Op 5 Oktober 2021 het die 14e AB in Dialoog webinaar met Waldimar Pelser (Redakteur van Rapport en aanbieder van kykNet verslag) plaasgevind.
Hy het gepraat oor die tema. “Daar is nog steeds Hoop.”
Inleidend tot die webinaar het Waldimar Pelser gepraat oor ʼn krisis-besef by Suid-Afrikaners wat al dikwels gekeer dat ons oor die afgrond stort wat immer in Suid-Afrika wink. Dinge sou slegter gegaan het as goeie burgers teruggesit het en niks gedoen het nie. Volgens Pelser is daar twee redes hoekom mense terugsit.
- Die een is dat hulle glo niks is fout nie en in ontkenning leef, en het hulle heeltemal onttrek aan aktiewe burgerskap.
- Die tweede rede agter waarom goeie mense soms terugsit, is omdat hulle glo hulle kan niks daaraan doen nie, hulle voel verlam, oorweldig, ontmagtig, en baie van hulle het net ophou probeer om ‘n verskil te maak.
Ontkenning en verlamming, dis sekerlik ons twee grootste vyande in ‘n land wat Pelser as volg beskryf: dit is ‘n land wat gebroke is, wat wonderlik is, wat innoverend is en korrup, wat geïnspireerd is en dikwels moedeloos, wat skatryk is plek-plek en dikwels brandarm, wat kurkdroog is en druipnat. Ons is ‘n land van kontraste, ons ken van wen en verloor. Ons weet van bou en van breek, van afbrand en van braai. Ons maak vordering, dan sak ons terug.
Wat is ons probleme en uitdagings?
Waar is die goeie nuus dan, sal gevra word?
Lees gerus Ebbe Dommisse se boek, Fortuine - Die Wel En Wee Van Afrikaner-Magnate. Afrikaners staan, skryf hy oor Afrikaner sakeleiers wat vandag leiding neem. Aan die hoof van een van die wêreld se grootste internet beleggers, die grootste maatskappy op die Johannesburgse effektebeurs, die naas-grootste groep in die internasionale mark vir luukse goedere, Richemont, Afrika se grootste kleinhandel, die land se grootste bank gemeet aan aantal kliënte, die land se grootste bankgroep gemeet aan mark kapitalisasie, en nie enige van Amerika se grootste waagkapitaal firmas, dit alles word gelei deur Afrikaners. Afrikaner boere het ‘n sleutelrol in die sukses gespeel van ons kommersiële landbou die laaste paar jare en sonder hulle is daar geen manier dat Suid-Afrika vandag in sy eie voedselbehoeftes sou kon voldoen nie..
Hierdie prestasies is behaal ondanks die akute onsekerheid oor grondhervorming in die laaste paar jare.. Een van die treffendste oomblikke van die laaste nuus-jaar, is veral toe Solidariteit in Februarie hulle nuwe Sol-Tech kampus bekendgestel het. Dit het R300 miljoen gekos, die eerste 100 miljoen is ingewin deur, R10 bydraes deur lede van die organisasie. ʼn Skouspelagtige kampus wat opgerig is binne begroting, betyds, sonder ‘n sent van belastinggeld, tydens ‘n pandemie. Wat dit so ongelooflik gemaak het, is dat nuus oor die Sol-Tech kampus, gebreek het kort nadat dit aan die lig gekom het dat Panyaza Lusufi se Gautengse onderwysdepartement R431 miljoen geblaas het op die skoonmaak van skole weens COVID, kontrakte wat alles nutteloos was. R431 miljoen waarvoor ons niks gekry het nie, belastinggeld, teenoor R300 miljoen se skarefinansiering om ‘n splinternuwe tegniese kollege te bou. Vir ‘n beter illustrasie van die futiliteit en gevare van immer uitdyende staatsfunksies versus die belofte van privaatinisiatief, kon ‘n mens nie gevra het as dit nie. Besonder baie van vandag se private inisiatiewe in Suid-Afrika, ontspring in Afrikaner geledere.
Soos altyd bly die uitdaging natuurlik om nie die een te doen en die ander na te laat nie, met ander woorde, om eiebelang na te streef sonder om die bou van brûe af te skeep na ander gemeenskappe wat baie by Afrikaner inisiatiewe kan baat, en ook daaruit kan en wil leer. Een so ‘n inisiatief van uitreik het ons vroeg vanjaar gesien met die vergadering tussen die Thabo Mbeki Stigting en die Afrikaner-Afrika Inisiatief, waarby die Afrikanerbond betrokke was.
Een manier om ons land te te beskryf, is as ‘n land van kontraste waar skouspelagtige welvaart en suksesse leef, reg langs dit wat lankal uitgedien is. As ‘n mens in hierdie land, jou afhanklikheid van die staat kan verminder en in die proses ook ander se afhanklikheid van die staat verminder deur werk te skep, dan is daar noodwendig ‘n toekoms en as elke bietjie vordering wat dalk tog gemaak sal word in die openbare sfeer waarna ek vroeër verwys het, ‘n bonus, eerder as iets waarop ons staatmaak.
Met verwysing na die AB Voorsitter Dries Wiese se skrywe in die AB nuusbrief sê Pelser Afrikaners kan hulself nie isoleer van Suid-Afrika nie, maar ons kan deur skeppend te dink en te doen wel ons plek opneem.”
Ter afsluiting van die webinaar en na verskeie vrae wat lede gerus kan luister het Waldimar Pelser op ʼn vraag oor die land van kontraste en teenstellings ook verwys na President Ramaphosa en beloftes oor werkskepping: Die staat behoort nie werk te skep nie. My probleem met President Ramaphosa is nie gebreekte beloftes nie, maar dat hy ‘n skadelike stel dogmas aanhang oor die rol van die staat in die samelewing. Solank as wat dit die geval is gaan jy die hele tyd sit met wat die Engelse noem, “overreach”, waar die staat pal gaan probeer oorneem soos met die Nasionale Gesondheidsversekering en soveel ander voorbeelde. Die staat gaan voortdurend probeer om die oplossing te wees vir ons land se groot probleme, eerder as om sy basiese funksies te vervul wat individue en gemeenskappe nie kan vervul nie, wat insluit die beskerming van die grense, die bepaling van buitelandse beleid, die bepaling van ekonomiese beleid en die regulering van bepaalde bedrywe. Tot ʼn mate is ʼn element daarvan uit die aard van die saak nodig, die daarstel van ‘n mate van maatskaplike veiligheidsnet vir mense wat absoluut niks het nie. Daar is baie wat net die staat kan doen, maar vir die res moet die staat uit die pad uit kom sodat mense met ywer en kundigheid hulle ding kan doen.
Die grootste bekommernis is dat Ramaphosa na al hierdie jare en na alles wat ons nou weet oor staatskaping nog steeds in kaderontplooiing glo en dat sy wêreldbeskouing nog steeds onuitgedaag staan in groot dele van die openbare lewe en groot dele van die kommentariaat.. Daar is al hoe meer kommentators wat bereid is om te erken, links en regs, dat kaderontplooiing altyd deel van die probleem was, dat dit die Trojaanse perd was wat die vyand toegelaat het. Die erkenning is ‘n geweldige groot stap in die regte rigting. Selfs oor Swart Ekonomiese Bemagtiging sien ons dat daar al hoe meer konsensus aan die ontstaan is dat dit nie in sy uitgesproke doelwit geslaag het nie. Die howe sê dit, politieke ontleders sê dit en omtrent elke politieke party sê dit, dit word gesê selfs binne die ANC. Dit ook is iets wat Ramaphosa nog nie erken nie. Die probleem is nie leë beloftes nie, maar dat hy in iets glo wat nie werk nie en wat demonstreerbaar skadelik is vir die land.
Volg die geredigeerde opname van die webinaar - Druk op skakel
Adres