Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Mei 2021

Woord deur die Voorsitter  Vryheid in 'n regverdige bestel


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Met Vryheidsdag agter die rug moet mens 27 jaar later besin waar Suid-Afrika staan met Vryheid nadat Suid-Afrika op 27 April 1994 by die stembus die nuwe bedeling ingegaan het. Beleef ons elke dag die Vryheid wat ons gedink het ons gaan kry of belowe is? ʼn Suid-Afrikaanse Netflix dokumentêre film kry ʼn Oscar, terwyl sommige korrupte politici se ontkennende optredes voor die Zondo kommissie na Staatskaping ook ʼn Oscar waardig is. Kubane kry meer vryheid in ons land as in hulle eie land maar ons land se regering val oor hulle voete om Kubaanse “kundigheid” in te voer. Dit is nie vryheid nie.

 

Ons vier ook Vryheidsdag midde in die gebeure van Piet Retief en in die nadraai van rasdwepery van Senekal en Brackenfell. Politici staan tou om gesien en gehoor te word in die spilpunte van opswepery en politieke vertoon terwyl mense se lewens in wesenlike gevaar gestel word. Dit is nie vryheid nie.  

 

Adv Dumisa Ntsebeza, gewese hoof van die Waarheid-en-versoeningskommissie se ondersoekeenheid het die verskonings van onder andere mnre FW De Klerk en Adriaan Vlok oor die verlede as “te min, te laat” afgemaak. Dit is dieselfde Adv Dumisa Ntsebeza wat nou die groot Krieket Waarheid en Versoeningskommissie moet lei deur die Cricket for Social Justice and Nation Building initiative. Dit is nou midde in die grootste bestuurskrisis wat Suid-Afrikaanse krieket ooit beleef het en van een terugslag op die veld na die ander struikel. Kan dit vryheid wees? 

 

Midde in nog ʼn onteieningswetsontwerp en grondwetwysigings verneem ons deur klein media berigte van nog grootskaalse korrupsie in die Vrystaat. Senior amptenare van die Departement van Landbou is in hegtenis geneem  op 54 aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog, geldwassery, vervalsing en oortredings van die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur wat alles nagenoeg R243 890 577 beloop. Dit is geld wat effektief in die ekonomie aangewend kon word en kon help met aankoop van grond vir oordrag na grondhervorming. Terwyl die staatskas gestroop word, word onteiening sonder vergoeding voorgehou as dryfveer om wit grond en bates te onteien. Is dit vryheid? 

 

Kom ons leer uit die verlede. Henning J. Klopper en H.W. van der Merwe, albei junior spoorwegamptenare het op Sondagmiddag 5 Mei 1918 die teoretiese grondslag gelê vir ʼn organisasie wat ʼn maand later op 5 Junie 1918 gestig sou word en later as die Afrikaner-Broederbond bekend sou staan. Die reuse onderneming van ’n idealistiese groepie jong mans se geskiedenis is welbekend. Twee faktore wat tipies van so ’n spontane groepsvorming is, was ook hier aanwesig: 1) die persoonlike omstandighede, ervaringe en verwagtinge van die groep, en 2) die idealistiese element, die daarstel van ’n saak of ideaal wat hulle graag wou bevorder. Die persoonlike element was die ervaring van vervreemding in die onsimpatieke omgewing van Johannesburg, die kosmopolitiese mynboustad met die oorheersende mag van die mynboufinansiers, en die groepie se soeke na ’n eie bestaansmoontlikheid en plek vir hulle as Afrikaners. Die ideaal het vorm aangeneem in hulle strewe om vir die Afrikaner - wat nederlaag, armoede, magteloosheid en vervreemding in ’n vyandige omgewing op politieke en sosiaal-ekonomiese gebied ervaar het - nuwe hoop en visie te gee. Vandag soek ons ook vryheid binne ʼn regverdige bestel.  Daarom stel ons ook ons omvattende geskiedenis bekend op 5 Mei 2021 ʼn 103 jaar later na twee manne se ideaal en visie in teorie ontwikkel is.  Kom ons herontdek ons geskiedenis soos opgeteken deur Prof ELP Stals. Meer besonderhede oor die boekbekendstelling in die nuusbrief.

 

Ironies is dat die Twitter brigade weer vuur spoeg oor President Ramaphosa se teenwoordigheid en toespraak tydens ons eeufeesvieringe in Junie 2018 in Paarl. Die staatskaping en kaderontplooiing van die ANC word skielik weer vergelyk met die “baantjies vir boeties” beskuldiginge teen die Afrikaner-Broederbond. Dit word te gereeld en te ongelig gebruik ter versagting van die onwerkbare ontplooiingsbeleid van die ANC. Lees gerus die artikel in die nuusbrief wat omvattend handel oor die beskuldiging. Dit bly ironies dat die Broederbond beskuldig word van lidmaatskap bevoordeling terwyl dit ook die tydperk is van enorme infrastruktuur ontwikkeling en die skep van nuwe industrieë soos Yskor en Denel en ekonomiese reuse soos Sanlam en Volkskas en akademiese instellings soos die Randse Afrikaanse Universiteit. Dit was ʼn kultuur van bou en skep en ons ingesteldheid was om van leiers in hulle onderskeie lewensterreine lede te maak. Daardeur is prestasie, verantwoordelikheid en ondernemingsgees aangewakker. Vandag se kultuur van kaderontplooiing het partylojaliteit as eerste vereiste, selfverryking as tweede vereiste en ontkenning van enige aandadigheid in verval en stropery as derde vereiste.

 

In ʼn onderhoud op Netwerk24 op 30 April 2021 met Ebbe Dommisse oor sy boek Fortuine Die Wel en weë van Afrikaner magnate sê Dommisse daar word “baie geskryf dat die regering Afrikaners voor 1994 bevoordeel het, maar dit is net in beperkte mate waar – die regering het wit mense as sulks bevoordeel, maar “op enkele klein uitsonderings ná is daar min bewyse dat die staat Afrikaner-ondernemings doelbewus begunstig het”. Hy skryf die ekonomiese opkoms van Afrikaners in die eerste drie dekades ná die Ekonomiese Volkskongres in 1939 is deur sommige liberale en radikale historici aan die NP-regering se hulp aan Afrikaner-sake toegeskryf, terwyl Afrikaner-historici die mening toegedaan is dat Afrikaners uit eie krag opgang gemaak het.”  Verder aan in die artikel word gepraat oor die kenmerke van Afrikaner sakemanne na 1994: “Hul aanvoeling, entrepreneuriese denkwyse, vooruitskouing, gesonde oordeel en strewe na verbetering speel alles ’n rol. Hulle is ook onderhandelaars, beraders, opvoeders en filantrope. “Hulle wil ’n verskil maak en vooruitgang verseker. Dan staan hulle ook reeds jare lank aan die voorpunt van nog ’n nuwe tydvak, die vierde nywerheidsrevolusie, waar hulle reeds leiers in genetika, die landbouwetenskap en - tegnologie is.”

 

Lees dan ook die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond en dan haal ek met graagte Hermann Giliomee aan wat in sy voorwoord skryf: “In 1956 het die Broederbond ’n Bondsraadvergadering gehou waar afgevaardigdes van takke van oor die hele land bymekaar gekom het. Die gevoel was sterk dat die Uitvoerende Raad, in samewerking met die Afrikaanse Handelsinstituut, met ministers `’n grondslag moet probeer vind “waarop Afrikaanse besighede in ’n meerdere mate deur die toekenning van kwotas begunstig kan word.” Volgens Ernst Stals, wat die dokumente onder oë gehad het, het die Bondsraad “in die kwotastelsel ’n magtige instrument gesien om aan die jong en opkomende Afrikaanse besighede ’n vastrapplek in die handel en nywerheid te verseker.” Die twee voorste Afrikaanse sakemanne, Anton Rupert van Rembrandt en Andreas Wassenaar van Sanlam, wat die Bondsraad bygewoon het, was albei sterk teen die idee gekant. Vir Wassenaar was die grootste probleem die Afrikaners se eie opvattings oor hoe om sake te bedryf. Rupert het die ekonomiese taak van die Afrikaner uiteengesit en daarop gewys dat ’n “eie sakestyl, realisme, entoesiasme en lojaliteit die belangrikste vereistes was om sukses te behaal.” Nie een het kwotas gemeld nie. Klaarblyklik het hierdie menings groot gewig gedra. Teen die middel van die 1950’s het nasionalisasie en Afrikaner-kwotas as beleidsopsies van die regering se agenda verdwyn.”

 

Hoe anders kon ons nie vandag in Suid-Afrika gewoel en gewerk het tot voordeel van die land as kwotas, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, staatskaping en die invoer van Kubane nie voor op die agenda was nie? Hoe anders kon Suid-Afrika nie vandag gelyk het, as die ANC en die regering nie die hande wat uitgesteek is om te help, om te bou nie voortdurend weggestoot het nie? As Afrikaners wil ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika bou – as ons toegelaat word!

 

Ons sal dus die helpende hand weer in eie midde  moet soek. Dit is nie genoeg om net ‘n  oorlewingstrewe vir Afrikaners in Suid-Afrika te hê nie. Die Afrikaner-terrein het sodanig ontwikkel dat verskeie organisasies dieselfde doelstellings najaag.. party met meerdere maar ook met mindere  suksesse. Vir die Afrikanerbond om as ‘n kundige leierskapnetwerk sy rol as ‘n vooruitdenkende onderneming te vervul sal hy tot sy mark  moet toetree.

 

Om werklik vry te wees sal die Afrikaner gehelp en ondersteun moet word op veral drie terreine naamlik polities, ekonomies en onderwys. Hierdie hulp sal onder andere as produk die Afrikanerbond moet kan onderskei maar ook belyn met ander Afrikaner organisasies. Ons kan begin deur verdienstelike aksies deur ander Afrikaner organisasies in ‘n groter mate te erken en ook aan te moedig en dan ook deur middel van ‘n sentrum van kundigheid pro bono tyd gratis advies aan sy lede met behoeftes te lewer. So kan ons weer ons mark aktief betree en so verdere sin verleen om lid van die Afrikanerbond te wees. Hierdie is een van vele wyses om vryer te raak. Indien ons net apatiese toeskouers gaan bly gaan volgende jaar se Vryheidsdag nog slegter vir die Afrikaner wees.

 

Kom ons beweeg en verander ons soms terughoudende benadering vandag en wees die leierskorps wat ons is.

 

Wees sterk! 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: