Woord deur die Voorsitter - Die reg en voorreg om te kon stem - Oppad na 'n burgerlike koalisie
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Op 1 November 2021 het miljoene Suid-Afrikaners weer ʼn kruisie agter ʼn kandidaat en ʼn politieke party in die plaaslike regeringsverkiesing gemaak. By die skryf hiervan word die uitslae nog geëvalueer en sal baie menings nog uitgespreek word oor die implikasie van die verkiesing.
Oral waar ek in die laaste weke beweeg het, het mense vrae gehad oor die nut van stem binne ons huidige demokrasie. Ons grondwet word onder verdenking gebring want dit het nie die Suid-Afrika gebring wat ons beloof het nie. Vir die eerste keer in jare is mense uitgesproke krities oor die rol van die president, die regerende party en ook oor die grondwetlike instellings. Daar is ʼn negatiwiteit te bespeur oor die verkiesing en oor munisipaliteite. Midde in die verkiesingsveldtog verneem ons van munisipaliteite wat nie die mas opkom nie, infrastruktuur wat ineenstort, dienste wat nie gelewer kan word nie midde in Nasionale Tesourie wat beraam dat slegs skuld aan metropolitaanse munisipaliteite sowat R114.5 miljard beloop. Volgens News24 Se Out of Order Indeks het 257 munisipaliteite mees as R19 miljard se ongemagtigde uitgawes aangegaan waarvan R2 miljard vrugtelose en vermorste uitgawes was.
Om voluit te kan lewe is deesdae ʼn uitdaging. Dit word eerder ʼn stryd om oorlewing. Die falende staat in Suid-Afrika het benewens ooglopende en staatsondersteunde korrupsie vele ander dimensies in die laaste paar jaar gekry. Staatsmag (met inbegrip van regerings en regime magte) word aangewend om persoonlike belang te beskerm en te bevorder deur praktyke soos ondermyning van politieke instellings, korrupsie, omkopery, nepotisme, aanstelling van vriende en lojale kaders en begunstiging. Betrokkenheid by misdaad kan ook nie meer misken word nie. Vir die suksesvolle voortbestaan van ’n demokratiese bestel hou hierdie toedrag van sake ernstige implikasies in. Daar kan met groot sekerheid gesê word dat wetsongehoorsaamheid, misdaad en sistemiese korrupsie in Suid-Afrika nie daadwerklik bekamp word nie.
In ʼn tyd van ongeëwenaarde korrupsie, selfverryking en magsbeheptheid, in ʼn tyd wat die brose demokrasie van Suid-Afrika getoets word en die parlement tot irrelevansie uitgedaag word, diensleweringvlakke feitelik tot stilstand kom, is dit asof prioriteite verkeerd is. Ons verhef beweerde rassisme tot die voorblaaie terwyl mislukte dienslewering die norm geword het.
Dalk moet ons begin praat oor die breë burgerlike beweging gegrond op gedeelde waardes. Dalk is ons nou in ʼn tyd van ‘n losse koalisie tussen partye. Soos Waldimar Pelser tydens die onlangse AB in dialoog webinaar gesê het “koalisies is beide ‘n feit en ‘n risiko en daar is lande wat met groot sukses oor generasies heen ekonomieë uitgebou het met slegs koalisie regerings. Israel en Duitsland is voorbeelde daarvan. So, daar is niks inherent fout daarmee nie.” Koalisies kan werk mits dit gegrond is op ʼn gedeelde manifes vir die koalisie gebaseer op waardes. Ons moet waaksaam wees teen koalisies wat bv gebou gaan word op onteiening sonder vergoeding as einddoel of wat ander grondwetlike waardes gaan ondermyn ter wille van korttermyn oorlewing.
In Nederland was daar na die vorige verkiesing ʼn Brugbou-koalisie wat in die koalisie akkoord omskryf is “as die soeke na die beste van beide wêrelde” en word die doelwit in die akkoord soos volg omskryf. “As volkspartye met steun in al die sfere van die bevolking sien ons dit as ons opdrag om brûe te bou. Tussen Den Haag en die samelewing. Tussen stedelike en landelike gebiede. Tussen ryk en arm. Tussen jonk en oud. Tussen hoog- en laag opgeleides. Tussen mense wat in elke verandering 'n uitdaging sien en mense wat veral bekommerd na veranderinge kyk. Hierdie koalisie wil die onderlinge verbondenheid, die optimisme en die krag van Nederland versterk.”
Ook in Suid-Afrika sal ons toekoms waarskynlik uit koalisies bestaan. Dit word elke dag duidelik dat ons ʼn verskeidenheid van brûe sal moet bou. Tussen wit en swart, brûe tussen tale en kulture, tussen minderhede, tussen minderhede en meerderhede en tussen ons verskillende geskiedenisse en erfenisse. Daar sal egter nog baie water in die see moet loop om dit suksesvol te kan doen. Ons het tans te veel opportuniste en mense wie se hande nie skoon is nie.
Dit is dan ook in hierdie tyd wat ons as Afrikaners juis nie moet swig voor diegene wat ons wil tipeer en stereotipeer nie. Dit is in hierdie tyd wat die waardes wat Afrikaners nog altyd vooropgestel het moet bydrae tot ʼn nuwe moraliteit in Suid-Afrika. Miskien is dit juis nou die tyd wat Afrikaners weer die leiding en die pas moet aangee in ons onderskeie gemeenskappe, want Suid-Afrika kan nie veel langer sonder ʼn morele kompas nie. Natuurlik is Afrikaners nie sonder skande of foute nie, maar ons het ʼn innerlike krag en wil om te oorleef. Dit alles is gevestig in ons diepe besef dat ons Afrikaners is wat onlosmaaklik deel is van hierdie kontinent. Van oral hoor mens van Afrikaners wat ʼn reuse bydrae lewer in die buiteland en ook binne Afrika. Hoekom kan dit nie ook in Suid-Afrika die geval wees nie? Ons kan egter nie die politiek korrekte en afgewaterde Afrikaners wees wat sommige wil hê ons moet wees nie. Slegs as ons volledig Afrikaner kan wees, kan ons volledig Suid-Afrikaner wees. Dit is ons kosbare erfenis en dit is waarvoor ons ons deurentyd moet beywer. Ek vermoed Afrikaners gaan in die toekoms ʼn leidende rol speel in die saambring van ʼn burgerlike koalisie wat juis die brûe gaan bou wat so nodig is.
My oortuiging is dan gevolglik dat SA vir die Afrikaner en al sy mense ‘n beter plek gaan wees gelei deur gematigde partye of ten slegste deur koalisie politiek eerder as die huidige ANC meerderheid. Ons behoort ook kennis te neem van die drastiese agteruitgang van steun vir die ANC wat ons hoop behoort te gee. As Afrikaners en as Afrikanerbond spesifiek moet ons nie ons voet van die pedaal afhaal om ons uit te spreek oor wat verkeerd is, maar terselfdertyd ook dit wat reg is te beklemtoon nie. Tekens is daar dat daar ‘n gematigheid in SA op vele vlakke na vore kom en vestig.
Wees sterk!
Adres