Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             April 2021

Die Voortrekkermonument – ʼn Nuwe bestuur

Deur geloofsdapperheid, deursettingsvermoë, harde werk en diensbaarheid is ’n toekoms vir ons geskep


Dit is algemene kennis dat die Voortrekkermonument en Erfenisstigting die afgelope aantal maande hul kernbesigheid verloor het as gevolg van onder andere die drastiese afname in besoekers as gevolg van Covid-19. Die Afrikanerbond kon as ʼn Kategorie A1 lid die saak onder sy lede se aandag bring vir hulp en bystand veral met die virtuele verkoop van die Voortrekkermonument. Die Afrikanerbond self het deur die Christiaan de Wet Fonds die marmerpaneel van Voortrekkerleier Sarel Cilliers en die aflegging van die Gelofte in die heldesaal by die Voortrekkermonument deur ‘n skenking van R100 000 “gekoop”. Hiermee het die Afrikanerbond praktiese beslag gegee tot die Gelofte wat ons elke jaar herbevestig. 

 

Al die stappe wat die Voortrekkermonument geneem het, was egter nie voldoende om die Voortrekkermonument se basiese bedryfskostes te kon befonds nie en ander en meer drastiese stappe was nodig. In die tyd het die personeel by die Voortrekkermonument ingestem om, met in agneming van die aard van hul werk en kernbesigheid, ‘n verlaging in salaris (tot 3 werksdae ‘n week) te aanvaar terwyl sommige afgelê is.

 

Die Dagbestuur van die Direksie het op 25 Januarie 2021 tydens ‘n spesiale vergadering aangedui dat daar dringend ‘n alternatiewe, volhoubare sakemodel ontwikkel moes word. Tydens die vergadering is opdrag ook gegee om in gesprek te tree met verteenwoordigers van die Kategorie A1 lid-organisasies om gesamentlik en ook moontlik tot voordeel van die organisasies met ‘n korttermynoplossing / ingrypingsplan vorendag te kom. Die gesprek met die Afrikanerbond het wel op Maandag 22 Februarie 2021 plaasgevind.

 

Tydens die ledevergadering op 18 Maart 2021 is die uitkomste van vele gesprekke in diepte bespreek en is met instemming van al die organisasies besluit dat die samewerkingsooreenkoms tussen die Voortrekkermonument, Erfenisstigting en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, oftewel die FAK aanvaar word. Ingevolge dié ooreenkoms vat die Voortrekkermonument en Erfenisstigting hande met ʼn mandaat om ʼn omdraaistrategie vir die monument inwerking te stel. Dr Danie Langner van die FAK is hiertydens ook aangewys as uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument-groep vir die omdraaiproses.

 

Tydens die ledevergadering het Ds Cassie Aucamp, voorsitter van die Voortrekkermonument direksie, bevestig dat die Voortrekkermonument op prinsipiële grondslag geanker is:

-      As ʼn Afrikaner monument ter bewaring van die Afrikaner se geskiedenis;

-      Dat die Voortrekkermonument nie afhanklik kan wees van die staat vir hulp of ondersteuning nie;

-      Dat die karakter van die Monument deur aksies en projekte as ʼn gewyde instelling beskou word.

 

Die ooreenkoms met die FAK word gesien as ʼn verandering in bestuur en nie ʼn verandering in beheer nie. In ʼn afsonderlike ooreenkoms met die Solidariteit Beweging is daar ook deur die Solidariteit Beweging onderneem om “tydens bogenoemde omdraaiproses en totdat die VTM-groep finansieel in staat is om sonder maandelikse tekorte te funksioneer, by wyse van skenkings vir die VTM-groep se maandelikse tekorte in te staan.”

 

Ds Cassie Aucamp skryf heel tereg oor die voorafgaande proses – “Vrugbare gesprekke is met leiers van organisasies soos die Afrikanerbond, die ATKV en die Voortrekkers gevoer. Almal het beloof en onderneem om deur hul eie onderskeie gedrukte-, radio- en digitale media die saak van die Monument in die hart van hul lede in te dra. Hulle het ook onderneem om hul netwerke tot die Monument se beskikking te stel om die getal “Vriende van die Monument” uit te brei. Hierdie prosesse is tans in ‘n meerdere of mindere mate aan die gang. Uit die gesprekke met organisasies in die Solidariteitgroep soos Solidariteit, Helpende Hand en AfriForum het daar tydens ‘n opvolggesprek ‘n meer spesifieke plan na vore gekom wat eventueel, ook na twee lang sittings, deur die Direksie goedgekeur is. Die plan is op Donderdag 18 Maart met ‘n oorweldigende 432 stemgewigte teen 1 deur die Ledevergadering aanvaar. Dit beteken dat al die lede-organisasies die plan goedgekeur het.”

 

Die direksies van die FAK en die Voortrekkermonument het ook ʼn dringende beroep op Afrikaners gedoen om nie net die beoogde samewerking te ondersteun nie, maar ook om hard te werk om die Voortrekkermonument te ontwikkel as ʼn kulturele tuiskomplek vir Afrikaners. Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die direksie van die VTM en die Erfenisstigting, het na afloop van die ledevergadering gesê: “Deur samewerking kan kundigheid en kontinuïteit behou word, terwyl die VTM as kulturele baken vir die nageslag behou bly. Die alternatief, dat die VTM as ’n verklaarde instelling aan die staat oorgegee word, sal nie net ’n aanklag teen Afrikaners wees dat hulle nie vir hul eie erfenis kan sorg nie, maar uiteindelik lei tot die verwaarlosing en vernietiging van die terrein.” Volgens Aucamp vra omstandighede “dat Afrikaners moet saamwerk om die monument se situasie te stabiliseer en uit te bou”.

 

Die AB het sedert die 1930’s ‘n baie groot rol in die totstandkoming en bestuur van die Monument en verwante maatskappye gespeel. Die Voortrekkermonument is aanvanklik beheer deur ‘n Raad, onder voorsitterskap van die Administrateur van Transvaal. In 1993 is dit oorgedra na ‘n artikel 21-maatskappy sonder winsmotief, onder beheer van ‘n eie direksie. Die Afrikanerbond dien sedert 1997 op die direksie.

 

Voor 1929 het talle verenigings wat hulle ten doel gestel het om die Afrikaner taal- en kultuurbewus te maak, op losse grondslag oor die hele land bestaan. 

 

  • Die eerste openbare oproep in die pers om hierdie verenigings op ‘n uniale basis saam te snoer, is deur die Afrikaner-Broederbond (AB) gedoen. In 1929 het die AB uitnodigings aan alle losstaande taal- en kultuurverenigings en provinsiale liggame en hulle takke gerig om afgevaardigdes na ‘n kultuurkongres in Bloemfontein te stuur. Vooraanstaande Afrikanerleiers op verskillende lewensterreine het die oproep in die openbaar ondersteun.
  • Deur die AB se toedoen is die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) in 1931 gestig met die oog op die oprigting van ’n monument ter ere van die Voortrekkers. Hoewel die oprigting van die Voortrekkermonument en die reëlings vir die Voortrekkereeufees van 1938 nie as sodanig AB-projekte was nie, was leidende figure in die Sentrale Volksmonumentekomitee en die Voortrekkermonument-eeufeeskommissie ook lede van die AB.
  • Die AB se direkte betrokkenheid by republiekwording het uiting gevind in die voorsiening van ’n spesiale pen waarmee staatspresident C.R. Swart die ampseed onderteken het, asook die oorhandiging van ’n spesiale horlosiehangertjie aan die Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd, en die reël van die Republikeinse Dankfees by die Voortrekkermonument op 15 Oktober 1960.
  • Aktiewe leiding is deur die Afrikaner-Broederbond gegee in verband met die inwydingsfees van die Voortrekkermonument, 1949.

 

Die Hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Jan Bosman, wat die ledevergadering op 18 Maart 2021 saam met Karel Tredoux, AB verteenwoordiger op die direksie van die Voortrekkermonument bygewoon het, het na afloop van die ledevergadering gesê: “Die Voortrekkermonument is ʼn kultuurskat wat nooit uit die hande van Afrikaners geneem kan en mag word nie. In die uiterste moeilike omstandighede is die ooreenkomste met die FAK en die Solidariteit Beweging in die beste belang van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Daarom is dit gepas om langs die weg ook dank oor te dra aan Dr Danie Langner wat die bestuur oorneem en die Solidariteit Beweging wat sal instaan vir die finansiële tekorte van die Voortrekkermonument. Dit is grootste gebare teenoor die bewaring van Afrikaners se geskiedenis wat erken en geloof moet word.

 

Die Afrikanerbond erken ook graag die besondere rol van Dr Cecilia Kruger wat in ʼn uiters moeilike tyd die leiding geneem het as hoof uitvoerende beampte en as vakkundige sal aanbly by die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Sy het sentraal gestaan in die soeke na oplossings en het deurentyd die beste belang van die Voortrekkermonument voorop gestel.

 

Die laaste woord hieroor aan Dr Danie Langner nuwe uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument-groep wat op ons versoek die volgende met ons deel:

“Die Voortrekkermonument is ’n bekende baken wat oor Pretoria uittroon. Dit is gebou met die ysterklip van Limpopo, die sandsteen van die Vrystaat, graniet uit die Magaliesberg. Dit is meer as ’n baken, dit vertel ’n grootste storie. Dit vertel die storie van gewone mense, pa’s en ma’s wat saam met hulle kinders op reis gegaan het. Dit is ’n epiese reisverhaal met dramatiese elemente van moord, verraad, tragedie, smart, moedeloosheid, blydskap, verwagting, hoop.

 

Hierdie reis was gedefinieer deur ’n ideaal. ’n Ideaal om iewers ’n plekkie onder die Afrika-son te kry waar hulle en hulle kinders vry, veilig en voorspoedig kon woon. Vry om self te dink, vry om self te sorg, vry om self te besluit. Hierdie monument gaan oor ons gees, oor ons menswees, oor ons hartklop, want dit vertel ook die storie van die geboorte van ’n volk in Afrika.

 

Die storie word vertel met baie simbole. Daar is marmerfriese uit Italië, ’n fakkelvlam wat sedert 1938 steeds brand, ’n sonkol op die senotaaf, vlae, skilderye.

Op die vier hoeke van die monument staan die drie Trekkerleiers uitgebeeld:

-    Piet Retief – die visioenêre leier

-    Andries Pretorius – die onverskrokke Voortrekker

-    Andries Hendrik Potgieter – die heldhaftige

-    Op die vierde hoek staan, dalk die belangrikste beeld, die beeld vir die onbekende Voortrekker. Die onbekende Voortrekker is simbool van die geslagte wat sou kom en die ideaal laat voortleef. Die onbekende Voortrekker wat met geloofsdapperheid, deursettingsvermoë, harde werk, diensbaarheid ’n toekoms vir hulle kinders geskep het.

Die toekoms vra dat ons geslag die ideaal waaroor die Voortrekkermonument staan vandag verwerklik in woord en daad.

 

Dankie vir die Afrikanerbond se betrokkenheid by die Voortrekkermonument, vanaf lede van die Nasionale Raad tot by elke lid wat vir sy kinders en kleinkinders die Voortrekkermonument kom wys.”  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: