nasionale Bondsraad was op 29 Mei 2015 by die Amfiteater op die terrein van die Voortrekkermonument en ons beplan weer ʼn Bondsraad op 15 en/of 16 September 2022 by die terrein van die Voortrekkermonument.
As ek besoekers bring is die treffendste behalwe vir die grootsheid van die monument die senotaaf met die Inskripsie “Ons vir jou Suid-Afrika”
Ons vir jou Suid-Afrika word ook vervat in die werkswyse van die Afrikanerbond in die voortdurende balans tussen die eie en die nasionale belang. “Ons” is die eie belang – en dit moet in die konteks van die monument gelees word as “ons as Afrikaners.” En dan “vir jou Suid-Afrika” som ons hele benadering op soos ons dit ken toepas en uitlewe in die Afrikanerbond – ons nasionale verbintenis tot die land.
Soms is die fokus harder en dwingender op ons as Afrikaners. Die laaste 10 jaar plus is Afrikaners weer duidelik en uitgesproke in hulle identiteit. Ons weet wie en wat ons is. Ons is trots op wat ons is.
Die Suid-Afrika wat ons nasionale belang is, is egter in die moeilikheid – Maar is dit nie heeltyd in die moeilikheid nie? Dit is nie die nuwe Suid-Afrika wat ons in 1994 gedink en geïdealiseer het nie.
Hoe meer Suid-Afrika in die moeilikheid kom hoe groter word die druk op ons:
- Ons taal in universiteite en skole
- Ons naamgewing
- Ons kultuurerfenisse
- Die sigbare ONS is soos ons vanaand as Afrikaners hier bymekaar is
- Die ONS wat in ons skole kerke en samelewings ʼn verskil maak
- Die ONS wat verspreid oor Suid-Afrika woon en werk
- Die ONS wat nie gaan toelaat dat ons plek in die land verdag gemaak word nie
Die ONS wat ook nie sal toelaat dat ons land Suid-Afrika in die afgrond in bestuur sal word nie.
Dit is weer nodig dat ons uitroep - Ons vir jou Suid-Afrika.
Ons vir jou Suid-Afrika kom uit “Die Stem van Suid- Afrika” met sy vier strofes. Die woord ONS kom 38 keer voor in ons verbintenis en liefde tot God, die land die natuur en Suid-Afrika se mense.
Net soos die vergadering vanaand met die Erekode van die Afrikanerbond geopen is bevestig ek die inhoud van die Erekode aan die hand van die strewe soos vervat word in die laaste twee reëls van elke strofe van Die Stem van Suid-Afrika:
Eerste Strofe se laaste twee reëls
- Ons sal lewe, ons sal sterwe –Ons vir jou, Suid-Afrika.
Tweede Strofe se laaste twee reëls
- Waar en trou as Afrikaners – Kinders van Suid-Afrika.
Derde Strofe se laaste twee reëls
- Om te lewe, om te sterwe – Ja, ons kom, Suid-Afrika.
Vierde en laaste strofe se laaste twee reëls
- Met ons land en met ons nasie - Sal dit wel wees, God regeer.
__________
Die mosie wat die Nasionale Raad op 24 Februarie 2022 aanvaar het tydens die vergadering van die Nasionale Raad by Die Eike:
Die Nasionale Raad het in die verslagdoening oor die Voortrekkermonument kennis geneem van die aksies en aktiwiteite en wens die direksie en bestuur van die Voortrekkermonument geluk met die vordering in die omkeerstrategie. Voorts wens die Afrikanerbond om Solidariteit te bedank vir die ondersteuning wat gegee is met beide finansies en hulpbronne en kundigheid om die omkeerstrategie momentum te gee.
Ons bevestig graag opnuut hiermee ons verbintenis van amper 85 jaar tot die Voortrekkermonument, die simboliek en die ideale wat hier vergestalt word. Ons wens die direksie en die bestuur geluk en sterkte toe. Mag die Voortrekkermonument van krag tot krag gaan.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres