Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          November 2023

Wes-Kaap het toekomsplanne om water en energie aan te spreek

 

Verslag is saamgestel deur Nico Stofberg, Lid van die Nasionale Raad (Wes-Kaap)

 

Op Dinsdagaand 24 Oktober het Gebied 1 (Goeie Hoop) ‘n gebiedsbyeenkoms gehou by die klubhuis van Zevenwacht Village, Kuilsrivier. Die spreker by die geleenheid was mnr  Anton Bredell, Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning in die Wes-Kaap en het hy hoofsaaklik gepraat oor die watersituasie in die Wes-Kaap.      

                 

Minister Bredell het sy visie, aksies asook kommer gedeel met die lede verteenwoordigend van alle afdelings in die Gebied asook lede van Paarl. As organisasie is aangedui dat die Afrikanerbond van die Wes-Kaap op alle moontlike wyses steun en kundigheid beskikbaar stel waar en wanneer nodig. Daar is mense met ervaring en kundigheid in die Afrikanerbond met betrekking tot plaaslike owerhede,  ingenieurs, watervoorsiening, kernkrag en ander bronne 

 

Onder andere het minister Bredell oor watervoorsiening gepraat en verwys na: 

 

i)           Bestaande Waterbronne

Die vergadering het met groot waardering kennis van die suksesvolle bestuur van die Bergrivier as lewensaar van ‘n sensitiewe landbouproduksie netwerk.

 

Daar is kennis geneem van die pogings om watervoorraad en stoorkapasiteit te verhoog en in besonder die aksies rondom Clanwilliamdam met die oogmerk om die landboupotensiaal te ontsluit aan die Weskus. Voorts is kennis geneem van die instandhouding van bestaande infrastruktuur asook die enorme taak om ander waterbronne te beskerm teen besoedeling en wangebruike

 

Die watervoorraad en stoor-kapasiteit is 'n bron van groot kommer en alle inwoners is akuut bewus van die risiko met die groeiende bevolking in die Wes-Kaap. Daar is met groot verwagting en opgewondenheid kennis geneem van die visie, aksies, strategie  en toekomsplanne om die probleem aan te spreek. Die vergadering het ook kennis geneem van die strategiese visie om van ‘n reaktiewe diens na ‘n berekende risiko van toekomsverwagte behoeftes en dienste te beweeg.

 

ii)          Bevolkingsgroei in die Wes-Kaap

Voortvloeiend uit die strategie m.b.t die watervoorraad het Minister Bredell die probleem en ontwikkeling van onwettige woonpatrone uitgespel asook die onwettigheid van grondbesetting en die druk op die infrastruktuur van die plaaslike owerhede,

 

Die vergadering het ook kennis geneem van redes vir die onlangse optrede van die Kaapse Metropool m.b.t tot die Taxibedryf en die suksesvolle aksies om dissipline toe te pas met behulp van al die kragte wat beskikbaar is.

 

Die vergadering het ook kennis geneem van die suksesvolle implementering van ‘n noodsentrum in Kaapstad vanwaar daar op hoogs professionele wyse Rampbestuur toegepas word. Die onlangse vloede in die Wes-Kaap is ‘n praktiese bewys van die sukses om lewens-en eiendoms-verlies tot die minimum te beperk. Vroeë ontruiming van mense uit risiko gebiede is baie suksesvol en  doeltreffend bestuur.

 

iii)        Energie Lewering

Tydens die gesprek is daar ook kennis geneem van die behoefte aan ‘n betroubare energie-bron vir die Wes-Kaap en dat alle alternatiewe ondersoek word om volhoubaar te kan wees.

 

Minister Bredell het ook kennis geneem van die Afrikanerbond se toekomsvisie en gemeenskaplike behoeftes soos verwoord deur die lede tydens die vergadering m.b.t tot die moontlikhede van 'n Korrelbed-Kernkrag Strategie.  Die realiteit is ook dat daar openbare weerstand van verskeie groepe is en wat hoofsaaklik  gedryf word deur onkunde oor die nuutste tegnologie.

 

Die plek van Wind-en Sonplase as korttermyn oplossings is erken en dat die volhoubare bronne asook die ondersteuning van toekomstige nywerheidsontwikkeling op 'n ander vlak lê. 

 

Minister Bredell het onderneem om ‘n gesprek te fasiliteer tussen die premier, mnr Alan Winde  en die Afrikanerbond ten einde ‘n gemeenskaplike basis te probeer bereik. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: