Woord deur die Voorsitter - Ons is hier en ons bly
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Op Maandag 22 April 2024 was ek en enkele van ons lede van die Nasionale Raad en die hoofsekretaris by die Voortrekkermonument, om saam met ander organisasies, leiers en netwerke, die Afrikaner Verklaring te onderteken. Lees gerus die volle Afrikaner Verklaring in die nuusbrief en ook ons standpunt wat volledig in die nuusbrief gepubliseer word.
Die Afrikanerbond het oor enkele jare en ook reeds voor my termyn as voorsitter deelgeneem aan verskeie inisiatiewe wat gelei het die gesamentlike Verklaring. Daar was dus ʼn lang aanloop en ʼn klomp energie is ontsluit en verskillende idees oor die spektrum is in die middelgrond nader aanmekaar gebring. Ons het met die verklaring uiteindelik gefokus geraak en kan ons met ʼn gemeenskaplike uitgangspunt werk in ons aktiwiteite.
Die Afrikanerbond was sedert 1994 in verskeie gesprekke met die ANC as regerende party, met elke president sedert 1994 en was ons ook deel van gesprekke tussen die ANC en verskeie Afrikaner organisasies in die tydperk. In elke gesprek is daar gesê dat ons wil meewerk aan die suksesvolle opbou van die land. Ons weet talle organisasies het lywige dokumente in bilaterale gesprekke aan die regering voorsien met moontlike oplossings waarin samewerking aangebied is. Dit strek vanaf landbou, grondhervorming tot onderwys. Net so is sinvolle moontlike oplossings ook aangebied oor die straat- en dorpsnaam kwessie, bewaring van erfenisse, veiligheid en meer belangrik ook die kwessie oor taal en universiteite. Telkens is opvolggesprekke beloof, aksiestappie is onderneem en mooi beloftes is gemaak. Die realiteit is egter dat na elke gesprek was daar nie verder aandag gegee aan kwessies nie. Dit het dus by praat gebly. Nou het ons ten minste die hefboom van ʼn gesamentlike aksie om aktuele kwessies te hanteer.
Afrikaners is al vir dekades besonder goed georganiseerd in verskeie gemeenskapsinstellings en in die kultuurhuishouding. Afrikanerbelange word tans bewustelik en onbewustelik losweg deur ‘n verskeidenheid organisasies en individue op verskillende fronte bedryf. Tot ‘n groot mate word hierdie verskillende Afrikanerbelangegroepe gelei deur die motiewe van die beskerming van Afrikaners se regte en vryhede; die strewe na ‘n vorm van selfbeskikking of outonomie, die sosio-ekonomiese- en kulturele ontwikkeling van Afrikaners sowel as voedselsekuriteit en die fisiese beskerming van hulle lewe en eiendom. Verskeie organisasies in ons geledere het met groot welslae die pad begin loop om self op tree en selfversorgend en onafhanklik van die staat en regering voort te gaan.
Een leemte was ʼn gemeenskaplike benadering, onder andere ook om gesamentlike gesprekke met die regering van die dag te kon voer en met een stem ons eiesoortige standpunte te kan stel. Terselfdertyd het ons egter al meer die afsydigheid en vyandigheid van ‘n onvriendelike regering begin ervaar.
Ons Afrikaners in Dialoog waarin ekself en dr Theuns Eloff op Dinsdag 23 April gepraat het, het die kompleksiteite verder toegelig. Ek het in my inleidende bydrae in die webinaar verwys daarna dat Afrikaners soos ʼn swerm bye is. Ons woonbuurte is net soos bye in korwe, waar baie van die bevolking woon en floreer, ons het, net soos bye ook elkeen eie unieke rolle. Waar dit egter vir my persoonlik meer relevant is dat een by wat by ʼn vertrek invlieg nie veel verskil maak nie. ʼn Swerm bye maak egter dat jy nie naby hulle kom nie, en jy maak hulle nie kwaad nie. Ons klap hulle spreekwoordelik nie weg nie.
Die ANC regering het die land tot in die afgrond bestuur. Ons demokratiese land lyk maar haglik. Met die Verklaring het Afrikaners hand opgesteek en gesê ons bly en ons wil help. Ons wil die land en omstandigheide in volhoubare normaliteit omskep. Ons wil nie beter of slegter as ander behandel word nie.
ʼn Klomp Afrikaners het mekaar gevind. ʼn Ander klomp Afrikaners staan egter nog buite die dampkring en ons wil eerder ʼn groter inbinding kry as verdeeldheid. Daarom is aansluitende samewerking die kernelement van die Verklaring wat ons wil uitlig. Politiek het ons sedert die 1980’s verdeel. Ons kan mekaar vind – nie oor die verlede nie, maar oor die knelpunte van die hede en ons kommer oor die toekoms.
Afrikaners het die verklaring opgestel en ondersteun in die gees van die grondwet. Waarom word ons dan onkant geblaas deur ʼn kritiese gehoor daarbuite? Veral individualiste en aan die uiterstes van die spektrum lawaai die meeste. Dit is die hartseer van die Afrikaners se geskiedenis. Ons beleef al meer vyandigheid teenoor Afrikaners en na die bekendmaking van die Verklaring is dit asof daar in die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap groot welwillendheid en aanvaarding is maar in eie geledere ervaar ons groot en venynige kritiek. Dit is onbegryplik.
Wat nou vorentoe?
Die Afrikaner-Verklaring fokus op 12 kernsake. Lees die Verklaring en die omskrywing van die kernkwessies. Help ons as Nasionale Raad dan nou om die prioriteite van die Afrikaner Verklaring te bepaal waarmee Die Eike en die Afrikanerbond kan werk. Die venster van geleentheid is nou daar met die Afrikaner verklaring. Daar is verskeie kwessies wat ruimte skep vir navorsing deur Die Eike en vir werk deur die Afrikanerbond. Die Nasionale Raad gaan later in Mei besin oor die kritiese kwessies en ons wil hulpbronne beskikbaar maak.
Net soos die Nasionale Raad wil ek ons lede vra om die onderstaande Google vraelys in te vul ten einde ons prioriteite te bepaal. Lede kan dit doen tot 20 Mei. Daarna kan ons by die Nasionale Raad ʼn idee kry van die 5 of 6 belangrikste prioriteite vanuit die Afrikaner Verklaring en dan kan die NR op basis hiervan bepaal watter navorsing Die Eike moet doen of aksies wat die Afrikanerbond moet onderneem.
Skakel na Afrikaner Verklaring Vorm:
Indien u insette wil lewer en verdere voorstelle wil maak, wil ek u nooi om dit spoedig te doen en ʼn e-pos te stuur kommentaar@abond.co.za
Ondersteun gerus die Afrikaner Verklaring by https://afrikanerverklaring.co.za/
Op Woensdag 29 Mei 2024 is dit die algemene verkiesing. Dit is elke landsburger se plig en verantwoordelikheid om te gaan stem en ʼn wegblystem en ʼn bedorwe stembrief hoort na my mening nie in ʼn volwasse demokrasie nie. Teen hierdie tyd is die meeste van die politieke partye se manifeste reeds ontleed en is ook beskikbaar op die meeste politieke partye se webwerwe. ʼn Onseker kieser het nog die geleentheid om hierdie manifeste deur te gaan en te besluit op ʼn party wat naastenby voldoen aan iemand se persoonlike verwagtinge, waardes en beginsels.
Al wat nou oorbly is dat ons op Woensdag 29 Mei 2024 by die stembusse opdaag en die proses te volg vir die uitbring van ʼn stem. Namens die Nasionale Raad van die Afrikanerbond wens ek u sterkte toe in u besluit vir watter party om te stem. Ek wil egter elke lid van die Afrikanerbond versoek om in die laaste paar dae in die aanloop tot die verkiesing, op stemdag self en tot en met die afhandeling van die 2024 verkiesing, voorbidding te doen vir ʼn vry en regverdige verkiesing en dat ons die uitslag ongeag die party sal aanvaar en ook die nuwe regering, die nuwe lede van die parlement en ons verkose leiers sal aanvaar.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres