Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           November 2022

Woord deur die Voorsitter:


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Dit is met ʼn tikkie ironie wat ek vroeër in Oktober lees dat PanSALB (Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad) 'loadshedding' oftewel beurtkrag verklaar het tot die woord van die jaar. PanSALB het andersins nie ʼn wesenlike bydrae te lewer nie, maar is wel korrek met die term. Daar gaan feitelik nie ʼn dag verby wat Eskom en beurtkrag, nie in een of ander berig ook die simboliek met staatsverval demonstreer nie.

 

Matrikulante begin nou met hulle eindeksamen en die minister van basiese onderrig is verplig om te bevestig dat hulle planne moes maak vir die matrikulante om beurtkragvrye eksamen te kan skryf. Hoe suksesvol dit is en hoe beurtkrag as verskoning aangewend gaan word vir een of ander vorm van protes deur onderwysers of misnoegde matrikulante sal die tyd ons leer. Ons dink egter in die tyd aan die matrikulante.

 

Pas het ons gelees van die arrestasie deur die Valke van die vorige uitvoerende hoof van Eskom, Matshela Koko wat teregstaan saam met ander medebeskuldigdes onder andere sy vrou en twee stiefdogters vir R2 miljard se onreëlmatige kontrakte en lees ons van die miljoene wat spandeer is op luukse buitelandse vakansies. Die korrupsie en bedrog is maar ʼn klein deel van die sowat R57 miljard wat staatskaping gekos het.

 

Die nuwe lid van die Eskom raad Mteto Nyati wat sy tande in die korporatiewe wêreld gesny het by onder andere MTN, Microsoft SA en Altron is van mening dat Eskom lamgelê word deur verkryginsprosedures wat swart bemagtiging, regstellende aksie en plaaslike inhoud insluit. Dit bevestig gevestigde standpunte wat vele ander, ook die AB reeds ingeneem het.

 

As ons in November 2022 moet terugkyk na die jaar wat nou reeds so te sê verby is, dan is dit werklik een van moedeloosheid met ʼn ANC-regering wat nie wil leer uit sy foute nie en voortstrompel van die een krisis na die ander.

 

Dit blyk nou uiteindelik dat die ANC van kaderontplooiing ontslae wil raak. Hoekom dit so lank neem is waarskynlik te wyte aan die ANC en die president se wispelturige houding hieroor. In sy weeklikse nuusbrief van 20 Januarie 2020 skryf President Ramaphosa (Afrikaanse vertaling) “Ons is daartoe verbind om ’n einde te bring aan die praktyk dat ongekwalifiseerde mense danksy hul politieke netwerke in poste aangestel word. Daar behoort gevolge te wees vir alle staatsamptenare wat nie hul werk doen nie.”  Net daarna in sy toespraak op Maandag 6 Oktober 2020, na afloop van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee werkskomitee herbevestig hy egter die ANC se uitgediende standpunt dat ten einde die ANC uit te bou en te versterk dit onder andere nodig is om bevoegde kaders in die staatsdiens te ontplooi.

 

Ons verwys die president weer eens na Art 197 (3) van die grondwet wat bepaal “Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat die persoon 'n bepaalde politieke party of saak steun nie.” Dit is nie so moeilik om hieruit vas te stel dat daar geen plek vir enige ontplooiing van kaders kan wees nie.

 

Ek moet egter teleurstelling uitspreek met president Ramaphosa se louwarm reaksie op die Zondo verslag. Dit blyk dat die Skerpioene, wat die ANC ontbind het, nou weer op een of ander manier permanent gevestig gaan word om korrupsie te gaan beveg. Dit is die een kant van die munt. Die ander kant is die ANC se eie aandadigheid aan staatskaping. Ons het op 12 Julie 2022 in ʼn brief aan die president gesê dat die president moet kies tussen die disfunksionele ANC-alliansie en onbekostigbare party-eenheid aan die een kant, en 'n suksesvolle en welvarende Suid-Afrika aan die ander kant. Daar was geen sprake van enige optrede teen enige minister wat by staatskaping en korrupsie betrokke was of geïmpliseer is nie.  

 

Ek wil laastens verwys na verskeie gesprekke wat die afgelope maand plaasgevind het. In die nuusbrief kan u lees van die 1982 gesprek en die diep NP/KP verdeeldheid. Die gesprek het op 17 Oktober plaasgevind. Baie van u sal onthou hoe ernstig die skeuring gevoel is en die impak op ons organisasie. Die diep verdelingslyne het vir so lank die gesprekke tussen Afrikaners oorheers en wil ek die Erfenisstigting gelukwens met die aanbied daarvan. Ek het die gesprek bygewoon en was dit na my mening 'n besondere geleentheid tot eenheid. Ek verwys graag na dr Pieter Mulder wat ook in die gesprek deelgeneem het en die standpunt ingeneem het dat dit die grootste jammerte is dat die AB as dinkskrum van die Afrikaner geskeur het. Sy eie geskiedenis met die Ruiterwag en sy politieke keuses in die verlede het gemaak dat hy nie weer genooi is om by die AB aan te sluit nie. Dit was nie negatief gestel nie maar erkenning is hierdeur wel aan die AB se belangrike denkersrol gegee.

 

Soos wat ek met die opening van die Bondsraad gesê het, is die Bondsraad tema Afrikaners: Brugbouers na die toekoms. Een van die brûe wat ons moet bou is die brug tussen Afrikaners. Mag ons nooit weer die 1982 verdeling ervaar nie. Ek bid vir totale versoening in Afrikaner geledere. Mag die 1982 gesprek die begin wees van baie gesprekke om Afrikaner heling te bring. In ons diep verdeelde Suid-Afrika met soveel probleme en uitdagings het ons Afrikaners nodig wat in eenheid en aansluitende samewerking oplossingsgerig kan werk.

 

Soos tydens die Bondsraad bevestig staan die AB vir die ganse Afrikaner saak! Kom ons as AB-Lede doen ook ons deel met onderlinge versoening. Wees Sterk!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: