Woord deur die Voorsitter - Dialoog in die voortdurende soeke na konsensus
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Die stem van radikale minderhede bepaal in die huidige tydvak die agenda terwyl die meerderheid gematigde en redelike Suid-Afrikaners dialoog wil voer en mekaar wil vind binne die volgende raamwerk:
In Junie 2018 spreek President Ramaphosa ons Eeufees Bondsraad toe en herbevestig die president opnuut die besondere identiteit van Afrikaners deurdat hy sê: “Afrikaners is deur hulle naam en per definisie van Afrika. Dat Afrikaners integraal deel is van die Suid-Afrikaanse nasie, net soos enige ander gemeenskap. Dat hulle taal, hulle kultuur hulle behoeftes en hulle verwagtinge nie minder of meer belangrik is as enige van die ander gemeenskappe nie.” Die standpunt is inderdaad verwelkom want daar het geweldige vervreemding ontstaan die laaste paar jaar.
Die AB het deurentyd die noodsaak aan interaksie tussen die regering, politieke partye en die Afrikanerbond hoog op die agenda geplaas omdat daar belangrike kwessies soos onderwys en ekonomie, landbou en grondbesit is. Ons het die laaste paar jaar verskeie skrywes aan die president en van die lede van die kabinet gerig juis om eerstehands hierdie kwessies verder te voer. Teleurstellend is egter dat die versoeke tot nog toe op dowe ore geval het. Dit is egter nie net ons belewenis nie maar ook die van ʼn aantal organisasies wat 26-27 Februarie 2021 in Kaapstad met die Thabo Mbeki Stigting gesprek gevoer het. Die verwydering en vervreemding word wyd ervaar en daarom moet ons in dialoog tree met ander Suid-Afrikaners wat ons bekommernisse deel. Lees meer daaroor in die nuusbrief.
Ons is uiteraard ook onrustig oor die hele kwessie van onteiening wat pas deur ʼn openbare kommentaar proses gegaan het. Later die maand word die grondwetwysiging proses ook hanteer wat onteiening sonder vergoeding ʼn verdere speek in die wiel van ekonomiese groei gaan maak. Dit skep onnodige spanning want politieke agendas word deurentyd op die voorgrond gestel terwyl die land en sy mense se belange daaronder ly.
Omdat die Afrikanerbond nog altyd oplossingsgerig gestaan het ten opsigte van die probleme en uitdagings bly ons deur dialoog betrokke in die vind van oplossings en sal ons bly beding met ʼn regering wat die Suid-Afrikaanse grondwet van toepassing moet maak vir alle mense in die land. Maar ons kan nie net ons hoop daarop plaas nie. Daarom is ons onlangse webinare ook ʼn bydrae om ons lede ingelig te hou en moontlike oplossings op diepsinnige wyse te ontleed.
In die laaste twee webinare is ons dilemma baie duidelik uitgelig. In die gesprek met mnr Moeletsi Mbeki is die een kant van die spektrum ondersoek. Verskeie voorstelle is deur mnr. Mbeki gemaak ter oplossing van die breë spektrum van Suid-Afrikaanse probleme. Met die laaste webinaar is die ander kant van die spektrum ondersoek naamlik die weg van Kaapse onafhanklikheid. Hieroor meer in die nuusbrief oor die AB in Dialoog met dr. Corné Mulder. In beide die webinare is die frustrasie en ontnugtering met die huidige bestel egter baie duidelik.
Daarom dan ook die onlangse gesprek met die Mbeki Stigting deur ʼn aantal Afrikaner groeperinge. Ons is betrokke in die veelheid van gesprekke omdat ons lede Afrikaners is wie se belange strek oor verskeie sfere van die samelewing.
In dit alles is die vertrekpunt die Suid-Afrikaanse grondwet. Ons moet mekaar binne die grondwet vind en ons moet net soos in 1994 in die letter en die gees van die onderhandelinge weer soek na die gemeenskaplikhede wat ons saambind. Te veel energie word spandeer aan die soeke na verskille om verdeeldheid aan te moedig. Dit is ʼn resep vir konflik.
Die Afrikanerbond se visie is “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika.” Daar is geen manier wat ons ‘n visie oor ‘n toekoms kan hê as ons nie deelneem aan gesprekke en saam beplan aan die toekoms nie. Daar kan geen waarborg of versekering wees dat enige gesprek enige sukses sal hê nie. Die probleme van Suid-Afrika is egter te kompleks om dit net in die hande van ʼn onbekwame en onbevoegde regering te laat. Ons sal wel krities wees maar sal nooit die deure toemaak vir enige gesprek nie. Daarom sal ons in die breë burgerlike samelewing ook deurentyd vennote soek deur dialoog en die vind van gemeenskaplikhede.
Ons vind ons balans deurentyd ook in die goue formule van die Afrikanerbond naamlik die eie en nasionale belang. Daarom sal die Nasionale Raad voortdurend bly soek na ‘n beter bedeling vir ons as Afrikaners en ook vir ons as Suid Afrikaners.
Hierdie gesprekke en die nuwe besef van deelname aan dialoog rondom ons gemeenskaplikhede lui ʼn nuwe tydvak in. In my gemoed is ek oortuig dat Suid-Afrika gaan verander en dat dit ten goede gaan wees en ʼn uitgemaakte saak. Kom ons praat daaroor, voer dialoog daaroor en glo dit. Dit kan elke lid doen in sy eie klein Suid-Afrika in die netwerke waarin ons betrokke is.
Adres