Woord deur die voorsitter
- April 2022 gee rede vir ons om te dink en te waardeer
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond
In die komende maand is daar drie besondere herdenkingsdae waardeur ons ook die geleentheid kan gebruik om te dink oor ons identiteite wat ons as kosbaar beskou.
Op 6 April is dit Stigtingsdag of Van Riebeeckdag - Die president het reeds op 21 Maart voortgegaan om wit mense verdag te maak en is die deurlopende verwysings vanuit die ANC en die EFF na 1652 en Jan van Riebeeck ʼn ontstellende en toenemend openlike vyandige houding teen wit mense. Die oogmerke van die VOC met Jan van Riebeeck se plasing aan die Suidpunt van Afrika was bloot prakties en ekonomies van aard, en die gedagte aan 'n volksplanting word nie by hulle aangetref nie. Tog sou hierdie daad oorgaan tot die vestiging van 'n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika. Van Riebeeck word die simbool vir Afrikaners as draers van sekere beginsels en 'n eiesoortige kultuur. Met die latere binnekoms veral van Duitse en Franse immigrante sou die volksaard vervorm word tot wat later die Afrikaner geword het. Moontlik is dit ook ʼn geleentheid vir ons as Afrikaners om te besin oor ons werklike bydrae tot die land. Is ons hier vanuit die oortuiging aan die hand van ons oorspronklike en diepe roepingsbewustheid in die kontinent of doen ons dit uit liefde vir die land, die grond en sy mense of om slegs te oorleef? Die geskiedenis vandag is wat dit is: die verlede - met al sy konflikte, ongeregtighede en ingewikkeldheid - kan nie verander word nie. Hoe gee ons dan betekenis aan Afrikanerskap binne die konteks van ons kultuurtradisie en ʼn verlede wat ons moet eer, respekteer en waarop ons weer kan bou?
Op 27 April is dit Vryheidsdag - Die meerderheid Suid-Afrikaners, wit en swart, het die nuwe Suid-Afrika en die waardes soos vervat in die SA grondwet volledig omarm. Daar is van ou simbole soos die ou landsvlag afskeid geneem en is die nuwe landsvlag aanvaar. Die Stem het plek gemaak vir Nkosi Sikelel' iAfrika, die vier ou provinsies het plek gemaak vir nege nuwe provinsies met nuwe name. Die meerderheid Suid-Afrikaners het die nuwe Suid-Afrika, gebaseer op die waardes soos vervat in die SA grondwet, volledig en met entoesiasme aanvaar op 27 April 1994.
Vryheidsdag moet ook gesien word teen die agtergrond van ‘n minderheid en meerderheid wat mekaar, vanuit ‘n posisie van konflik, kon vind rondom ‘n onderhandelingstafel. Uit hierdie onderhandelinge is ‘n nasionale akkoord bereik wat neerslag gevind het en geformaliseer is in ‘n oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996. Alhoewel nie volmaak nie, bied die grondwet voldoende ruimte aan enige regering vir wye besluitneming en word burgerlike regte voldoende beskerm. Dit is hierdie hele proses wat tans vanuit die ANC ondermyn word in hulle eie interne konflikte en word witmense gerieflikheidshalwe uitgewys as die probleem in die land.
Die vraag moet telkens gevra word watteer vryheid vir ons in 2022? Ons sien elke dag wat op politieke, ekonomiese en maatskaplike gebied om ons gebeur. Staatskaping, korrupsie en dienslewering wat elke dag agteruitgaan beroof ons in werklikheid van ons vryheid. Werkloosheid styg en ons sien dat die ekonomie stagneer. Politieke retoriek bring rassespanning. Dit wat ons gedink het op 27 April 1994 gly al verder weg met n klaarblyklike totale gebrek aan versoening en gedeelde waardes. Ons vryheid vervaag as ons sien hoe gemeenskappe se broodnodige ontwikkelingshulp in die sakke van die korruptes verdwyn. Die hart van ons demokrasie word deur die oënskynlik ongebreidelde misdadigheid en kriminaliteit uitgeruk. Die politieke wil ten spyte van die een beleggingskonferensie na die ander ontbreek. Daar is ʼn groterwordende gaping tussen die burgerlike gemeenskap en die regering en word dit toenemend duidelik dat ʼn koalisie van besorgde Suid-Afrikaners weer die droom van 1994 moet herontdek en herverbeel. Ons is reeds vir 28 jaar in ʼn nuwe demokrasie en die ANC se enigste teenvoeter vir enige kritiek en om hul eie onbevoegdheid mee te verdoesel is om die “struggle” as die enigste en saakmakende geskiedenis van Suid-Afrika uit te beeld. Suid-Afrika se geskiedenis is veel meer kompleks as dit, omvat baie meer as die struggle, sluit baie meer in as die ANC en hulle beperkte deelname in die geskiedenis. Dit is ons wat ook weer nuwe inhoud moet gee aan Vryheidsdag want ons staan met elke vakansiedag in die beskuldigdebank
Die belangrikste herdenking is egter op 15 April vanjaar met Goeie Vrydag en Paasfees. . Die herdenking van Goeie Vrydag laat ons onthou: God het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red.: Die bloed van Christus reinig ons van al ons sonde. Aan die kruis neem Hy ons ongeregtigheid op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Midde in al die stryd en twis in Suid-Afrika is dit die boodskap wat sentraal vir elkeen van ons behoort te staan.
As Christene, as Afrikaners en as Suid-Afrikaners kan ons en moet ons altyd die perspektief behou van die rol wat ons kan speel en moet speel. Ons land mag dalk gebroke wees maar in die woorde van Dr Danie Langner van die FAK kan ons as Afrikaners hier wees as hoopdraers wat diensbaar leef. Afrikaners isoleer nie, ons reik uit. Afrikaners gee om en sorg vir ons naaste. Afrikaners begeer veiligheid, voorspoed en vrede vir almal in die land. Afrikaners is nog steeds in Suid-Afrika, met al sy bomenslike uitdagings, omdat ons kies om as Christene en as Afrikaners ‘n verskil te maak.
Ek was bevoorreg om ʼn virtuele boodskap aan die Wes-Kaap te gee met hulle Vrugtefees vroeg in Maart terwyl vlugte en my persoonlike omstandighede in Kimberley dit moeilik gemaak het om lank van die huis af weg te wees. Ek was trots dat die Afrikanerbond ook die aanpassing kon maak om op die virtuele wyse die Nasionale Raad se boodskap te kon oordra en wil daarom ook vandag vir elke lid vra:
Sal u vandag trots wees op ‘n organisasie wat:
Vandag het ons weer die uitdagings wat ons oor meer as ‘n 100 jaar gekonfronteer het en met al die bostaande in gedagte wil ek elkeen vra om in Aprilmaand met al sy herdenkings, hoe uiteenlopend dit ook al mag wees weer nuwe inhoud te gee aan wat dit beteken om ʼn Christen in ons bose wêreld te wees, ʼn Afrikaner te wees met al die bedreigings wat ons elke dag ervaar en ʼn Suid-Afrikaners te wees wat weer trots wil wees op die land en sy mense.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres