Woord deur die Voorsitter - Suid-Afrikaners moet hulle eie skeppende vermoë ontsluit en nie die verlede probeer verander of regstel nie
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Soos gewoonlik is hierdie nuusbrief weer vol wetenswaardighede en is ons nuusbrief ʼn trotste produk van die Afrikanerbond en ʼn uitstaande manier om ons lede te bemagtig. Daarom ook net weer dank en waardering aan elkeen wat ʼn bydrae maak tot die nuusbrief en ook vir u wat die nuusbrief versprei. Deur ons nuusbrief reageer ons op aktuele kwessies en alhoewel ons standpunte stel is dit nie altyd die enigste of die regte standpunt nie. Dit bly nietemin goed oorwoë standpunte waarmee ons die aktualiteite wil beïnvloed.
Winston Churchill het by geleentheid gesê “As ons ʼn vete tussen die verlede en die hede ontketen, sal ons agterkom dat ons die toekoms verloor het.” Hoe geldig is hierdie siening nie vandag weer met naamsveranderinge en debatte oor die grondwetlike demokrasie wat ondermyn word met uitgediende dokumente soos die Freedom Charter nie. As ons daardie lesse van die verlede ter harte neem in vandag se werkswyse, kan ons weer sukses behaal. Dit is waarop die Voortrekkermonument bou met die nuwe bestuur en wens die Afrikanerbond ook om langs die weg vir dr Danie Langner sterkte toe te wens in sy nuwe rol as uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument. Terselfdertyd moet ons egter ook die Solidariteit Beweging bedank vir die ruim finansiële bydrae om in die afsienbare toekoms die tekorte van die Voortrekkermonument aan te vul. Lees gerus die artikel daaroor die AB Nuusbrief. Ons het ook reeds die Solidariteit Beweging gelukgewens met die bou en opening van Sol-Tech. Dit is ʼn instansie wat moet help om die skaarste aan kritieke vaardighede te vul, wat ons land so nodig het.
Ons skep vandag in alles wat ons doen ʼn toekoms vir ons en en ons kinders. Daarom moet ons ook ʼn geheelbeeld probeer skep van ʼn gebalanseerde verlede. Ons is egter stelselmatig besig om ʼn verwronge en skeefgetrekte geskiedenis te skep. Op 6 April het ons in die verlede amptelik Stigtingsdag gevier. Dit is egter nie meer op die nasionale kalender vir vakansiedae nie, maar dit bly nietemin ʼn belangrike datum vir Afrikaners. Kom ons neem die vaandel op en vier Stigingsdag of Van Riebeeckdag as ʼn dag wat Afrikaners se bydrae oor eeue tot die land en sy ontwikkeling gevier word en nie as ʼn viering van een oorwinnaar oor ʼn ander nie.
Ons is maar te diep bewus van die verdagmakery vanuit regering en ander opposisiepartye oor Van Riebeeck en enige naamgewing uit die koloniale of apartheidsverlede. Dit word toenemend duidelik dat minderhede se erfenisse en kulture al hoe meer gemarginaliseer word, hetsy deur politieke moedswilligheid of deur totale onbekwaamheid. Daarom is dit ook goed om te let op die uiters aktuele kwessie van naamgewing wat in die nuusbrief behandel word. Die artikel vind sy basis oor ʼn oud AB Voorsitter, William Nicol, wat ook deur naamsveranderinge misken word.
Ons het deurlopend die dilemma dat ons met respek en begrip vir mekaar se kultuur, agtergrond en geskiedenis moet handel, sodat ons kan vorder met broodnodige versoening in Suid-Afrika. ʼn ANC faksie wat Radikale Ekonomiese Transformasie bevorder, gebruik die Freedom Charter as verwysing. Die Suid-Afrikaanse Grondwet figureer nêrens nie en dit is net so ondermynend soos wat Jacob Zuma se aksies in woord en daad is. Suid-Afrika het nie net een geskiedenis nie. Die diverse samestelling van ons bevolking, elkeen met sy eie kultuur en geskiedenis getuig van ʼn tradisieryke verlede, goed en sleg, wat erken en bewaar moet bly. Dit is nie in die hande van politieke partye of politieke onvolwassenes om met onverantwoordelike aksies die geskiedenis te probeer herskryf nie. Ons gedeelde geskiedenis word beliggaam deur die grondwetlike demokrasie wat ons regstaat vestig en dit is wat ons moet bevorder. Ons bevestig telkens dat die Afrikanerbond optree as ʼn Afrikaner belangegroep. Daarom is ons oortuig dat ons standpunte moet lewer en ook baie duidelike kritiek op die regerende party en sy faksies, waar dit vir ons ʼn bedreiging inhou.
Die radikale ekonomiese transformasie faksie en standpunte daaruit verwoord is, net soos die Nasionale Demokratiese Revolusie, ʼn uiterste bedreiging vir ons lede se belange en verdoemend vir elkeen van ons. Daaroor behoort ons nie stil te bly nie. Nog meer - vanuit ons Afrikanerbond Credo ontvang ons die volgende mandaat: Dat ons:
As Nasionale Raad toets ons telkens ons aksies en standpunte teen die Credo en dit waartoe ons onself verbind.
Ons politieke omgewing, hofsake en die aanmatigende eensydige optrede ten opsigte van naamgewing en veral die toksiese openbare debat wat die laaste ruk die lelike sy van Suid-Afrikaners gewys het, het ʼn ander vraag na vore gebring. Wat het van Suid-Afrikaners se skeppende vermoë geword? Hierdie vraag moet direk aan die ANC gevra word. Dit is makliker om beelde, name en infrastruktuur te vernietig en te vandaliseer as om nuut en skeppend met die kunste, met erfenisse en nuwe broodnodige infrastruktuur om te gaan. . Dit is makliker om straatname te verander as om nuut en kreatief om te gaan met nuwe woonbuurte en ontwikkelings en dit te vernoem. Dit is makliker om die geskiedenis vanuit een perspektief te veroordeel as om ʼn nuwe gedeelde geskiedenis te ontwikkel. Dit is makliker om apartheid en kolonialisme te blameer vir vandag se probleme as om self aanspreeklikheid en verantwoordelikheid te neem. Dit is makliker om die uitgediende ideale van die Freedom Charter te bevorder as om die verpligtinge en verantwoordelikhede van die Suid-Afrikaanse Grondwet na te kom.
So kan baie voorbeelde genoem word. In hierdie proses van die laaste 25 jaar is Suid-Afrikaners se skeppende vermoë nie aangemoedig nie. Dalk kan die antwoord gesoek word in die staat wat die denke bepaal en liewers mildelik uitdeel as om seker te maak dat mense bemagtig word om sodoende verantwoordelikheid vir hulleself te neem. Om die verlede af te breek met ʼn eensydige interpretasie as die aller antwoord tot transformasie is maklik - om die toekoms te bou en konsensussoekend op te tree en die oplossing te soek in die balans tussen die hede en verlede is ʼn uitdaging. Daarvoor sien die ANC in regering nie meer kans nie en is dit duidelik dat die makliker uitweg telkens voorgehou word.
Laat my toe om aan die vooraand van die Paasnaweek die pleidooi te lewer dat ons in hierdie Paastyd weer ons geloof sal aangryp en is dit my wens dat ons die genade van Jesus Christus intens beleef omdat ons gered is. Mag dit vir u en u familie ʼn besondere geseënde Paasfees wees.
Adres