Met 'n onlangse beplanningsessie in Vanstadensrus in die Suid-Oos Vrystaat. Veiligheidsbeplanning deur die gemeenskap
Werk saam om ons land te red - ‘n Gemeenskapsgedrewe Inisiatief deur ons Mense vir Ons Mense - Van die Grond af Opwaarts
Deur Roland de Vries,
INLEIDING
Lees die tekens van die tye …. Ons is verby die handhawing van gewone veiligheid in Suid-Afrika … Ons het die drumpel van oorlewing lankal reeds betree!
Die Suid-Afrikaanse samelewing verkeer tans in groot gevaar jeens politieke onstabiliteit en ekonomiese en sosiaal-maatskaplike agteruitgang. Die situasie versleg daagliks en word deur die huidige regering se onvermoë om doeltreffende landsbestuur toe te pas, aangewakker.
Hierdie kookpot kan te eniger tyd tot uitbarsting kom en dit noodsaak gemeenskappe om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om enige onlus en misdaad-terreur situasie in die afsienbare toekoms effektief die hoof te bied.
‘n Sprekende voorbeeld, nog vars in die geheue, is die wydverspreide onluste wat KwaZulu-Natal in Julie-Augustus 2021 getref het. Ons was bewus van uitgebreide plundertogte deur tierende skares, die onwettige afsluiting van nasionale roetes, brandstigting en die isolering van verskeie dorpe. Tog het vele gemeenskappe van alle rasse groeperinge vas gestaan en hulle dorpe gered. Dorpe soos Pongola in Noord-Natal en Underberg in Suid-Drakensberg is sprekende voorbeelde.
Die onafhanklike verslag aan President Cyril Ramaphosa oor die onlangse KwaZulu-Natal politieke opstand en kriminele plundertog spreek boekdele. Die staat het die vermoë om vredeliewende burgers voldoende beskerming te bied en ons land se welvaart te verseker gruwelik versuim.
Gemeenskappe sal die regering se werk voortaan self moet doen!
Suid-Afrika is letterlik by die kruispad – op ’n punt waar ons as wetsgehoorsame mense ernstig oor ons land se toekoms moet besin. Een keuse is om die struikelblokke te oorkom wat Suid-Afrika verhinder om sy ware bestemming te bereik. Die ander is om goedsmoeds die naderende katastrofe soos ‘n slagskaap te betree.
Die Bybelse profeet Jeremia stel dit baie eenvoudig, in woorde wat weerklank behoort te vind in die harte van alle vredeliewende Suid-Afrikaners. Dit wil sê, diegene wat lewe, veiligheid, voorspoed en vreedsame naasbestaan nastreef, nie die misdadigers nie.
In die Bybel boek Jeremia Hoofstuk 6 vers 16 verklaar die profeet: “So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar die goeie weg is en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siele!”
'n Mens hoef nie eers 'n gelowige te wees om hierdie paar woorde van wysheid te aanvaar nie, want dit is niks meer of minder as gesonde logika nie.
Daar is te veel op die spel om bloot terug te val op die ou Suid-Afrikaanse oortuiging dat “alles sal regkom” Al die aanduidings is dat alles nie reg sal kom as ons die land se sake wat skeefloop sonder meer laat begaan nie.
Daar sal geen tweede prys-wenner in hierdie stryd wees nie. Die keuses is baie duidelik, gaan ons help om ons land te red, of kies ons byvoorbaat ‘n rampspoedige gevolg! Suid-Afrika se toekoms-hoop lê in die hande van nugtere mense wat omgee!
DIE KILLE WERKLIKHEID VAN ONS LEWENSGANG
Suid-Afrika word tans gereken as een van die lande met die hoogste geweldsmisdaad syfers ter wêreld.[1] Met moord bo aan die lys volg onwettige onluste, gewapende aanvalle op gesinne, onwettige grondbetreding en besetting, huisbraak, onwettige padafsluitings, voertuig kapings en veediefstal.
Alle provinsies in die land word hierdeur geraak. Misdaad-terreur kom in stede, dorpe, krotbuurte en in die platteland voor.
Geweldsmisdaad word deur gewone kriminele, kriminele-bendes, politieke agitators en sekere linksgesinde en regsgesinde rewolusionêre organisasies gepleeg. In baie gevalle is daar sprake van uitermatige brutaliteit en gewapende geweld by betrokke. Hierteenoor staan die huidige regering en sy staatstrukture, soos die polisie, skynbaar argeloos, selfs magteloos! Dit kan nie langer geduld word dat weerlose gemeenskappe, Wit, Swart, Indiër en Bruin deur wreedaardige kriminele geteister, getraumatiseer en goedsmoeds vermoor en/of geïntimideer word nie.
Sodanige bedreigde gemeenskappe het die reg op beskerming, lewe, vryheid en voorspoed, soos dit in die Grondwet vasgelê is.[2] Alhoewel veiligheid en sekerheid noodsaaklik is vir die vooruitgang van Suid-Afrika, word dit tans gruwelik deur die regering nagelaat. Dit beteken dat bedreigde gemeenskappe aan hulle self oorgelaat is om hulself te beskerm.
Oorwinning bevoordeel diegene wat beplan en voorbereid is! Ons moet seker maak dat ons planne en voorsorgmaatreëls in plek is!
Die kille werklikheid van ons lewensgang, met betrekking tot die onsekere situasie waarin Suid-Afrika verkeer, word hieronder opgesom:
Daar is tog hoop. In die opsig is dit relevant om te kyk na die wonderwerke wat op die grond in KZN tydens die onlangse opstand in Julie-Augustus 2021 gebeur het … waar vredeliewende mense uit alle oorspronge van die samelewing saamgestaan het om hulle self en hulle wonings en werk plekke te beveilig.
Op nog 'n positiewe noot … Suid-Afrika het oorvloedige vrugbare grond en natuurlike hulpbronne om ekonomiese groei, ontwikkeling en stabiliteit te verseker. Ons mense moet net ondersteun word en toegelaat word om normaal met hulle werk voort te gaan! Die huidige regering help nie in hierdie opsig nie!
Ons enigste hoop op hierdie oomblik lê in selfbeskerming, selfbestuur en die versekering van ons eie voortbestaan. Ons het die volste reg om dit te doen.
DIE BEDREIGING TEEN ONS SUID-AFRIKANERS
Die kern van die bedreiging teen Suid-Afrika is die omverwerping van wet en orde deur kriminele, wat die aanstook van misdaad-terreur dade insluit. Dit kan deur gewone kriminele of andersyds deur georganiseerde kriminele en/of bepaalde politieke groeperinge uitgevoer word. Daar word in die verband na destabiliseerders en/of subversiewe elemente verwys, wat hulle eie agendas naarstiglik buite wetgewing nastreef.
Ons moet kennis neem dat kriminele nie volgens reëls speel nie, terwyl wetsgehoorsame burgers steeds binne wetlike bepalings vir gemeenskapsveiligheid en alle ander landswette moet optree! Die krimineel sal enigiets gebruik om sy kriminele oogmerke te bevorder. Hy steur hom nie aan die gesag van die wet nie, is gewetenloos en ontsien nie onskuldige lewens nie.
Die kern van die probleem kan dikwels in ontoereikende politieke en sosiaal-maatskaplike omstandighede en swak munisipale dienslewering deur die staat gevind word. Op die koop toe, word onaanvaarbare wetteloosheid deur die haatspraak van sekere linksgesinde sowel as regsgesinde aktiviste aangemoedig. Hierdie probleme is simptomaties in ‘n land waar die staat en sy polisie nie voldoende beskerming vir vredeliewende mense bied nie!
Gemeenskappe moet dus hulself organiseer en bemagtig om wettig teen misdaad-terreur op te tree. Dit wil sê, totdat die regering besluit om eerbaar te regeer en sy mense voldoende beskerming te bied.
Die ondermyning van wet en orde, as gevolg van bogenoemde redes, kan lei tot eskalerende politieke en kriminele konflik en selfs anargie, indien dit nie doeltreffend deur die staat bestuur word nie. Dit kan selfs in volskaalse burgeroorlog ontaard en die uitwissing van onskuldige landsburgers insluit.
Politieke onrus is tans in Suid-Afrika besig om te eskaleer en geografies te versprei. Dit manifesteer in die strate en selfs landelike areas as oproerige byeenkomste, wat skielik kan opvlam en versprei. Onwettige massa-optrede gaan gepaard met gewelddadigheid; harde intimidasie; onredelike optrede en gedrag; klipgooiery en brandstigting; taxi geweld; paaie afsluiting; diefstalle en plundery; beskadiging van eiendom; en onwettige grondbetreding en besetting.
Misdaad piek gewoonlik tydens oproere en neem die kleed van verhoogde gewelddadigheid aan! Burgerlike ongehoorsaamheid en politieke oproerigheid bedreig die lewens en lewensgang van redelike mense, wat onder hierdie abnormale omstandighede gyselaar gehou word!
Betroubare inligting dui daarop dat daar ‘n geweldige uitbreiding van bende getalle is, wat met georganiseerde misdaad verband hou. Dit sluit bekende politieke figure in wat by georganiseerde misdaad betrokke is. Hierdie proses gaan gepaard met subversiewe organisasies wat besig is om wapens en ammunisie teen ‘n verhoogde tempo te bekom. Dit sluit ook die diefstal van wapens in vanuit verskillende bronne, ook die polisie. Baie wapens word ook uit Lesotho en Mosambiek onwettig die land in gesmokkel.
Wat staan goeie mense te doen, onder hierdie onaanvaarbare omstandighede, wat besig is om die land lam te lê en Suid-Afrikaners mismoedig te maak? Dit is logies dat hoe minder doeltreffend die staat en private veiligheidsorganisasies is om wet en orde te handhaaf, hoe groter word die druk op die breër gemeenskap om homself teen misdaad en terrorisme te beskerm.
Die oplossing is in ʼn deeglike en oorwoë beplanning en daadwerklike optrede wat bedreigde gemeenskappe in staat stel om beheer te kan neem oor hulle situasie en om na hulle eie veiligheid en wel en weë om te sien!
SLOTSOM
Weens 'n mislukte staat kan ons nie meer staatmaak op die tradisionele magsbasisse (polities, ekonomies, maatskaplik, veiligheid, tegnologies en geestelik) om gewone mense veilig te hou nie; en veral nie om vir hul welstand en die welvaart van die hele land te sorg nie. Dit beteken dat gewone vredeliewende mense op hulself aangewese is.
Die enigste werklike magsbasis wat ons oor het, lê in die toewyding van gewone mense wat op ʼn daaglikse basis saamwerk vir die herstel van ons land, met hul werklike omgee, kennis, vaardighede en ywer. Dit alles is reeds besig om te gebeur in verskeie gemeenskappe regoor die land.
Daar moet ook op groter skaal en omvang beplan word ten einde die veiligheid van alle wetsgehoorsame-vredeliewende burgers te verseker sowel as die ononderbroke lewering van noodsaaklike dienste en kommoditeite, en voldoende voedsel bronne as die omgewing meer onstabiel raak.
As sodanig is elke gemeenskap ’n krag om mee rekening te hou, wat krag in die volgende woorde uit die Bybel vind: “Romeine 15:1 – “Op ons wat sterk is in die Geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van die wat nie sterk is nie!”
Wat is daardie maatreëls wat ons nou moet neem om Suid-Afrika te red en om ons land onteenseglik op die pad na positiewe hervorming en voorspoed te plaas?
Ons moet hoop skep en die vertroue van ons mense in Geloof herstel.
Ons moet saamstaan en die aksieplan uitwerk wat ons land kan red … van die grond af opwaarts! Ons moet die moed aan die dag lê om op te tree voordat dit te laat is!
* Genl. Roland de Vries, is ’n internasionaal gerekende militêre kenner en voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër.
[1] Die Nuus in Afrikaans Koerant, 21 Junie 2016.
[2] Ingevolge artikel 12 (1) (c) van die Grondwet van Suid Afrika, wet108 van 1996, het elke persoon die reg “om vry te wees van geweld, hetsy openbare, hetsy private oorsprong”.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres